Horlicks en die kerk – móét die resep heeltemal verander?
DJ Muller
Dit het begin by ’n koppie Horlicks wat ek vroeër vanjaar probeer drink het. Ek sê “probeer”, want dit was werklik ondrinkbaar. Ek onthou so goed die kalmerende uitwerking wat dit op my gehad het om tydens my skooljare in die winter voor die asbesverwarmer te sit en stadig aan ’n koppie warm Horlicks te drink wat Ma gemaak het. Dinge het verander. Ek lees op die verpakking dat die resep onlangs verander het en dat dit nou in Indië gemaak word. Selfs op Reddit skryf iemand: “Horlicks may taste different or less appealing to you now due to corporate recipe reformulations reducing sugar content, shifting consumer taste buds away from heavy malt, or changes in your own palate since childhood.” So, dit is nie net ék nie! Soveel dinge het nou minder suiker, minder sout, en is sommer net minder lekker. ’n Flake kan nie meer smelt nie, Cadbury-sjokolade mag nie eers meer “sjokolade” genoem word nie, Rice Krispies proe vir my soos die karton waarin dit kom en twee liter roomys kom nou in ’n 1,8 liter-bak. Maar dit was die koppie smaaklose Cup-a-Soup wat ek gisteraand moes afwurg wat finaal die kameel se rug gebreek het. Vanoggend word ek wakker met baie vrae en ’n groot verlange. Ek verlang na dit wat eens lekker was – ikone op die tong.
Tussendeur moet ek voorberei vir Sondag se erediens. Terwyl ek liedere kies, luister ek toevallig (of was dit?) ’n briljante opname raak van Fill Your Hearts with Joy and Gladness, in 1984 geskryf deur Timothy Dudley-Smith. Hy gebruik die bekende Regent Square-melodie. Die uitvoering is stadig, majestieus en, soos ’n goeie vriend opmerk, “die koor sing selfs die leestekens”. Terwyl ek luister, merk ek op dat die gevoel van verlange in my binneste skielik bedaar. Ek voel weer soos die kind voor ’n asbesverwarmer in ’n Cradock-winter. Dit is asof ‘n kombers van bekendheid en verborgenheid my toevou.
“What just happened?” dink ek. Ek vermoed die lied het ‘n koffer uit my kinderdae oopgemaak, en daar was klere wat nog pas – iets bekends uit my grootword-kerk op in die pad. My gedagtes spring dadelik na die kerk… Nóú se kerk.
Ons hoef nie alles uit die verlede terug te wens om te erken dat iets waardevols verlore kan gaan nie. En ons hoef ook nie alles uit die verlede te behou om te erken dat dit ons gevorm, getroos en gedra het nie. Want dieselfde vreemde verlange wat ’n koppie Horlicks, ’n Flake of Gesang 294 in my wakker maak, kom soms ook in my geloof na vore. Daar is dinge in ons geloofstradisie wat eenvoudig diep in my menswees gaan sit het: woorde, gebede, melodieë, ritmes – ‘n residu in die hart. Die manier waarop ’n gemeente opstaan vir die seëngroet. Die stilte ná ’n gebed. Die Onse Vader wat jy al honderd keer gesing het en wat op ’n dag, sonder waarskuwing, weer iets in jou oopbreek.
Dit is maklik om sulke dinge as nostalgie af te maak. En soms ís dit nostalgie. Ons romantiseer maklik die verlede, maar die kerk van ons kinderdae was immers nie noodwendig so wonderlik soos ons dit wil onthou nie. Mense is uitgesluit. Vrae is soms doodgeswyg. Mag is soms verkeerd gebruik. Daar was sekerhede wat later geblyk het glad nie so seker te wees nie. Maar ek wonder soms of ons in die kerk nie ook ’n vreemde vertroue in verandering ontwikkel het nie. Nuwe taal. Nuwe strukture. Nuwe musiek. Nuwe programme. Nuwe maniere van kerkwees. Natuurlik is baie daarvan nodig. Die kerk kan nie maak asof die wêreld rondom ons nie verander het nie. Ons kan nie taal bly gebruik wat niemand meer verstaan nie. Ons kan nie strukture beskerm bloot omdat hulle “tradisie” is nie. En wanneer ons tradisies mense verneder, uitsluit of verhinder om die evangelie te hoor, moet ons die moed hê om dit te verander.
Maar “nuut” is nie ’n teologiese maatstaf nie. “Getrouheid” is. Die vraag kan daarom nie bloot wees: Is dit nuwer? of selfs: Werk dit beter? nie. Die dieper vraag is: Help dit ons om getrouer te leef aan wie God ons roep om te wees? En dit is waar dinge ingewikkeld raak. Want sommige dinge wat ons “comfort”, hou ons inderdaad vas in ‘n ongesonde greep. Maar comfort is ook nie noodwendig die vyand nie. In ’n wêreld waarin byna alles voortdurend opgedateer, verbeter, herverpak en geoptimaliseer word, is daar iets merkwaardig bevrydend aan ’n geloof waarin ek nie elke week iets nuuts hoef uit te dink nie. Ek kan woorde bid wat mense lank voor my gebid het. Ek kan ’n melodie sing wat mense deur oorlog, verlies, vreugde en dood gedra het. Ek kan aan ’n tafel sit waar Christene eeue lank brood gebreek en wyn gedrink het.
Miskien moet ons daarom versigtiger wees vir die gedagte dat alles wat ongemaklik oud voel, vervang moet word, én vir die ewe gevaarlike gedagte dat alles wat bekend voel, behou moet word. Sommige goed moet verander. Sommige goed moet sterf. Sommige goed moet bely word. Maar sommige goed moet eenvoudig weer afgestof, stadig gesing en aan ’n volgende geslag oorgegee word. Die kuns is om die verskil te ken. En dalk is dit waarom onderskeiding so ’n belangrike woord in die kerk is. Nie: Waarvan hou ek? nie. Ook nie: Wat doen almal deesdae? nie. Maar: Wat dra lewe? Wat bring ons nader aan Christus? Wat help ons om lief te hê? Wat moet ons agterlaat omdat dit skade doen? Ek vermoed ’n gesonde kerk leef voortdurend in daardie spanning. Met een hand hou ons vas aan dit wat ons ontvang het. Met die ander hand maak ons plek vir dit wat nog moet kom.
Terloops, Gesang 294 is nou Lied 266. Dit laat my nogsteeds huil en die boonste “F” is nogsteeds te hoog om te sing. Soms is dit lekker wanneer iets nie regtig te veel verander nie.


