Koffie in die kerk = Meer as net kafeïen

👤 Wilmi Wheeler

Ons almal onthou ’n koppie koffie wat méér was as net koffie.

Dalk was dit die beker wat jou ouma vir jou geskink het saam met ’n tuisgebakte beskuitjie. Of die een tydens ’n moeilike gesprek, waar jy gesit het met ’n vriend wat nie geweet het wat om te sê met woorde nie, maar met die gebaar van koffiemaak wel. Of die beker wat jy in die kerksaal vasgehou het terwyl jy skaam aan jou eerste Bybelstudie-groep voorgestel is.

Elke koppie dra ’n storie. En in die kerk word daardie stories bymekaar geweef tot iets groter. ’n Herinnering dat ons nie alleen is nie, dat God selfs in die gewone gebare van gasvryheid en koffiekoppies teenwoordig is.

Koffie en gemeentes: ’n Godgegewe kombinasie?

Ek is seker as Paulus ’n brief geskryf het vir ons in 2025, sou hy êrens gesê het: “Groet mekaar met ’n handdruk… en bring asseblief die moerkoffie.” Want die waarheid is, koffie het iets van ’n sakramentale kwaliteit in ons Suid-Afrikaanse kerkkultuur gekry. Nie in ‘n streng teologiese sin nie, maar in die manier waarop dit ’n geleentheid skep vir genade en gemeenskap.

Na die diens, voor die Bybelstudie, tydens die kerkbasaar of sommer net in die kombuis van die kerksaal, koffie is die olie wat die ratte van gesprekke laat draai.

koffie en kerk

Die wetenskap agter die hart van ’n koppie koffie

Wêreldwyd drink mense sowat 2 miljard koppies koffie per dag. Dis ’n verbysterende getal. In Suid-Afrika alleen word meer as 500 miljoen kilogram koffie per jaar ingevoer en verbruik. En studies wys hoekom: koffie verhoog jou dopamienvlakke (daardie “lekker-wees” chemikalië in jou brein) en help jou konsentreer. (Dis seker hoekom daar so baie bekers koffie tydens ’n moderamenvergadering verorber word!)

Maar dit gaan nie net oor kafeïen nie. Dit gaan oor die ritueel. Navorsing wys mense ervaar groter sosiale verbondenheid wanneer hulle warm drankies vashou. Letterlik: ’n warm beker in jou hand maak jou meer oop vir ander. Dis amper asof jou hart, soos jou hande, effens warmer word.

Selfs Sheldon Cooper van The Big Bang Theory het geweet: as iemand ontsteld is, bied jy vir hulle ’n warm drankie aan. Dis omdat daar iets diep-mensliks is aan die warmte wat ’n beker oordra

Hoe mooi is dit dat die kerk al eeue lank bekend is as ’n plek waar harte warmer word?

’n Kort koffie-geskiedenis in die kerk en ‘n heilige uitnodiging

Koffie en godsdiens se paaie het lankal gekruis. Daar is selfs ’n legende dat toe koffie in die 16de eeu in Europa bekendgestel is, party Katolieke dit as “die duiwel se drank” beskou het. Totdat Pous Clemens VIII dit self geproe het en gesê het: “Hierdie drankie is so heerlik dat dit ’n skande sou wees om dit net vir ongelowiges te los.” En so is koffie by die Christelike wêreld se tafels ingebring.

Internasionale Koffiedag (ja, dit bestaan regtig – 1 Oktober) herinner ons dat die eenvoudigste gebare die grootste impak kan hê. ’n Koppie koffie is nie net ’n drankie nie; dis ’n uitnodiging:

  • Kom sit.
  • Kom deel.
  • Kom wees.

Dis ook wat NG Gemeente Parow-Panorama onlangs só mooi gesê het op hul Facebook-blad saam met hierdie foto van lidmate wat koffie drink:

“Koffie bring mense bymekaar – of dit nou rondom die kombuistafel is, saam met vriende, of voor ons Sondagdiens hier by die gemeente. Dis ’n herinnering dat die kleinste gebaar, soos ’n koppie koffie, groot warmte en gemeenskap kan bring. Net soos koffie tyd en warmte nodig het om sy volle geur te ontwikkel, so groei ons geloof en verhoudings wanneer ons dit koester met geduld en liefde. Kom geniet saam met ons die gemeenskap, die gesprekke en die ‘geur’ van saamwees.”

koffie

En dalk is dit juis die punt. Net soos koffie deur water getrek word om sy volle geur te kry, word ons geloof en gemeenskap deur tyd, geduld en warmte gevorm. Ons het mekaar nodig om daardie geur na vore te bring.

So, die volgende keer as jy ná ’n diens by die kerksaal instap en iemand vra: “Swart of met melk?”, onthou, jy staan nie net in ’n ry vir kafeïen nie. Jy staan in ’n ry vir saamwees, vir die heilige geur van gemeenskap.

En miskien, net miskien, is die kerk se koffietafel een van die beste plekke om iets van die hemel op aarde te proe.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: