Laat die kindertjies lei: Tienjarige dogtertjie se getuienis
👤 DJ Muller
Saterdagoggend, 31 Mei is die kerkgronde van NG Kerk Bellville-Wes omskep in ‘n heilige ruimte van deernis en medemenslikheid. Die StreetStore-geleentheid – ‘n inisiatief wat klere, waardigheid en gebed aan die haweloses bied – het gegons met vrywilligers, gebed en hartlike gesprekke. Maar tussen die baie volwassenes wat daardie dag gedien het, het ‘n 10-jarige meisie my keer op keer laat hoendervleis kry.
Ek noem haar sommer Ellie. Sy was nie daar omdat sy saam met haar ouers moes kom of om vermaak te word terwyl die grootmense die “regte” werk doen nie. Sy was daar op ‘n missie. Haar ma het gedeel dat vanaf die oomblik dat die geleentheid aangekondig is, Ellie herhaaldelik daarop aangedring het dat haar naam bo-aan die gebedspanlys geplaas word. En toe die dag aanbreek, het sy vir persoon na persoon gebid, haar hande op hul skouers geplaas met ‘n tipe durf en gesag wat eintlik haar ouderdom so bietjie weerspreek.
Daar was geen diskriminasie of onderskeid gemaak nie. Jonk of oud, manlik of vroulik, swart of wit – Ellie het met dieselfde intensiteit en deernis vir elkeen gebid. En diegene vir wie sy gebid het? Hulle was sigbaar geraak. Sommige was verstom. Ander het trane in hul oë gehad. Almal was aangeraak deur die opregtheid en krag van ‘n kind wat geglo het dat haar gebede saak maak.
Ek reken dat hierdie oomblik ‘n belangrike vraag aan ons as ouers en die kerk stel: Leer ons ons kinders net oor bediening, of stel ons hulle werklik in staat om bediening te doen?
Bybelse grondslag: Kinders as bedienaars
Die Bybel is nie stil oor die geestelike kapasiteit van kinders nie.
Jesus self het gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemel” (Matteus 19:14). Dit was nie net ‘n sentimentele stelling nie – dit was ‘n teologiese verklaring.
- In 1 Samuel 3 roep God die seun Samuel in die nag, en gaan die hoëpriester Eli verby om direk met ‘n kind te praat.
- In 2 Konings 22 het koning Josia sy regering op die ouderdom van agt begin en ‘n nasionale geestelike herlewing gelei voordat hy 20 geword het.
- En in die Nuwe Testament vermaan Paulus vir Timoteus: “Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges…” (1 Timoteus 4:12).
Die kerk: Mis ons dalk ‘n geleentheid?
Ten spyte van hierdie Bybelse voorbeelde, sit ons in baie kerke vandag kinders onbedoeld eenkant wanneer dit by bediening kom. Ons plaas hulle dikwels in Sondagskool, jeuggroepe of optredes tydens spesiale dienste. Alhoewel hierdie waardevol is, kan dit ook die idee versterk dat kinders toekomstige bedienaars is – nie huidige nie.
Maar wat as ons dit omkeer?
Wat as ons kinders nie as passiewe ontvangers van bediening sien nie, maar as aktiewe deelnemers daaraan?
Wat as ons glo dat die Heilige Gees nie in “junior” weergawes kom nie?
Die waarde van bemagtiging
Ellie se verhaal is ‘n treffende getuienis van wat gebeur wanneer ‘n kind nie net oor bediening geleer word nie, maar bemagtig word om dit te doen. Haar ouers het nie net gesê “Jesus het jou lief nie” – hulle het ruimte gemaak vir haar om ander in Jesus se naam lief te hê. Trouens, haar ma vertel dat hul gesin verlede jaar by StreetStore betrokke geraak het weens Ellie se begeerte om te dien.
Dit is profeties.
Wanneer ons kinders in staat stel om te bedien, vorm ons nie net hul geloof nie – ons vorm die kerk. Ons skep ‘n kultuur waar geestelike gawes erken word, ongeag ouderdom. Ons modelleer ‘n teologie wat sê “God praat deur almal”.
Wat die navorsing sê
Studies in ontwikkelingsielkunde en teologie ondersteun hierdie benadering. Dr. Holly Catterton Allen, mede-outeur van Intergenerational Christian Formation, voer aan dat kinders geestelik groei nie net deur onderrig nie, maar veral ook deur deelname. “Kinders leer wat dit beteken om die kerk te wees deur die kerk te wees,” skryf sy.
Net so wys die Barna-groep se navorsing dat vroeë geestelike ervarings – veral dié wat diens behels – ‘n blywende impak op geloofsbehoud in volwassenes het.
Met ander woorde, wanneer ons kinders laat lei, seën ons nie net ander nie – ons anker hul eie geloof.
Laat die kinders kom
Ellie se verhaal is nie ‘n “pie-in-the-sky” nie. Dit is ‘n blik op wat moontlik is wanneer ons Jesus op sy woord neem en die kinders laat kom – nie net om geseën te word nie, maar om te seën.
Sy het nie gewag om opgelei, georden of selfs groot te word nie. Sy het ‘n behoefte en geleentheid gesien, ‘n roeping gevoel en dit met moed en dryfkrag aangepak. En deur dit te doen, het sy nie net die haweloses bedien nie – maar elke volwassene – soos ek – wat haar dopgehou het en gewonder het, “wat as ek mý kinders dit laat doen?”.
Ons (die kerk) hoef nie vir die volgende generasie te wag nie. Die kerk moet erken dat die volgende generasie reeds hier is – en hulle is gereed om te dien.
Bibliografie
Allen, H. C. (2023). Intergenerational Christian Formation: Bringing the Whole Church Together in Ministry, Community, and Worship (2nd ed.). Downers Grove, IL: IVP Academic.
Allen, H. C. (2021). Forming Resilient Children: The Role of Spiritual Formation for Healthy Development. Abilene, TX: Abilene Christian University Press.
Allen, H. C. (2008). Nurturing Children’s Spirituality: Christian Perspectives and Best Practices. Eugene, OR: Cascade Books.
Barna, G. (2024). Raising Spiritual Champions: Nurturing Your Child’s Heart, Mind and Soul. Glendale, AZ: Cultural Research Center at Arizona Christian University.
Verkrygbaar by: https://www.arizonachristian.edu/wp-content/uploads/2024/02/CRC-Release-Raising-Spiritual-Champions-4-Febuary-6-2024-3.pdf