Kinderkanker: Gemeentes het ‘n rol om te speel

👤 Ronelda Visser

September is die maand waar kankerorganisasies wêreldwyd die fokus op kinderkanker plaas. Dit is ’n tyd om stil te staan, bewus te word en op te tree – nie net vir die kinders wat geraak word nie, maar ook vir hul gesinne en gemeenskappe.

Rudolph Scharneck van NG Gemeente Goudini vertel dat hulle gemeente ’n paar jong lidmate het wat tans hierdie pad stap. Hy beklemtoon hoe traumaties kinderkanker kan wees: kinders verstaan nie altyd wat gebeur nie en die hele gesin word direk geraak. Die emosionele en geestelike las kan diep wees en daarom is ondersteuning, bewusmaking en praktiese hulp noodsaaklik.

Dit is belangrik dat ons weet hoe om die risiko’s by ons kinders te verlaag. ’n Gesonde algemene leefstyl speel ’n groot rol: goeie voeding, genoeg fisieke aktiwiteit en ’n gesonde omgewing kan help om kinders se algemene gesondheid te bevorder. Terwyl nie alle kankers voorkombaar is nie, kan hierdie beginsels ’n verskil maak en kinders se immuunstelsel versterk.

Vroeë opsporing is ’n sleutel tot suksesvolle behandeling. Ouers moet bewus wees van simptome soos onverklaarbare koors, gewigsverlies, moegheid, bleekheid, pyn in bene of gewrigte en knoppies of swelling op liggaamsdele. Indien onsekerheid bestaan, moet ouers onmiddellik ’n dokter raadpleeg. Volgens CANSA se TLC-program (Tough Living with Cancer) kan hierdie vroeë aandag lewens red en behandeling minder traumaties maak.

Ondersteuning van families met kinderkanker is belangrik

Ondersteuning aan families wat hierdie pad loop, is noodsaaklik. Dit beteken nie net finansiële of praktiese hulp nie, maar ook emosionele teenwoordigheid. Gemeentes kan ’n veilige omgewing bied waar gesinne hul stories kan deel, gebed ontvang en ondersteuning kry. “Ons kan baie doen om emosionele ondersteuning te gee, om net daar te wees. Ons kan veral vir hierdie gesinne bid,” sê Scharneck.

CANSA se TLC program (Tough Living with Cancer) fokusdaarop om hulpbronne vir mense te skep wat geraak word deur kinderkanker. Klikop hierdie skakel vir ‘n rykdom van bronne. Daar is ook ‘n uiteensetting vandie simptome om voor op die uitkyk te wees. https://cansa.org.za/tlc-for-youth-and-families-affected-by-cancer.

Gemeentes kan ook help! Kyk net na NG Kerk Goudini se inisiatief

NG Goudini beplan ’n “Stap vir Kanker” met ’n spesifieke fokus op kinderkanker op Saterdag 20 September by Jason’s Hill. Hierdie stap bied ’n geleentheid vir die gemeente en gemeenskap om sigbaar saam te staan, hoop te deel en fondse in te samel vir kinders en gesinne wat deur kanker geraak word. Sulke aksies demonstreer die liefde van Christus in aksie en versterk gemeenskaplike betrokkenheid.

Gemeentes het ’n unieke rol om die gemeenskap by te staan. Praktiese idees sluit in:

  • Gebedsgroepe of spesiale gebedsdae vir kinders en gesinne wat deur kanker geraak word.
  • Inligtingsessies oor vroeë simptome en gesonde leefstyl.
  • Organisasie van fondsinsamelings of stap- en sportgeleenthede om ondersteuning te bied en bewusmaking te verhoog.
  • Vrywilligerswerk vir programme soos CANSA se TLC, insluitend praktiese hulp soos vervoer na hospitale of bystand met gesinsbehoeftes.
goudini, kanker

Kinderkanker is vreesaanjaend, maar dit is nie ’n pad wat kinders en hul gesinne alleen moet stap nie. Gemeentes kan ’n beduidende verskil maak deur gebed, ondersteuning, praktiese bystand en bewusmaking. Hierdie maand herinner ons aan die krag van samehorigheid en die impak van ’n liefdevolle, betrokkene gemeente. Soos CANSA beklemtoon, is kennis, ondersteuning en gemeenskapsbetrokkenheid sleutels tot beter resultate en hoop vir die toekoms.

Deur hierdie inisiatiewe kan ons nie net kinders se lewens raak nie, maar ook die gemeenskap sterker en meer ondersteunend maak. September nooi ons uit om nie net stil te wees nie, maar om aksie te neem – hande uit, harte oop, en liefde te wys vir dié wat dit die meeste nodig het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Amptekonferensie: Wat ons herbevestig en waaroor ons moet verder verbeel

  • Die kerk is heilig, maar nie humorloos nie!

  • Arme ek is oupa uil, maar God kyk steeds na my