In Mosambiek kry hoop nuwe sig met ooguitreik

Daniël de Wet

Mense wat kan sien, dink selde aan die besondere geskenk van sig en alles wat ons oë elke dag vir ons moontlik maak. Die gesig van iemand wat ons liefhet. ’n Kind wat by die deur instap. Die bekende pad huis toe. Die oggendlig wat stadig oor ’n vertrek skuif. Dit is deur ons oë dat soveel van die lewe se mooi by ons uitkom — die gesigte, plekke en oomblikke wat ons dae kleur en ons wêreld betekenis gee.

Maar wanneer ’n mens se sig begin verdwyn, verander die wêreld. Gesigte vervaag, bekende paaie word onseker en selfs eenvoudige take vra nuwe moed. Vir iemand met katarakte kan die wêreld stadigaan kleiner word — asof die vensters waardeur die lewe inkom, een vir een dof raak.

Dit was met die hoop om sulke vensters weer oop te maak dat ’n span aan die einde van September na Vila Ulónguè in die Angónia-distrik van Mosambiek gereis het. Ná maande se voorbereiding en talle gesprekke met gesondheidsowerhede op nasionale, provinsiale en distriksvlak, kon die ooguitreik uiteindelik plaasvind. Die doel: om mense te help om weer te sien.

Vir bykans drie dekades bring die mobiele kliniek, met die ondersteuning van Getuienisaksie, lidmate en gemeentes van die Wes-Kaap, gesondheidsorg na gemeenskappe in Mosambiek waar toegang tot mediese hulp dikwels beperk is.

Dié werk bestaan uit dinge wat maklik onsigbaar kan bly: klinieke wat beplan word, toerusting wat vervoer moet word, lang ure op die pad, en mediese personeel wat hul tyd en kundigheid beskikbaar stel. Maar soms kom al hierdie dinge bymekaar in ’n buitengewone oomblik, ’n oomblik waarin hoop hande en voete kry.

Dit was met hierdie hoop waarmee ’n span uit Suid-Afrika, saam met dr. Pim de Lijster, wat vanuit Portugal gekom het, die reis aangepak het.

Op Saterdag 26 September het die span met ’n Mercy Air-vliegtuig by Vila Ulónguè, Mosambiek, geland. Die landing op die klein grondaanloopbaan was nie sonder uitdagings nie: ’n sterk dwarswind het dit bemoeilik, terwyl plaaslike owerhede en die polisie eers moes toesien dat voetgangers, fietsryers en motorfietsryers die aanloopbaan ontruim. Toe die vliegtuig veilig tot stilstand gekom het, kon die Mozmed-span van Mosambiek, die span uit Suid-Afrika verwelkom: dr. Johan Eloff, oftalmoloog, dr. Johannes Bührmann en Tobias Meyer, die vlieënier.

Nadat die toerusting afgelaai is, is die span na die gastehuis van die Igreja Reformada de Moçambique (IRM) geneem. Die volgende oggend het hulle die plaaslike gemeente se erediens bygewoon. Daarna is die toerusting vervoer en die operasiekamer ingerig.

Terwyl die mediese span die laaste voorbereidings getref het, het die Mozmed-span die pad na Mphatso aangepak. Ná sowat ’n uur en ’n half se ry het hulle by die eerste groep pasiënte aangekom, gereed om hulle na die hospitaal te vervoer. Sommige van hierdie mense leef reeds jare al met geen sig.

Van Maandag tot Donderdag het verskeie mense saamgewerk om die uitreik moontlik te maak. Teologiese studente van Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys, het elke dag met Skriflesing, oordenking en gebed begin en ook elke dag so afgesluit. Dr. Eloff en dr. Bührmann het saam met plaaslike mediese personeel pasiënte ondersoek en diegene geopereer vir wie ’n operasie moontlik was.

Nie alles het volgens plan verloop nie. Teen Donderdag het van die materiaal wat vir die operasies nodig was, opgeraak, en die span kon dus nie Vrydag verder opereer nie. Tog is talle mense ondersoek en is altesaam 39 katarakoperasies uitgevoer.

Nege-en-dertig operasies: ’n getal wat maklik in ’n verslag tussen ander syfers kan verdwyn. Maar agter elke getal is ’n mens, ’n familie en ’n verhaal. Ons weet nie wat elkeen eerste sal wil sien wanneer hul sig herstel nie. Dalk ’n kind of kleinkind se gesig. Dalk die pad huis toe, die bome langs die kerk of die hande van iemand wat hulle deur moeilike tye gehelp het. Dit sal waarskynlik iets wees waaraan baie van ons selde twee keer dink — totdat ons besef hoe kosbaar dit is.

Die uitreik was die vrug van samewerking tussen ‘n aantal mediese dokters, Mozmed, plaaslike gesondheidswerkers, Hefsiba, die IRM, ons Gereformeerde susterskerk in Mosambiek, asook Mercy Air. Verder het Getuienisaksie in die Wes-Kaap en Support African Mission in Nederland ook gehelp om die uitreik moontlik te maak. Dit het ons opnuut laat besef dat wanneer mense hande vat om lig in ander se lewens te bring, die hoop wat ons deel, meer as net woorde word.

Die nood bly groot, en die hoop is dat hierdie uitreike met volgehoue samewerking kan voortgaan in die toekoms. Intussen bly daar rede tot dankbaarheid: vir elke mens wat gehelp is, vir elke hand wat uitgesteek is en vir elke geleentheid om God se liefde sigbaar te maak. So kan ons saam bely: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” (1 Samuel 7:12)

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: