Hanna Hopkins: Doenvrou en haar huis
👤 DJ Muller & Wilmi Wheeler

Dit was in Tannie Hanna Hopkins se sitkamer in Somerset-Wes waar sy elke nou en dan vir ons sê: “Vat nog een”, en dan met moeite wys na die koekies op die tafel.
Dit is hier, omring deur haar lewe wat teen die muur hang — foto’s in sepia, families by die see, sy in die middel van soveel jare se leef — waar mens iets van haar roeping wat oor ’n eeu strek, begin verstaan.
Al is sy vanjaar 101 jaar oud, en al het twee ligte beroertes in Augustus vanjaar haar spraak belemmer en haar mobiliteit gekniehalter, is haar glimlag steeds soos fyn porselein. Ek verkyk my aan die sakdoekie in haar hand en hoe sy dit ampertjies vertroetel terwyl sy sukkel om haar sinne klaar te praat.
Tannie Hanna is in 1924 op ’n plaas drie kilometer buite Edenburg in die Vrystaat gebore. Sy is een van ’n tweeling en het met die trein skool toe gegaan, tot in Bloemfontein na Oranjemeisies. Sy was daardie tyd al ’n doenvrou. Haar oë blink as sy saggies oor die sportveld praat: “Hoogspring… hekkies”. Haar hande maak ’n klein beweging, so asof hulle nog die gevoel onthou van oor die dwarslat spring.
Na skool het sy Stellenbosch toe verhuis, eers om huishoudkunde te studeer, en toe ’n jaar lank verpleging. Dit was by Wilgenhof-koshuis waar sy Henry Charles Hopkins, ’n teologiestudent, ontmoet het, en hy het haar later in een van die koshuiskamers gevra om te trou. Kan jy glo? Sy wys vir ons die notaboekie waarin sy oor al hul reise oor die wêreld heen geskryf het. Die een land na die ander. Stad na stad… tot sy uiteindelik moeg geskryf was en die lys eindig met: “Ek gee nou op! Was al by so baie plekke, ek kan nie almal onthou nie!”




Sy vertel met ’n ondeunde glimlag hoe sy altyd die een was wat bestuur het wanneer hulle oorsee gereis het en haar man die padkaart vasgehou het – omdat sy menigte kere, sonder dat sy besef het, die kaart onderstebo vasgehou het!
Sy het haar praktiese verpleegjaar in Heilbron voltooi, waar sy in die teater instrumente aangegee het. Dit was hier waar sy die ware omvang van haar roeping begin verstaan het: om mense raak te sien, te help en te versorg.
Dié pad het haar later as jong verpleegster na Kaapstad gebring. Sy was een van die teatersusters tydens die wêreld se eerste hartoorplanting. Saam met haar man, destyds dominee Hopkins, het sy ook berading gedoen vir die families van pasiënte wat sulke groot prosedures ondergaan.
Dit was in dié tyd dat sy die ontbering wat die plattelandse mense verduur het, eerstehands beleef het. Hulle moes dikwels ver reis om behandeling te ontvang en het geen bekostigbare plek gehad om te bly terwyl hulle by Groote Schuur Hospitaal gewag het nie. Hierdie nood het tannie Hanna aangespoor tot aksie. Sy is immers ‘n doenvrou.
Huis Hanna Hopkins


“Huis Hanna Hopkins”, sê haar versorger, Kaylah met trots, “Dis na háár vernoem”. Tannie Hanna het self aan die NG Kerk voorgestel dat ’n huis gekoop word vir mense wat pasiënte naby Groote Schuur besoek. Sy het met die bestuur gaan praat, briewe in Die Kerkbode geskryf, fondse ingesamel, en gesorg dat die visie ’n werklikheid word.
Die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid (S.K.D.B.) het uiteindelik ’n geskikte losieshuis in Observatory, binne stapafstand van die hospitaal en net twee blokke van die stasie af, gevind. Die huis is vir R33 000 gekoop. Ds. D. J. du Toit het in Januarie 1977 berig dat dit teen aansienlike koste (sowat R17 000) herstel en gemeubileer moes word, met die totale projekkoste op ongeveer R50 000. Hierdie huis sou veertien slaapvertrekke, twee badkamers, ’n sitkamer en ’n kombuis hê, wat in ’n groot behoefte sou voorsien.
Die koerantberigte van daardie tyd getuig van die wesenlike behoefte en die vloedgolf van barmhartigheid wat tannie Hanna se inisiatief ontketen het. Na ’n artikel in Die Kerkbode in Junie 1976 genaamd “Siekte aan my eie deur” , het bydraes die SKDB-kantoor begin bereik, vergesel van briefies vol teerheid en begrip. Bydraes het gekom van mense wat uit dankbaarheid gegee het omdat hulle nog nooit ernstige siekte voor hul eie deure gehad het nie, sowel as dié wat die voorreg gehad het om naby hul dierbares te wees in tye van gesinskrisisse.
Veral aangrypend was die bydraes van pensioentrekkers wat uit ondervinding geweet het hoe swaar dit is om alleen in ’n vreemde stad siek te lê – weg van hul eie mense af. Ander het getuig van eie ontbering by gebrek aan verblyf en wou nou bydra om dit vir ander makliker te maak.
Die briefies wat in die 70’s in Die Kerkbode verskyn het, skets ’n hartverskeurende prentjie van die nood wat die Huis Hanna Hopkins sou verlig:
- Een pensionaris het vertel hoe sy vrou tien kilometer van die hospitaal af moes loseer onder moeilike omstandighede terwyl die temperatuur elke nag onder vriespunt was.
- Dieselfde persoon het genoem dat hulle byna twee uur lank na losies moes soek vir ’n vriend se vrou in Bloemfontein, en uiteindelik ’n kamer buite loopafstand van die hospitaal gekry het. Hulle harte was seer om haar so te los, maar geld vir ’n hotel was daar nie.
- Die skokkendste verhaal was van ’n vrou wat met haar klein seuntjie in ’n bakkie met ’n kappie op moes bly terwyl haar man ernstig siek in die hospitaal was. Daar was selfs nie altyd geld vir die kampeerplek nie, en sy moes soms in die straat kamp. Na meer as ’n maand is haar man toe oorlede.
- ’n Maatskaplike werkster van Groote Schuur-Hospitaal het ook in ’n brief genoem dat die huisvestingprobleem ’n baie nadelige uitwerking op die pasiënte gehad het. Pasiënte het ongeduldig geraak weens die verlange na hul gesinne of die bekommernis oor die huisvesting van ’n man of vrou wat hulle vergesel het.

Dit was teen hierdie agtergrond van menslike broosheid en finansiële nood dat Hanna Hopkins haar hande, dieselfde hande wat planne gemaak het en die stuurwiel vasgehou het tot op die ouderdom van 97, gebruik het om hierdie “Baken van Lig” op te rig.
Baken van lig in die wildernis
Die nalatenskap van tannie Hanna se lewe skyn voort, maar vandag dra dit die letsels van tyd en die konstante druk van onderhoud. Liané van Zyl, ’n vrou wie se lewe deur ’n “wildernis van siekte” op die regte pad gedwing is, getuig van die blywende noodsaaklikheid van Huis Hanna Hopkins.
Liané het vir meer as 20 jaar gesukkel met moegheid, wat sy aan haar besige leefstyl toegeskryf het. Sy het begin gewig optel ten spyte van gereelde oefening, maar dokters het haar klagtes nie ernstig opgeneem nie. Sy is konstant vertel dat dit “alles in haar kop is” en dat sy net meer moet oefen. Een spesifieke dokter se antwoord was dat “julle vrouens ook altyd julle hormone wil blameer wanneer julle begin vet word”. Hierdie frustrasie is vererger deur die feit dat sy nie medies gehad het of fondse om verder ondersoek in te stel nie, wat haar laat voel het die fout lê by haar. Die lewensveranderende diagnose het gekom nadat sy skielik hoë bloeddruk ontwikkel het en ’n dowwe kol in haar linkeroog. Die probleem: ’n baie groot, aggressiewe gewas op haar pituitêre klier. Nadat die gewas vinniger as ooit tevore gegroei het ná haar eerste operasie, moes Liané 30 sessies bestraling by Groote Schuur Hospitaal aan die einde van 2023 ondergaan. Dit het beteken dat sy vir amper twee maande in Kaapstad moes bly.

Sy het dadelik na bekostigbare verblyf gesoek en vinnig besef dat die kostes astronomies sou wees. ’n Behulpsame ontvangsdame by Groote Schuur het haar toe van Huis Hanna Hopkins vertel. Vir Liané is die huis onontbeerlik. Huis Hanna Hopkins is nie net bekostigbaar en baie naby aan die hospitaal geleë nie, maar dit voel ook asof mens in jou eie huis bly.
Dit bied privaatkamers, gedeelde badkamers en ’n kombuis, met verskillende groottes kamers ingeval familie bystand moet lewer – iets wat haar ma gereeld gedoen het. Die huis is veilig, en die bestuurder, David, woon permanent daar, wat verseker dat hulp op aanvraag beskikbaar is. Die ligging is ideaal, reg langs ’n Spar vir kruideniersware, en naby oulike winkels en koffiewinkels. Die alternatief — soos AirBnB’s — sou meer as dubbel die prys per nag gewees het. Boonop sou sy verder weg moes bly, deur Kaapstad se verkeer moes ry, en meeste van die tyd op haar eie moes bly sonder iemand wat kon inloer ná elke behandeling. Sy waardeer die stilte en rustigheid van die huis, wat toegang tot twee buite-areas en ’n heerlike groot sitkamer bied. Die huis self is ’n stukkie geskiedenis met sy hoë plafonne, loodglasvensters en pragtige houtdetail. Maar bo alles bied dit die geleentheid om ander mense te ontmoet wat deur soortgelyke situasies gaan.

Noodkrete uit Observatory
Alhoewel Huis Hanna Hopkins ’n baken van lig is, is Liané “redelik bekommerd oor die toekoms van die huis” en voel sy ’n fondsinsameling is dringend nodig. Sy weet werklik nie wat voorlê indien die huis nie meer daar is nie.
Liané merk op dat daar ’n groot behoefte in die huis is wat aandag vereis, veral ten opsigte van die volgende:
- Waskamer: Daar moet weer ’n waskamer met industriële wasmasjiene beskikbaar gestel word wat met “tokens” werk. Wanneer pasiënte chemo en bestraling kry, is hul liggame so swak en moeg dat dit moeilik is om wasgoed met die hand te was, en hulle het dikwels nie die finansies of krag om wasgoed twee blokke ver na ’n “laundromat” te dra nie.
- Skoonmaakhulp: Die bestuurder moet tans alles self in die huis doen, en ekstra skoonmakers is dringend nodig, wat maandelikse befondsing vir salarisse vereis.
- Vaste uitgawes: Die huis kort hulp met vaste maandelikse uitgawes, veral die elektrisiteitsrekening. In ’n poging om koste te spaar, is die warmwaterkrane uit die kamers verwyder. As ’n mens siek is en nie goed genoeg voel om na die badkamer te loop nie, is toegang tot warm water in jou kamer baie belangrik.
- Onderhoud: Baie van die kamers kort ordentlike nuwe beddens, matrasse en kaste wat nie meer stabiel is nie. Die kamers se elektrisiteitspunte en lampe moet ook nagegaan en vervang word.
- Dignity Fund: Die mees menslike en skrynende behoefte is die “Dignity Fund”. Liané vertel van ’n man wat sy skoonma moes vergesel vir kankerbehandeling. Hy het so min geld gehad dat hy elke dag net toebroodjies met polony kon eet. Hy het nie eens fondse gehad om toiletware soos spuitgoed te koop nie. Gedurende hierdie tyd moes Liané se ma, wat saam met haar in die Huis Hanna Hopkins gebly het terwyl Liané in die hospitaal was, van haar eie spaargeld en Back-a-Buddy-fondse gebruik om gereeld vir hom kos en kruideniersware te koop. Mense wat alreeds onder soveel druk is weens hul geliefdes se siekte, kan nie eers ordentlik eet nie.
Liané, wat die afgelope sewe jaar op mense se barmhartigheid moes staatmaak weens die koste van haar chroniese siekte, glo dat die huis slegs aan die gang gehou sal word “as 200 mense elke maand net R100 gee, dan is dit alreeds R20 000 se uitgawes wat gedek word”. Dit is die stukkies getrouheid wat die emmer volmaak, en elke sent help om die deure oop te hou sodat dié baken van lig kan aanhou skyn. Die visie van tannie Hanna, wat ’n behoefte gesien het en ’n huis opgerig het om pasiënte en hul families te help, is ’n kosbare nalatenskap wat beskerm moet word.




Ons groet tannie Hanna daardie middag. Sy vra weer, met daardie sorgsame glimlag: “Nog ’n koekie?” Ons vat nog een, nie uit hongerte nie, maar uit eerbied. Tannie Hanna se lewe voel soos ’n mosaïek. Elke klein stukkie: die trein na Bloem, die hekkies op die sportveld, die jare in Heilbron, die liefde in Wilgenhof, die verpleegster in Kaapstad en soveel meer, het saam iets groter gevorm.
En ons wonder of dit nie dalk is wat die Here vir elke mens bedoel nie – nie ’n volmaakte prent op een slag nie, maar stukkies getrouheid wat oor ’n eeu heen iets moois word.


