Getuienisaksie vertel hoe geloof hande en voete kry
Kaapkerk Kommunikasie
Wat gebeur wanneer geloof nie net iets is waaroor ons praat nie, maar iets wat mense kan sien, beleef en ontvang? In Diensgroep Getuienisaksie se nuutste Getuie/Witness-nuusbrief loop dié vraag soos ’n goue draad deur die stories van hulle bedieninge regoor Afrika.
In hierdie uitgawe:
- Wanneer ’n sokkerbal ’n deur na Jesus oopmaak: Ambassadors Football se Golden Ticket-program wys hoe gemeentes sokker kan gebruik om verhoudings met kinders en gesinne te bou en geloofsgesprekke te begin.
- Lewens verander agter tralies: Drie gevangenes vertel hoe Bybelstudie, pastorale sorg en geloof hulle gehelp het om nuwe betekenis, hoop en ’n verhouding met God te ontdek.
- Die meganiese engel: Toe ’n mobiele kliniek se voertuig diep in Mosambiek gaan staan, het ’n onverwagse ontmoeting met ’n werktuigkundige die span gehelp om hul werk voort te sit.
- Die Liggaam van Christus as antwoord op ’n desperate gebed: Straatwerk vertel hoe ’n netwerk van gelowiges rondom ’n vrou vasgevang in uitbuiting saamgekom het om praktiese hulp, ondersteuning en ’n pad vorentoe te bied.
- Growing brave in faith: Die eerste Boys2Men-kamp het 29 seuns uit tien gemeentes saamgebring om oor broederskap, respek, verantwoordbaarheid, kwesbaarheid, empatie en geloof te leer.
- ’n Stil, sterk stroom van hoop in Malawi: Dr. Hennie van Deventer se terugkeer na Nkhoma vertel van ’n geloofsband tussen kerke en mense wat oor dekades en landsgrense heen bly groei.
- 77 jaar oud, 3 071 meter hoog… en alles vir hoop: Susan Murray en Hester Spies het Réunion se berge aangedurf om deur Hike4Grace fondse vir weeskinders se skoolfooie in te samel.
- Wanneer kerk familie word: Pastor Nkazimulo Ngcobo se bediening in Msinga wys hoe getroue teenwoordigheid en pastorale sorg mense deur armoede, verlies en moeilike seisoene kan dra.
- ’n Nuwe hoofstuk vir KIX Nursery School: Ná jare van ontwrigting het die heropgeboude kleuterskool by Malingunde sy eerste fase gevier. Hierdie is ’n verhaal van volharding, vennootskap en belegging in ’n nuwe geslag.
- Bediening tussen seevaarders en vissers: Biblia vertel van dekades se bediening in Suid-Afrikaanse hawens en van kapelane wat mense in ’n lewe van groot onsekerheid met pastorale sorg en die evangelie bedien.
- Om weer ons oriëntasie by die werk te vind: IMSA herinner werkgewers en werknemers dat werk meer as net ’n daaglikse taak is en help mense om hul roeping en doel binne hul werksomgewing te herontdek.
Lees die volledige nuusbrief en ontdek die stories agter die getuienis.


