Khanya – ’n plek van lig en leiding
Mariëtte Odendaal
“Khanya is nie net ’n sentrum nie; dit gee lig en leiding. Dit bied ’n hand van hoop wanneer ons sien dat ons jeug groot uitdagings het om te oorkom.”
– Eldred Fray, voorsitter: Khanya Youth and Community Development Centre

“I have learned that building trust in the workplace is essential for achieving shared goals. I live by a simple truth: teamwork turns dreams into reality.” So getuig Anathi Dlakyia oor die lewensveranderende rol wat die Khanya Youth and Community Development Centre (KYCDC) in sy lewe gespeel het waar hy onlangs sy leerlingskap in Sake-administrasie (Business Administration) voltooi het.
“The management at KYCDC helped me overcome two of my biggest weaknesses: procrastination and being unpunctual”, vertel Anathi verder. “I learned not to delay my responsibilities, but to complete tasks immediately. Showing up on time — every time — has now become one of my strongest qualities.”
Dis woorde soos hierdie wat jou laat besef dat instansies soos Khanya onontbeerlik is vir die onontginde potensiaal wat in elkeen van ons land se kosbare jongmense lê en wag om ontwikkel te word; waar karaktervorming van groot belang is en waar jongmense ontdek dat hulle meer kan wees as wat hulle ooit gedink het.
Anathi het by Khanya ingestap sonder enige vorige werkservaring, maar met ’n oop gemoed en ’n bereidheid om te leer. Wat daarna gebeur het, is ’n stille, maar kragtige getuienis van wat moontlik is wanneer jongmense ’n kans op ’n hoopvolle toekoms kry — en wanneer ’n gemeenskap in hulle glo.
Maar waar het alles begin?
Eldred Fray (in die foto), voormalige direkteur van onderwys by die Oos-Kaapse Departement van Onderwys en voorsitter van Khanya vertel: “In die 1990’s het agt stigterslede uit die gemeenskap van Buffalo Flats (vandag KuGompo) in Oos-Londen noodgedwonge vergader nadat hulle diep aangeraak was oor hoe die jeug worstel met die gevolge van dwelm- en drankmisbruik, vroeë swangerskappe, werkloosheid en die uitsigloosheid op ’n mooi toekoms.
“Ons het besluit om, in plaas daarvan om hulle te kritiseer en te veroordeel, eerder ’n helpende hand uit te reik en lig in hul lewens te probeer bring. Die Khanya Youth and Community Development Centre is toe geskep, met die klem op Khanya, die isiXhosa-woord wat ‘om lig te bring’ beteken. Hiermee was die boodskap duidelik: Ons gaan alternatiewe vir ons jeug skep; ons gaan lig bring.
“Khanya sou ’n plek word waar jongmense wat moed verloor het, weer kon kom leer en groei; ’n plek waar iemand wat voel hulle het geen toekoms nie, weer ’n uitreikende hand kon kry wat sê: ‘Jy is nie alleen nie. Jy kan weer begin.’”

Wat is die fokus van Khanya en hoe werk dit?
“Die fokus van Khanya is eenvoudig, maar doelgerig, naamlik om die lewenskwaliteit van ons jeug te help verbeter in die gemeenskappe rondom Buffalo Flats, soos Vergenoeg, Fynbos, Egoli, East Bank, Duncan Village, Dukashe, Parkridge, Pefferville en Parkside,” vertel Eldred. “In hierdie verband haal ek graag die beroemde woorde van John F. Kennedy tydens sy inhuldigingstoespraak as president van die VSA op 20 Januarie 1961 aan: ‘Ask not what your country can do for you — ask what you can do for your country.’
“Khanya doen dit deur te fokus op strategiese areas naamlik jeugontwikkeling, gemeenskapsbemagtiging en die ontwikkeling van gemeenskapsfasiliteite. Ons doen dit deur praktiese, tasbare maniere en in vennootskap met NPO’s, NGO’s, kerke en staatsdepartemente. Ons het net besef dat wanneer bronne gedeel en daar saam besin en koste-effektief gewerk word, kan ’n gemeenskap baie meer bereik as wat enige individu ooit alleen kan vermag.


“Om hierdie visie prakties uit te leef, implementeer Khanya die volgende strategiese programme, naamlik onderwys, veral gefokus op ondersteuning aan leerlinge vanaf Graad 5 tot 10 met tuiswerk, skoolprojekte, leesvaardighede, ABET 4 aan skoolverlaters, studiemetodes, loopbaanmoontlikhede aan Graad 10 tot 12 leerlinge, vaardigheidsontwikkeling en opleiding, sport, ontspanning, kuns en kultuur, gemeenskapswelstand, gemeenskapsbemagtiging en gemeenskapsfasiliteite.
Khanya se inkomste word op kreatiewe en gemeenskapsgerigte maniere gegenereer deur geleenthede soos high teas en golfdae te hou en die fasiliteite beskikbaar te stel aan die plaaslike gemeenskappe vir funksies soos troues, begrafnisse, partytjies, vergaderings en kerkdienste.
Hierdie geleenthede bring nie net geld in nie, dit snoer ook terselfdertyd gemeenskappe saam. Dit bou verhoudings en maak die sentrum ’n lewende deel van die gemeenskap.
Khanya is nie net ’n sentrum nie; dit gee lig en leiding. Dit bied ’n hand van hoop wanneer ons sien dat ons jeug groot uitdagings het om te oorkom.”

“Ons stigterslede het nie net gepraat nie. Hulle het daad by die woord gevoeg. Hulle het nie net gekritiseer nie, hulle het gebou. Hulle het nie net die donker gesien nie, hulle het lig gebring.”
En vandag, dekades later, brand daardie lig steeds helder, warm en vol genade.
Anathi se slotwoorde getuig daarvan: “I have learned that building trust in the workplace is essential for achieving shared goals. I live by a simple truth: teamwork turns dreams into reality. Thanks to the management and staff at Khanya, I am confident that I can add real value to any work environment when given the opportunity.”
Vir meer inligting kan Eldred Fray by eldred.fray@gmail.com gekontak word. Lees ook meer oor Khanya Youth and Community Development Centre in hierdie dokument.
Hierdie storie vorm deel van Sinani
Sinani is ’n storie-reeks van Diensgroep Diaconia wat gemeentes se verhale van diensbaarheid, barmhartigheid en saamleef dokumenteer en vier. Sinani beteken “Ons is met julle” en nooi die kerk om weg te beweeg van doen vir mense na leef saam met mense.
Deur hierdie verhale ontdek ons hoe diakonaat gestalte kry waar gemeentes langs mense staan, verhoudings bou en ook self deur dié ontmoetings verander word.


