La Rochelle vier 50 Jaar van God se getrouheid en genade
👤 Wilmi Wheeler
Waar begin ‘n gemeente se reis, en hoe lyk dit wanneer ons terugkyk op vyftig jaar van geloof, genade en saamwees? Vir La Rochelle Gemeente het hierdie vraag ‘n besondere antwoord gevind op 11 Oktober 2024, toe hulle hul 50ste bestaansjaar gevier het onder die tema “Vir ‘n tyd soos hierdie” – ‘n aanhaling uit Ester 4 wat ‘n diep verbintenis aan die Here se roeping vir hulle bevestig.
“Vyftig jaar gelede, op 11 Oktober 1974, het La Rochelle Gemeente sy reis begin,” sê ds. Jana Dickason, wat die vieringe help koördineer het. “Die gemeente het oor die jare telkens bevestig dat God saam met ons stap, soos in ons stigtersvers uit Rigters 18:5-6. Daardie woorde is vandag steeds waar: ‘Die Here is by julle op julle reis.’ Dit is wat ons glo en ervaar.”

‘n Feesjaar vol genade
Die vieringe van hierdie groot mylpaal het nie net een dag plaasgevind nie, maar het oor die hele jaar gestrek, met elke maand wat ‘n nuwe geleentheid gebring het om God se goedheid te vier. “Ons wou hê dat elke bedieningsgroep die kans kry om hul eie bydrae tot die fees te lewer,” sê Jana. “Dit het gewys dat ons gemeente ‘n lewendige gemeenskap is, waar almal ‘n plek en stem het.”
Die hoogtepunt van die jaar was die Jubeljaar-fees wat op 4 Oktober afgeskop het – ‘n sameloop van nege spesiale geleenthede wat ‘n fees vir die siel geword het. “Elke oomblik was gevul met vreugde en dankbaarheid,” vertel sy. “Van die klassieke musiekuitvoering wat ons herinner het aan die krag van lofprysing, tot die gemeente se reünie, waar ons saam met ou vriende en vorige leraars die pad van geloof kon herleef.”
“Die klippe roep uit!”
Een van die treffendste momente van die fees was die spesiale erediens, getiteld “Die Klippe Roep Uit.” La Rochelle, wat beteken “klein klippie,” het hierdie simboliek gebruik om lidmate aan te moedig om hul geloof in aksie te sien. “Ons is geroep om, soos klippe wat rimpels op die water laat, ons geloof in die wêreld te leef,” vertel Jana. “Dit was ‘n kragtige oproep tot vernuwing en toewyding.”
God weef mense se stories saam
Een van die kosbaarste oomblikke was die reünie waar oud-gemeentelede, predikante en kerkraadslede van regoor die land bymekaargekom het om die 50 jaar van geloofsgroei te vier. “Dit was besonders om getuienisse te hoor oor hoe die Here hierdie gemeente oor die dekades gelei het,” vertel Jana. “‘Elke storie in ons lewens is ‘n steen wat God gebruik om Sy koninkryk te bou,’ het iemand gesê, en dit was die kern van ons feesvieringe.”
Soos La Rochelle vorentoe kyk, bly hul missie dieselfde: “Ons verheerlik God in ‘n gebroke samelewing om ‘n geestelike tuiste te skep waarin ons mekaar in liefde versorg en toerus, sodat ons kan uitreik na die wêreld in nood.” Jana sluit af:
“Vir vyftig jaar het La Rochelle ‘n geloofstuiste geword waar oud en jonk saam kan groei. Elke lid is ‘n klein klippie wat groot rimpels gelaat het in die gemeente se verhaal. Die gemeente se missie, “Ons verheerlik God in ‘n gebroke samelewing om ‘n geestelike tuiste te skep waarin ons mekaar in liefde versorg en toerus sodat ons kan uitreik na die wêreld in nood,” bly hulle fokus vir die toekoms.
Hierdie feesvieringe is werklik ‘n jubeljaar fees. La Rochelle dank God vir elke seën, uitdagings wat oorkom is en die geleentheid om God se liefde en genade te ervaar. Soos hulle na die volgende 50 jaar kyk, is die hoop dat hulle steeds hul missie sal uitleef en ‘n lig vir die wêreld sal wees.
Mag die volgende vyftig jaar net so vrugbaar en seënryk wees as die afgelope vyftig. Alles wat La Rochelle is en doen, is deur God se genade. Mag hulle voortgaan om ‘n verskil in die wêreld te maak tot eer van sy naam.”