Mia Oliver: Die dominee in die dinosouruspak!

👤 Wilmi Wheeler

As jy op ’n Sondagoggend by NG Kerk Sonstraal inloop, is die kans goed dat jy iets onverwags gaan sien. Miskien, as jy gelukkig is, ’n jong dominee wat in ’n dinosouruspak staan en preek met ’n glimlag wat breër is as die oggendson.

Dis hier waar Mia Oliver haar eerste gemeentehuis as dominee gevind het. Sy is in 2024 gelegitimeer en het in Januarie vanjaar amptelik by Sonstraal-gemeente begin as ’n voltydse leraar. Daar is iets van ’n gemaklikheid tussen haar en dié gemeente. En binne haar ‘n jong gees wat nie bang is vir tradisie nie, maar dit met ’n glimlag omvou en nuwe lewe inblaas.

Mia is die soort persoon wat ’n vertrek vul nog voor sy begin praat. Haar oë glinster met ‘n glimlag. Haar hande praat saam met die woorde uit haar mond. Sy het ’n manier van luister, regtig luister, as jy iets met haar deel. Om met Mia te gesels, is soos om saam met iemand te stap wat die wêreld deur ’n helder, kleurvolle lens sien.

Hierdie jong dominee se hart klop vinnig vir kinderbediening. Vir daardie wêreld van eenvoud en verbeelding waar God dikwels die duidelikste praat. Dis waarom sy nie geskroom het om in ’n groot, opgeblaaste dinosouruspak te klim en voor die gemeente te verskyn nie.

Dis waar Tina die T-Rex haar debuut gemaak het: as deel van ’n kindermoment tydens ’n familiediens. Hierdie speelse oomblik het onverwags iets diepers weerspieël: dat geloof ook vreugde mag hê. Dat daar plek is vir lag in die liturgie.

In hierdie gesprek vertel sy meer oor haar hart vir kinderbediening, die ontstaan van Tina die T-Rex en wat sy leer oor geloof deur die oë van kinders.

Mia, kan jy vir ons verduidelik hoe het jy op ’n Sondagoggend in ’n dinosouruspak in ‘n erediens beland? Waar het die idee vandaan gekom?

Mia: (lag) Ja, dis seker nie iets wat mens elke Sondag sien nie! Die idee het eintlik ontstaan toe ek in my praktiese jaar moes help met die familiediens by Stellenberg-gemeente. Ek het gewonder: waar is die poppekas? Ek het daar grootgeword en ek kan nog onthou hoe ek as kind altyd uitgesien het na daardie oomblik in die diens. Die poppekas was vir my so ’n spesiale deel van die diens. Dit was iets wat die boodskap op ’n kindervriendelike manier gebring het.

Toe hoor ek daar is nie meer ’n poppekas nie en ek besef: maar ek kort daardie kind-oomblik! In ’n familiediens is daar natuurlik kinders en ek wou graag hê dat hulle ook op ’n manier deel moes hê aan die boodskap. Iets wat vir hulle makliker is om te verstaan, wat hulle kan onthou en wat vir hulle voel soos: “hierdie is ook vir my.”

Toe begin ek dink. En toe onthou ek dat my skoonsussie ’n T-Rex suit gehad het wat hulle vir hulle besigheid gebruik het. En toe dink ek: Haai, dáár’s nou ‘n idee!

Ek het haar gevra om dit vir my te leen en toe besluit ek sommer dat die T-Rex ’n naam moet hê. Sy het toe Tina geword. Tina die T-Rex. En ek het besluit dat Tina ’n storieverteller moet wees. Sy moet stories vertel soos: “Hierdie maatjie was lelik met daardie maatjie,” maar dan wys Tina dat ons nie lelik met mekaar moet wees nie. Sy help die kinders verstaan dat Jesus altyd by hulle is.

So het Tina begin. Ek het met haar eerste storie op die verhoog gestaan en ek onthou nog hoe die kinders se oë groot was en hoe hulle gelag het. Dit was regtig ’n interessante en vrolike dag, selfs die ouers het lekker saamgelag. En van toe af was Tina deel van ons eredienste.

mia oliver, dinosourus, sonstraal

Wat wil jy graag hê die kinders moes leer deur Tina se stories?

Mia: Ek wil hê die kinders moet deur Tina se stories besef dat Jesus naby hulle is, elke liewe dag. Dis hoekom Tina ’n storieverteller is. Sy vertel vir die maatjies om om te maak as iemand lelik met hulle is by die skool of hoe hulle beter kan optree teenoor iemand. Sy leer hulle dat hulle nie terug hoef te byt of terug lelik moet wees nie, maar dat hulle kan kies om soos Jesus op te tree.

Tina is eintlik ’n storieverteller. Sy vertel oor hoe mens moet optree as iemand lelik is of hoe jy beter kan reageer teenoor iemand anders. Ek wil hê die kinders moet weet: Jesus is nie net vir die grootmense nie, Hy is ook húlle maat.

Daar was seker al baie snaakse oomblikke met Tina?

Mia: (lag lekker) Een oomblik wat ek nooit sal vergeet nie: Ek het vir die eerste keer op die verhoog gestaan en al die kinders het nader gekom en om my gesit. Ek was besig om ’n storie te vertel toe en toe poke een kind my hard in die sy. En dan blaas Tina mos so bietjie in. Toe roep sy kliphard uit, in die middel van my kindermoment: “Maar dit is nie ’n regte dinosourus nie!”

En ek kon nie my lag inhou nie! Nou moet ek probeer om die storie verder te vertel, maar eintlik breek ek myself binne die suit! Dis een van daardie oomblikke wat ek altyd sal onthou!

Wat beteken kinderbediening vir jou?

Mia: Vir my is kinderbediening die plek waar kinders van kleins af iets van Jesus kan leer en in geloof kan groei. Dit is eintlik die plek waar hulle geloof gevorm word, waar die basis van hulle geloof begin. Jy begin nie eers as jy ’n tiener is leer van die Here nie, dit begin van kleins af.

En met kinderbediening kan mens op klein maniere vir hulle leer: God is lief vir jou. Hy is jou Pappa. Hy los jou nooit alleen nie. Hy is die lig in jou donker tye. Dis so belangrik dat hulle dit van kleins af hoor en beleef sodat hulle weet dat God altyd by hulle is, deur al jou lewensfases.

Of dit nou as Tina die T-Rex op die verhoog is of wanneer ons saam oor vissies sing of ’n Bybelstorie vertel, elke oomblik saam met die kinders is vir my bediening. Dis tye waar ons saam kind kan wees, maar ook iets van geloof aan hulle oordra.

En wat leer jy, as dominee, by die kinders?

Mia: (met ’n breë glimlag) Baie! Kinders leer my baie oor geloof! Ons as dominees het nou vir ses jaar geswot, maar ons kan definitief by kinders meer leer oor hoe om te glo.

Die Bybel sê om te “glo soos ’n kind” en dis nie ’n cliché nie. Dis letterlik so. Jy kan vir hulle sê “Tina bestaan” en hulle sal dit glo en vir my vra: “Maar waar gaan dinosourusse skool?” Nou die dag toe ons gesels het oor die storie waar Jesus die 5000 voer, het een kind vir my gevra hoe groot die vissies was. Was dit klein of so groot soos ’n haai of ’n walvis? Dit wys jou net hoe diep hulle hulself in al die Bybelstories inleef. Dit wys vir my hoe diep hulle verstaan en glo.

En ek dink ons as grootmense probeer baie keer te slim oor die Bybel dink. Maar soms is dit ook nodig dat ons onsself in die storie plaas, soos die kinders doen.

Mia Oliver, Sonstraal, NG Kerk

Wat hoop jy die kinders sal onthou van Tina en van hierdie dienste?

Mia: Ek hoop elke kind onthou en beleef iets van die Here. Ek hoop hulle onthou dat Jesus daar is vir hulle. In goeie en in moeilike tye. Dat Hy nooit weggaan nie.

Ek hoop ook hulle sal onthou dat hulle altyd mag vrae vra. Partykeer vra hulle vir my: “Is hierdie nou ’n dom vraag?” En ek sê altyd: “Daar is nie dom vrae nie.” Ek wil graag hê hulle moet beleef dat die kerk ’n safe space is vir vrae.

As hulle net dit onthou, dat God saam met hulle deur elke lewensfase gaan, dan is ek gelukkig!

En as jy dink aan die grootmense in die gemeente, wat sou jy graag hê húlle moes leer uit hierdie kinder-oomblikke?

Mia: Ek wens grootmense kan weer soos kinders glo. En om op die Here te vertrou.

Die wêreld is soms ’n moeilike plek vir ons as grootmense en dit is dan maklik om skepties te raak oor die Bybel, oor geloof, oor waar God is in sekere situasies. Maar dis goed om soms weer te leer om eenvoudig te glo: God ís daar. Hy is getrou.

Ek hoop wanneer hulle die stories hoor wat Tina vertel, dan hoor hulle ook vir hulleself iets. Dat hulle dink: Hoe tree ek op by die werk? Hoe behandel ek mense wat minder het as ek? Hoe hanteer ek die oom op straat met respek en menswaardigheid?

Een oom in die gemeente het nou die dag vir my gesê dat hy nie veel van die preek onthou nie, maar wel wat Tina gesê het! En vir my is dit eintlik mooi. As hulle onthou dat “God is by ons, net soos by die kinders,” dan het ek my doel bereik.

Hoe ervaar jy dit om in ’n gemeente te wees wat saam kan lag en aanbid?

Mia: (lag) Dis ’n groot voorreg! Om in ’n gemeente te wees waar almal saam kan lag en net kan wees is vir my dis ongelooflik. Ek kan ophardloop met ’n skopfietsie na die verhoog in ’n dinosourus suit en die mense aanvaar dit. Hulle lag saam, hulle geniet dit.

Ons is ’n gemeente waar elkeen net hulself kan wees!

Die gemeente is regtig gasvry en ontvanklik. Niemand het my nog ooit gejudge omdat ek ’n dinosourus in die kerk bring nie! Ek weet party mense sou dalk bietjie krities wees daaroor, maar by ons word dit net met liefde ontvang.

Ek kry altyd grappies na die diens soos: “Waar’s die suit vandag?”, “Wanneer kom Tina weer?” of “Jy moet net nie weer deflate of die verhoog nie!” (lag) Want ja, dit het al gebeur dat ek halfpad deur die diens afgeblaas het!

Maar dis presies wat ek van die kerk hou. Dat dit ’n plek is waar ons saam kan lag (want Jesus het definitief ’n sin van humor), saam by mekaar kan leer en saam kan glo. Dis nou mos gemeenskap in die Here!

As jy nie voltyds dominee was nie, sou jy voltyds Tina wees?

Mia: 100%! Ek sou as Tina na elke skool toe gaan as ek kon. Ek sal heeldag vir mense stories vertel. Ek geniet dit so baie, nie om iemand anders te wees nie, maar om vir mense, en veral vir kinders, op ’n kindervriendelike manier iets van geloof te vertel deur ’n dinosourus te gebruik!

Dis warm in daardie suit, glo my. Mens kan maklik daarin staan en sweet, maar ek sal dit elke dag weer doen. Dit bring my soveel vreugde om die kinders te sien lag en om te weet hulle leer iets oor Jesus se liefde by Tina.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: