Hervormingsondag – Wat het Martin Luther met my uit te waai?
👤 Wilmi Wheeler
Dink jy ooit daaraan waarom jy op ‘n gewone Sondag in die kerk sit, Bybel in die hand? Of waarom jy kan kerkgaan sonder om elke week ‘n EFT te maak om vir jou sondes te betaal? As jy nog nie daaraan gedink het nie, dan is dit tyd om terug te kyk na ‘n revolusionêre gebeurtenis meer as 500 jaar gelede. Op 27 Oktober vier die NG Kerk Hervormingsondag, maar hoekom herdenk ons iets wat so lank gelede gebeur het? Wat het Martin Luther, Wittenberg en die 95 stellinge met vandag se kerk en samelewing te doen? Heelwat meer as wat jy dalk dink!
Op 31 Oktober 1517 stap Martin Luther, ‘n jong Duitse monnik en professor, met ‘n vaste doelwit deur die strate van Wittenberg. Hy het iets baie spesifiek in gedagte: om ‘n plakkaat teen die kerkdeur van die stadskerk te gaan vasmaak. ‘n Plakkaat met 95 stellinge wat hom dalk in groot moeilikheid kon bring. Hy het geweet wat hy gaan doen, was roekeloos – maar Luther was vasberade. Die kerkdeur was in daardie tyd soos ‘n gemeenskaplike kennisgewingbord en Luther het sy dokument, waarin hy die kerk kritiseer, daar vasgespyker.
Maar hoekom sou Luther dit doen? Hy was keelvol vir wat in die Katolieke Kerk aan die gang was. Die groot probleem? Basies het die kerk mense laat glo dat hulle sondes afgekoop kon word deur geld te betaal. Dit het beteken dat rykes hul skuldgevoelens met munte kon verlig, terwyl armes gesukkel het om ‘n manier te kry om vir hul sielerus te betaal. Luther het gesien hoe die ware evangelie van genade verdraai word in ‘n “besigheidsmodel” en dit het hom die josie in gemaak.
Die 95 stellinge was sy manier om die kerk tot verantwoording te roep. Hy het aangevoer dat redding nie iets is wat gekoop kan word nie – dit is iets wat deur geloof alleen verkry word, sonder tussenkoms van geld of mensgemaakte stelsels. Luther het nie besef hoe groot die impak van sy optrede sou wees nie, maar daardie daad was die vonk wat ‘n revolusie in die kerk en wêreld sou aansteek – en daardie revolusie herdenk ons op Hervormingsondag.

Wat beteken die Hervorming vandag nog vir die kerk?
Meer as vyf eeue later bly die kernbeginsels van die Hervorming steeds relevant vir die kerk. Hierdie beginsels word dikwels opgesom in die “vyf solae” – vyf sterk geloofswaarhede wat die Protestantse leer definieer:
- Sola Scriptura (Skrif alleen): Dit beteken dat die Bybel die finale gesag is vir leer en lewe. Vandag, in ‘n era van fopnuus en ‘n oorvloed van teenstrydige inligting, is hierdie beginsel nog steeds kragtig. Die idee dat die Skrif die hoogste gesag dra – meer as kerklike tradisies of persoonlike gevoelens – is ‘n kernwaarheid vir die NG Kerk.
- Sola Fide (Geloof alleen): Hierdie beginsel beklemtoon dat mense deur geloof alleen verlos word, nie deur hulle werke nie. Dit bring steeds vir baie gelowiges hoop en verligting, aangesien dit ons herinner dat ons nie “goed genoeg” hoef te wees vir God se liefde nie—dit is gratis!
- Sola Gratia (Genade alleen): Genade is die grondslag van ons verhouding met God. Terwyl die wêreld gereeld meet aan prestasie en meriete, herinner hierdie beginsel ons dat ons redding ‘n geskenk van God is. Dis ‘n waarheid wat vrede bring, selfs in ons moderne, prestasie-gedrewe wêreld.
- Solus Christus (Christus alleen): Jesus Christus is die middelpunt van ons geloof. Hierdie kernwaarheid het gehelp om die kerk se fokus te verskuif van mensgemaakte strukture en tradisies na die Persoon van Christus self.
- Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer): Ons hele lewe moet gemik wees op die eer van God. In ‘n tyd waar selfverheerliking dikwels die norm is, herinner hierdie beginsel ons daaraan dat ons lewens eintlik gaan oor iets groter as onsself—God se eer.
Hervorming en moderne samelewing
Wat Martin Luther in sy tyd gedoen het, het nie net godsdiens verander nie; dit het ‘n kulturele en politieke revolusie aan die gang gesit. Hy het die Bybel in Duits vertaal sodat gewone mense dit kon verstaan. Hierdie aksie het nie net geestelike vryheid gebring nie, maar het mense ook intellektueel bevry. Dit het gelei tot die ontwikkeling van opvoedingstelsels, die bevordering van wetenskap en kritiese denke en later selfs demokrasie en menseregte.
Hierdie rewolusionêre idees van individuele regte, direkte toegang tot God en kritiese denke het help vorm gee aan die wêreld soos ons dit vandag ken. Of ons dit nou besef of nie, Luther se dapper aksie om teen korrupte strukture op te staan, het die weg gebaan vir baie van die vryhede wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar.
Hoekom vier ons Hervormingsondag?
Op 27 Oktober vier ons nie net geskiedenis nie; ons vier die feit dat ons vry is om God op ons eie manier te dien—sonder middelmanne, sonder betaalde vergifnis en met die Skrif as ons riglyn. Hervormingsondag is ‘n tyd om weer terug te keer na die kern van ons geloof. Dit gee ons die geleentheid om ons verhouding met God te herbesin: bou ons nog op die fondamente van genade, geloof en die Skrif alleen? Is ons nog gefokus op Christus en leef ons elke dag tot eer van God?
Daar is baie dinge wat verander het sedert Luther sy stellinge vasgespyker het, maar die beginsels van die Hervorming bly vars en relevant. Dit daag ons uit om aan te hou om ons geloof en die kerk te hervorm en te verseker dat ons altyd getrou bly aan die oorspronklike boodskap van die evangelie.
So, wanneer Hervormingsondag aanbreek, onthou dat Luther se “rebellie” nie net oor die kerk van sy tyd gegaan het nie—dit gaan steeds oor ons almal. Dit gaan oor vryheid, geloof en ‘n lewe gerig op God alleen.