Leon Durie vertel: My hart, my pasaangeër en ek
👤 Leon Durie
My verhouding met pasaangeërs is baie soos Afrika se verhouding met die Weste; onwillig, teësinnig, opstandig, krities maar totaal afhanklik. Was dit nie vir die pasaangeër nie was ek lankal nie meer hier nie. So ek kla nie, ek is dankbaar.
My eerste pasaangeër (2015), was ‘n verrassing. Ek het gedink ek het sinus, maar toe my hart al stadiger klop en ek nie kans sien om “chicken” te speel en te kyk of hy gaan ophou nie, land ek die eerste keer in dekades by die kardioloog. My hartfunksie onder 30%, my pols 30 slae per minuut en my hart beduidend groter as wat hy moet wees (en ek is nie juis ‘n groothartige mens nie. Duidelik ook toe nie goedhartig nie, want my hart is toe alles behalwe dit). Diplomaties, onder die indruk dat hy sy paniek goed wegsteek, beveel hy my om die volgende oggend douvoordag aan te meld vir n pasaangeër. “Dis nou tyd” reken hy. Dit was lankal tyd, besef ek later eers.
Die dokter het ‘n slim plan, sê hy. Dis net ‘n 45 minute prosedure. Narkose is nie eers nodig nie, net plaaslike verdowing. Ida (my vrou) wag voor die teater. Hulle begin werk en, behalwe vir die aardige gevoel van die drade wat deur jou are geryg word, voel ek amper niks. Maar ek hoor hulle konsentreer en dinge vorder stadig. Ek het nie ‘n horlosie nie, maar dit voel vir my dis tyd om klaar te kry. Dit gebeur nie. Naderhand begin ek bietjie voel hoe hulle werk en dit maak my bekommerd. Ek is nie sterk op pyn nie!
My angs wys blykbaar op die meters, want die volgende oomblik lig die narkotiseer my in dat hy my tog bietjie gaan ondersit. Ek kla nie.
Ek weet nie of die goeie plan gewerk het nie, maar toe ek wakker word, lig Ida my in dat dit 5 ure gevat het. Wat vir haar soos 15 gevoel het, want niemand sê vir haar iets nie en sy leef naderhand deur al die “worse case scenarios”, beplan my begrafnis en spandeer solank die erfgeld…

Die volgende dag word ek ontslaan. Ek voel goed, mag nie my arm beweeg nie, maar kan die volgende dag (Sondag) preek. Dinge het té vinnig gebeur dat ek ‘n aflos kon reël. Dis eers Maandag dat ek baie spyt was…
So gaan ek einde 2017 vir my gereelde ondersoek. Die dokter met die slim plan het aanbeweeg en ek is by ‘n nuwe dokter. Dié bekyk die toetse en besluit taktvol ek is darem uit die “sudden death” stadium, maar my hart skommel soos ‘n ongebalanseerde wasmasjien. Dis die verkeerde pasaangeër. Daar kort nog drade.
Hierdie keer is dit roetine prosedure. Behalwe dat wie ookal die drade moes insit, blykbaar sukkel en my dokter, bekend as ‘n uitstekende kardioloog, was nie bekend as ‘n geduldige mens nie. Ek hoor net hy sê vererg “Gee hier!”, toe gly daar ‘n brandpyn in my bors af – hopelik aar-langs. En dis oor.
En hier is ons 7 jaar later en die battery het sy diens gedoen. Ek is by ‘n ander praktyk en ‘n ander dokter. Baie aangenaam. Hy kom vir my vriendelik, sag en kundig voor. Eenvoudige prosedure sê hy. Die drade is mos klaar in. Dis net die boksie wat vervang moet word.
Douvoordag meld ek aan. En wag… en wag. Laatmiddag stoot hulle my uiteindelik in. Gawe klomp mense. Almal baie vriendelik. Hulle sê ek moet op daai smal bedjie gaan lê, die soort wat nie plek het vir jou arms nie. Ek kruis hulle maar oor my bors en balanseer die res van my groot lyf op die té klein bedjie.
Regs is ‘n tv-skerm soos mens net kan begeer. Ek lê en kyk na die kalmerende onderwater tonele wat seker bedoel is om jou bloeddruk te laat daal. Of dalk was dit net ‘n “screensaver”…
Ek moes geweet het hier kom moeilikheid toe so fris ou (radiografis of sonograaf?) my arms teen my lyf kom vasdraai met een of ander “tape”. Om te keer dat hulle afval (maak sin) en dat ek nie kan terugslaan nie, sê hy met laggie. Ek lag saam vir sy grappie…
Iemand anders sê ek moet regs kyk en druk ‘n kussing in my nek dat ek dit nie kan roer nie. Ek begin onraad vermoed toe hulle plastiek oor die “spotlight” trek om dit teen bloed te beskerm. Die ding is ‘n meter plus bokant my, wat verwag hulle? Hulle trek ‘n stuk laken skuins oor my kop en ek kan niemand sien nie. Waarskynlik om almal te beskerm teen identifikasie vir latere eise…
Ek hoor my dokter inkom. Almal is gereed vir hom. Ek wonder net of die verantwoordelike persoon onthou het om die verdowing in te spuit. Maar almal is rustig en hy is sy sagsprekende self.
Ek weet nie of die boksie self probeer uitklim het nie, maar die volgende oomblik gryp die dokter die mes en plant hom vier of vyf keer in my skouer (of so het dit gevoel). Ek is te geskok om te skree of te vloek – beide behoeftes het sterk by my opgekom. Ek lê verlam-geskok en soek asem.
Blykbaar was die boksie genoegsaam onderwerp en op sy plek, want die volgende oomblik vra ‘n kalm dokter my “voel jy iets?” en begin sny voor ek iets kan sê. Hy sien egter wat oor is van my maagspiere trek op ‘n knop, meer van vrees as pyn. Ek wurg iets wat moontlik kon klink soos “ja” uit en hy beveel genadiglik die ou wat die spuit vashou om meer te spuit.
‘n Welkome warm gevoel vloei deur my lyf en ek wil amper ontspan. Maar dan sny hy verder en besluit blykbaar die mes is stomp want die volgende oomblik voel dit of hy sy vingers in die opening inforseer en my bors met sy kaal hande oopskeur. En wragtag sal daai boksie weer sy kop lig want die volgende oomblik word hy met ‘n paar kragtige vuishoue op sy plek gesit. Ek lê magteloos, geskok, stom. Net om te hoor hoe die dokter in sy sagte, vriendelike stem sê hy is klaar, hulle kan maar skoonmaak. Dis kode vir “ruim die misdaadtoneel op en moenie bewyse los nie!”
Maar nou, enkele dae later sit die bewyse daar – ‘n deel nog onder dik pleisters verberg, wat ek te bang is om af te trek – ‘n reuse geel-groen-pers kol, om my te herinner aan waardeur ek geleef en wat ek oorleef het.
Ek ys om te dink wat oormôre gaan gebeur wanneer daai DIY dokter met sy hamer, beitel en saag my skouer en stuitjie gaan bykom…


