Hemelvaart: hemel, aarde… en alles tussenin
Dewald Hoffmann
Die Hemelvaart staan as een van die sleutelgebeure in ons Christelike geloof. Met Christus se opvaar na die hemel, kom sy dood en opstanding tot volle krag, en gelowiges word uitgestuur met die belofte van sy wederkoms én die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees. Hemelvaart lei ons dus na ’n nuwe tyd in die kerklike jaar — een waarin ons opnuut bewus word van die Gees se werking in ons lewens en in die wêreld.
Wanneer ons hierdie gebeure egter fyn dophou, sien ons ook iets van hoe God die skepping gebruik tot verheerliking van sy Naam. Die rol van die skepping in die Hemelvaart word maklik misgekyk — soos in soveel ander belangrike Bybelverhale. ’n Dieper refleksie oor hierdie rol herinner ons aan die goedheid van God se skepping én bied ook ruimte vir liturgiese verbeelding rondom Hemelvaart.
’n Goeie aanvangspunt is om die vraag te vra: Wat sê Hemelvaart vir ons oor God se verhouding met die skepping?
Hier volg vier temas wat ons kan help om dieper na te dink oor die rol van die skepping — nie net in die Hemelvaart nie, maar in die hele Bybelse verhaal.
1. Die wolk as draer van God se teenwoordigheid
In Handelinge 1:9 lees ons: “Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ’n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem” (AFR20). Hierdie wolk herinner aan ander Bybelse momente waar wolke God se teenwoordigheid aandui — soos in Eksodus 13:21 en
Matteus 17:5.
Wanneer ons die Hemelvaart in hierdie konteks lees, sien ons dat dit nie bloot ’n geestelike verskynsel is nie, maar dat ’n element uit die skepping — ’n wolk — gebruik word as draer van God se teenwoordigheid. Die skepping is dus nie net agtergronddekor in God se verhaal nie; dit speel aktief ’n rol in God se openbaring. Die natuur is nie neutraal of weggooibaar nie — dit word deur God ingespan tot ’n heilige doel.
2. Christus is Heer van die skepping
Die skepping speel nie net ’n rol in God se heilsplan nie — Christus is ook die Here van die skepping. In Efesiërs 1:20–23 lees ons hoe Christus verhoog is “bo elke owerheid en gesag en mag en heerser” (AFR20), en Kolossense 1:15–20 stel dit selfs meer radikaal: “alles is deur Hom en tot Hom geskep” (AFR20).
Hemelvaart bevestig Christus se heerskappy oor alles — mense én die skepping. Hierdie besef roep gelowiges tot verantwoordelike rentmeesterskap. As alles aan Christus behoort, is dit nie opsioneel om die skepping te versorg nie — dit is deel van ons geloofsgetuienis.
3. Toekomsvisie van skeppingsherstel
In die Hemelvaart ontvang ons ook ʼn belofte van Christus se wederkoms (Handelinge 1:11). Hierdie wederkoms gaan gepaard met die hoop dat God hemel én aarde nuut sal maak (Openbaring 21; Romeine 8:19–23). Ons leef nou in ʼn tussen-in tyd – Christus het reeds die dood oorwin, maar die skepping is nog nie volkome herstel nie.
Die Hemelvaart is dus deel van die groter beweging waarin ook die skepping bevry sal word van vernietiging. Hierdie nuutmaking herinner ons dat die skepping nie bestem is vir ondergang nie, maar vir vernuwing. God se plan is om alles – mense én natuur – nuut te maak.
4. Dit is nie net die “geestelike” wat waarde het nie
Jesus se liggaam het opgestaan en opgevaar – nie as gees nie, maar as vleesgeworde mens. Sy menslike liggaam, wat deel is van die skepping, is opgeneem in God se teenwoordigheid. In baie moderne Christelike denke word die geestelike dikwels belangriker geag as die materiële – asof die fisiese wêreld bestem is om weggegooi te word. Maar toe God die wêreld geskep het, het Hy gesê dit is goed – nie net die mens nie, maar die hele skepping.
Jesus neem sy menslike natuur – as deel van die skepping – op in God se heerlikheid. Die skepping is goed genoeg vir God. Ons behoort dit ook so te waardeer en te versorg. Omgee vir die aarde is nie bloot ’n etiese kwessie nie – dit is teologies fundamenteel.


