Hoe kinders God deur die woorde van ‘n storie ervaar

👤 Wilmi Wheeler

“Stories is my lewe!” Het jy al ooit gedink hoe diep dié woorde van Sarel Seemonster eintlik is? Stories vorm die kern van ons menswees. Hulle verbind ons, leer ons, en gee betekenis aan ons lewens. “Die Bybel, die grootste verhaal ooit vertel, openbaar God se liefde en pad met die mensdom oor eeue heen. In hierdie verhaal leer ons vir Christus ken as die Weg, die Waarheid en die Lewe,” vertel Melanie Thirion van Little Seeds Eenheid vir Vroeëkindontwikkeling. “Ons kerkgeskiedenis is die storie van God se werk deur ons voorgeslagte. Vandag vertel ons gereeld vir mekaar geloofstories van hoe God daagliks met en deur ons werk.”

Maar, wat sou gebeur as ons nie daardie stories kon lees nie?

Internasionale Geletterdheidsdag, wat op 8 September gevier word, herinner ons aan die krag en voorreg van geletterdheid. Melanie herinner ons ook dat dit nie net gaan oor die vermoë om woorde op ‘n bladsy te verstaan nie; dit gaan oor die vermoë om die verhaal van die Bybel te lees, om God se stem te hoor deur sy Woord en om die wonderlike, transformerende krag van sy boodskap te beleef.

Ons kerk het hierdie besef in aksie omskep. Met ‘n vasberadenheid om ‘n verskil te maak in die geletterdheid van kinders, het die sinode besluit om vroeëkindontwikkeling te ondersteun deur toegang tot kwaliteit dienste te skep. Dit is hier waar die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkindontwikkeling inkom – hulle het verskillende inisiatiewe wat deur gemeentes geïmplimenteer kan word.

Een van die kerninisiatiewe van Little Seeds is weeklikse leesgroepe. Dit mag dalk eenvoudig klink: ‘n klompie kinders wat bymekaarkom om te luister na stories wat deur vrywilligers vertel of gelees word. Maar dit is soveel meer. Dit is ‘n geleentheid om ‘n diep en blywende impak op ‘n kind se lewe te maak. Dit is ‘n manier om vir daardie kinders ‘n breër wêreld oop te maak, een waar woorde en stories hulle neem na nuwe plekke en insigte. Elke storie, elke geleesde woord, help om die kinders se woordeskat uit te brei en posisioneer hulle gunstig vir lewenslange leer. “Belangriker nog, dit skep ‘n geleentheid vir geloofsvorming en vir kinders om eerstehands te ervaar dat God omgee, in die vorm van ‘n volwassene wat luister, omgee en liefhê. Geletterdheid gaan oor veel meer as bloot net stories lees!” getuig Melanie.

Wanneer ‘n volwassene tyd maak om ‘n storie met ‘n kind te deel, om te luister en om te gee, kommunikeer dit ‘n kragtige boodskap van God se liefde en sorg. In daardie eenvoudige daad word kinders die waarheid gewys dat God omgee, nie net in teorie nie, maar in die lewende aksies van sy mense. Hulle leer eerstehands dat hulle belangrik is, dat hulle gesien word en dat hulle geliefd is – nie net deur die persoon wat die storie vertel nie, maar deur God self.

Lees is meer as net ‘n vaardigheid; dit is ‘n sleutel tot ‘n wêreld van moontlikhede en ‘n brug na dieper geloofsverstaan. Die werk wat Little Seeds doen, is nie net belangrik nie, dit is lewensveranderend. Deur deel te neem aan hierdie inisiatief, het gemeentes die geleentheid om ‘n verskil te maak wat verder strek as net die hier en nou. Hulle saai die saad van hoop, kennis en geloof in die lewens van die volgende geslag.

As jou gemeente ook deel wil wees van hierdie beweging om kinders te help om hulle volle potensiaal te bereik, moedig ons julle aan om kontak te maak met Little Seeds Eenheid vir Vroeëkindontwikkeling. Elke kind verdien die kans om die groot en wonderlike stories van die lewe en geloof te ontdek. Hulle verdien die geleentheid om te leer, te groei en om God se liefde deur die woorde van ‘n storie te ervaar. Jy kan die verskil maak. Jy kan deel wees van die storie.

Stuur gerus ‘n e-pos na info@littleseeds.org.za vir meer inligting en om te sien hoe jou gemeente betrokke kan raak.

Stories Little Seeds
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: