Hou ons soms ‘n veilige volgafstand van Jesus af?
👤 Wilmi Wheeler
Bellville se verkeer het sy eie persoonlikheid. Dit beweeg nie altyd volgens reëls nie. Meer volgens instink en genade. Partykeer op die basis van oogkontak eerder as padtekens. Of soms volgens die algemene oortuiging dat as jy jou neus nét effens verder indruk, daar dalk skielik plek gaan oopmaak.
Ek sit onlangs op pad huis toe in die verkeer vas. Dis ’n Vrydag, so almal is ekstra haastig om by die huis te kom. Iewers tussen skielike rooi remligte vang iets my oog op die voertuig voor my se bumper:
“Do you follow Jesus this closely?”
Ek kan nie anders as om te glimlag nie.
Ek weet natuurlik wat die grap bedoel. Dis mos gemik op daardie bestuurders wat só naby ry dat jy wonder of hulle saam met jou huis toe kom.
Maar soos enige goeie one-liner, het dit gevoel of daar nog iets agter daardie vraag skuil: Hoe naby volg ons vir Jesus?
Let wel, nie: Glo ek in Jesus? Nie: Gaan ek kerk toe? Nie eers: Noem ek myself ‘n Christen?
Volg ek Hom sò naby?

Die veilige volgafstand wat ons soms verkies
Daar is ‘n rede waarom bestuurders van volgafstand praat.
As jy te naby ry, moet jy vinniger reageer. Jy moet rem wanneer die voertuig voor jou rem, anders is daar ’n ongeluk. Jy het nie die luuksheid van sit en rondkyk nie, want jy moet oplet. Jy verloor bietjie beheer oor jou eie ritme.
En dalk is dit presies hoekom ek so vasgesteek het by daardie vraag. Want ek dink baie van ons hou van ‘n veilige volgafstand wanneer dit by Jesus kom.
Naby genoeg om Hom te sien. Naby genoeg om nog te sê ons volg Hom. Maar ver genoeg dat ons nie te skielik hoef te rem wanneer Hy van rigting verander nie.
- Ek volg U, Here… maar miskien nie té naby wanneer dit gaan oor my tyd nie.
- Ek volg U… maar nie te naby wanneer dit kom by my gemak nie.
- Ek volg U… maar nie te naby wanneer dit kom by daardie gesprek wat ek vermy nie.
- Ek volg U… maar nie te naby wanneer dit kom by daardie plek waar vergifnis moeilik raak nie.
Want daar is iets gerieflik aan afstand.
Afstand gee mens ruimte. Dit gee jou die gevoel dat jy steeds jou eie spoed beheer. Dat jy nog jou hand stewig op jou eie stuur hou.
Dis nie dat ons ophou volg nie. Ons skuif net effens terug.
Net ver genoeg om nie heeltyd te hoef reageer nie. Net ver genoeg om nie elke draai saam te voel nie.
En wanneer ons weer sien, het die afstand groter geraak as wat ons bedoel het.
Tog is dit belangrik om die vraag nie net as ’n vingerwysing te hoor nie. “Volg jy Jesus naby genoeg?” kan maklik klink soos nog ’n geestelike toets wat ons moet slaag. Nog iets waaraan ons kan tekortskiet. Maar dit is nie waar die evangelie begin nie. Die evangelie begin by ’n God wat nie op ’n veilige afstand bly nie.
Die Heilige Gees oorbrug afstand
Miskien is dit juis hier waar die vraag op die bumpersticker nog verder oopvou. Want wanneer ons oor navolging dink, dink ons maklik aan iemand wat voorloop en iemand anders wat agterna volg. Jesus voor. Ons agter. Soos ’n lang konvooi op die N1.
Dalk is dit deel van die prentjie, maar dis nie die hele prentjie nie.
Want geloof was nog nooit net: Probeer hard genoeg om Jesus nie uit die oog te verloor nie. ’n Verhouding met God was nog altyd een van nader beweeg. Reeds van die begin af sien ons dat God nie op afstand bly nie. Hy is nie ’n God wat ver is en hoop ons kry die roete reg nie. God se beweging is telkens in die rigting van mense. Nader. Teenwoordig. Betrokke.
Dis presies wat die Heilige Gees vir ons wys.
Ons praat soms oor die Gees asof dit bloot ’n ekstra hulpmiddel vir gelowiges is. So iets soos ‘n geestelike GPS of ’n noodhulplyn vir moeilike dae. Maar die Gees is soveel meer as dit. Die Gees is God se voortdurende teenwoordigheid by mense. Nie net ’n stem wat van ver af rigting gee nie, maar God wat intrek in gewone, deurmekaar, haastige mense se lewens.
Jesus vra nie van ons om Hom krampagtig in die verte dop te hou en paniekbevange seker te maak ons verloor Hom nie. Die Gees beteken dat ons nie net iemand volg wat ver voor ons ry nie. Ons leef saam met Iemand wat reeds naby is.
Dit verander iets aan navolging.
Want skielik gaan geloof minder oor hoe goed ek daarin slaag om die regte afstand te handhaaf en meer oor die ontdekking dat God reeds nader is as wat ek dink. Selfs wanneer ek stadiger ry. Selfs wanneer ek ’n afdraaipad vat. Selfs wanneer ek, soos in Bellville-verkeer, nie heeltemal seker is waarheen hierdie roete eintlik op pad is of hoe lank dit gaan vat nie.
Miskien is dit hoekom daardie vraag soveel dae later nog my bybly: Do you follow Jesus this closely?
Die genade is dalk dít: Lank voordat ek gewonder het of ek Jesus naby genoeg volg, was Hy reeds nader aan my as wat ek besef het.


