In memoriam: Christo Alheit

👤 Wilmi Wheeler

Die NG Kerk neem met hartseer afskeid van Christo Alheit, predikant, leier en mens wat oor baie jare heen ’n diep invloed op kerk en gemeenskap gehad het. Vir baie was hy ’n wyse stem, ’n skerp denker en ’n prediker wat sy mense goed geken het. Hy het die kerk liefgehad, maar ook eerlik met die kerk geworstel en sy bediening is gekenmerk deur integriteit, humor en ’n diep vertroue in God.

In verskillende gemeentes, sowel as in sy rol as saakgelastigde van die Sinode van Wes-Kaapland, het hy ’n pad van diens gestap wat baie mense geraak het. Tog was dit nie net sy ampsrolle wat onthou sal word nie, maar veral sy menslikheid: sy belangstelling in mense, sy reguit eerlikheid en sy vermoë om ruimte te maak vir geloofsvrae.

Hier onder deel Peet Bester en Ingrid van Eck hul persoonlike herinneringe en huldeblyke aan ’n besondere lewe.

Huldeblyk deur Peet Bester

Ek deel graag met julle enkele gedagtes en stories oor hierdie besondere karakter en mens. Dalk moet ek die verhaal gaan haal in Mühlhausen (Thüringen), Duitsland, in 1817. Twee seuntjies word op straat gevind en opgeneem in ’n weeshuis. Een van die twee, Christiaan Wilhelm Alheit, moes vroeg ’n roeping ontvang het. Hy kom op 23 September 1842 in die Kaap aan as Rynse sendeling. Dit was die begin van ses geslagte van Alheit-leraars.

Pa Christo word gebore in die pastorie van Touwsrivier op 22 Mei 1940 “en die nag na sy geboorte aan die Here gewy indien Hy hom tot Sy diens wou roep” (aangehaal uit Oupa Willie se stamboek). Christo word gedoop deur Oupa Willie op 4 Aug. 1940 op Touwsrivier.

Pa Christo was tydens sy hoërskooljare op Wellington waar hy vir Adrienne Joubert begin uitvra het — nogal Oupa Willie se orreliste se dogter. Dis ook hier waar sy jarelange vriendskap met Breyten Breytenbach begin het. Na skool was dit Wilgenhof, troue en Nederland vir studies. Na sy studies keer hulle met twee dogters, Adrienne en Joan, terug en kies om sy bediening in 1968 in Kenhardt se Sendingkerk te begin. Hy was hopeloos te verlig om in ’n ander omgewing te begin werk. Soos iemand hierdie week opgemerk het, was die verskil tussen Christo en Beyers Naudé dat Christo in die kerk gebly het en van binne probeer verander het. Intussen is twee seuns, Wilhelm en Bernard, gebore.

Christo Alheit

Van 1973 tot 1980 was hy in die Paarl by Toringkerk waar hierdie skoonseun en sy dogter Adrienne nou bedien. Van die Paarl is hy Tafelberg-gemeente toe om Oom Koot Vorster op te volg. Hoe interessant hoe Tafelberg uiteenlopende leraars opgelewer het! Van 1985 tot 1993 was hulle in Stellenberg waar hy met ’n wonderlike klomp kollegas saamgewerk het. Van 1993 tot 2002 was hy die saakgelastigde van die Wes-Kaap-sinode.

Christo het regtig baie diep spore getrap sonder om hard te trap. Hy het ’n baie slim kop op sy lyf gehad en saam met wysheid en humor sy eie treë gegee. In sy jare as leraar was sy leierskap van ringsvlak tot Algemene Sinode iets wat natuurlik by hom gekom het. In die jare voor 1994 was sy stem helder teen apartheid en sal ons sy konsekwentheid met respek vir mense, selfs hulle wat anders as hy gedink het, bewonder. Hy was ook groot vriende met Broederbond-lede, maar hy het wel baie hieroor gemompel en frustrasie by die huis uitgespreek. Sy jarelange respek en liefde vir VGKSA was in sy DNA. Hy was ’n uitstekende prediker en het sy gehoor en gemeente baie goed gelees.

Christo se menswees en hart was ook ’n veilige hawe vir mense wat krities teenoor die kerk is, asook mense wat hul geloof verloor het. Hy het die gawe en insig gehad om te weet dat God nie bedreig voel deur menslike denke nie. Hy het ’n diep vertroue in God in hom saamgedra. Dis nie verniet dat die familie se teks, Fil. 4:19, sy hart gevul het:

“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Hierdie geloof het uitgespeel in vele aspekte waar, soos vele predikante weet, finansies, familie en gemeentesake ’n leraarspaar se lewe en keuses beïnvloed. Daar was ’n stille getuienis dat God weet, dat God sal voorsien. Daar was ’n aardse eenvoud en diepte in Ma Ay en Pa Christo. Hulle was nooit uitspattig nie en het, sover ek weet, nooit ’n nuwe voertuig gekoop nie. Daar was altyd genoeg kos en Sondae se klassieke musiek, plek vir nog een aan die tafel. Hy was vir jare ’n klubtennisspeler en later rolbalspeler. Visvang was sy passie en die familie het heerlike herinneringe aan ’n ou buks Land Rover en Hermanus se Plaat. Daardie was sy “safe space”.

As ons na die familie se foto’s kyk, sien ons hoeveel kleinkinders op sy skoot gesit het. Hy was baie warm en elkeen van die kinders het ’n spesiale plek by hom gevind. Dis veral nou tydens sy siekte en sterwe wat hierdie saad wat hy gesaai het duidelik opgekom het. Hy het aan die uitgebreide Alheit-, Joubert- en ander vriende wat soos familie is, dope, troues en begrafnisse hanteer. Weereens was sy wysheid, insig en humor wat ons deur baie nou plekke daar deurgehelp het. Hy was nie foutloos en perfek nie. Sy ongeduld met onnosele, pretensieuse en langdradige mense het dikwels gelei tot woorde wat nie in die kerk gepas het nie!

Ma Adrienne is al in 2001, heel ontydig, oorlede. Sy het toe net afgetree en dit was op die vooraand van Christo se aftrede. Dit was ’n geweldige slag vir die hele familie. Hy was vir 15 jaar alleen. Hy was wel op soek na ’n ryk vrou met ’n slegte hoesie, maar die wat hulself kom aanbied het, was nie aantreklik vir hom nie. Toe ’n ou gemeentelid hom kom vra om ’n pad saam te stap oor ’n terminale siekte, het hy soos gewoonlik sy kant gebring en vir Gert en Gesie du Plessis bygestaan tot Gert gesterf het. Hy het oor ’n tydperk van twee jaar haar verder getroos en dit loop toe uit op ’n troue. Sy het nie gehoes nie… So raak Gesie deel van ons familie en ons van haar familie. Hulle was tien jaar getroud en het letterlik elke nasionale park in die land besoek en so die kinders se geld geniet (sy eie woorde!). Ons is dankbaar vir hul tyd saam.

Laastens: ons is bevoorreg as familie en vriende om in sy dampkring te kon lewe. Ek dink aan die woorde van Rudyard Kipling in sy gedig If wat iets raakvat oor wie hy was. Ons is tevrede en dankbaar.

“If you can talk with crowds and keep your virtue,

Or walk with Kings—nor lose the common touch,

If neither foes nor loving friends can hurt you,

If all men count with you, but none too much;

If you can fill the unforgiving minute

With sixty seconds’ worth of distance run,

Yours is the Earth and everything that’s in it,

And—which is more—you’ll be a Man, my son!”

Huldeblyk deur Ingrid van Eck

Ek was vir ’n kort rukkie, tot voor sy aftrede as saakgelastigde van die Sinode (van 2001 tot 2003), sy sekretaresse/persoonlike assistent.

Al was die formele werktyd saam met hom kort, het hy ’n groot en blywende indruk op ’n mens gemaak. Ek het baie oor goeie menswees by hom geleer. My bynaam by hom was Meisiekind.

Hy het my gewaarsku dat hy soms “Calvyns-Latyns” praat en ek maar my ore moes toedruk. Almal het geweet waar jy met hom staan — hy was reguit en eerlik (geen doekies omgedraai nie). Dit wat jy gesien en ervaar het, is wie hy werklik was.

Hy het sy personeel beskerm en vir hulle opgekom. Ek onthou toe ek pas aangestel was en ’n fout gemaak het waarvoor ek groot om verskoning gevra het en gesê het ek sal dit regstel. Hy het my onmiddellik gestop en gesê: nee — hy neem die verantwoordelikheid.

Hy het respek afgedwing, maar dit beslis ook verdien. Daar was wedersydse respek.

Na sy aftrede (2003) het hy gereeld by die kantoor kom inloer (tot vandag toe nog). Hy het altyd kom seker maak hoe dit met ’n mens gaan, en as dit nie goed gaan nie, gevra: “Wat gaan jy daaraan doen?”

Ek gaan sy inloer en werklike belangstelling verseker mis. Die wêreld is ’n besondere mens kwyt.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: