Moeg ná die eksamen? Só kan ouers help!

👤 Wilmi Wheeler

Die laaste vraestel is geskryf. Die penne is weggepak. Die skooltas lê iewers in ’n hoek. In baie huise is daar ’n kollektiewe sug van verligting: Ons het dit gemaak. Die eksamen is verby. Nou kan almal uiteindelik ontspan.

Maar soms gebeur die vreemde ding juis dán.

Die kind wat deur die eksamen “fine” gelyk het, slaap skielik tot laatoggend. Die een wat gewoonlik gesels, raak stil. ’n Ander een huil oor iets kleins, soos die verkeerde ontbytpap, ’n verlore sokkie, ’n broer wat net te hard asemhaal. Daar is klagtes van hoofpyn, maagpyn, naarheid, moegheid of sommer net: “Ek weet nie wat fout is nie.”

Vir ouers kan dit ontstellend wees. Jy wil amper sê: Maar dis mos nou verby? Die druk is af. Die boeke is toe. Die toetse is geskryf. Hoekom lyk my kind dan nou eers uitgeput?

Die waarheid is dat kinders nie altyd tydens die stresvolle tyd wys hoe swaar dit vir hulle is nie. Baie hou net aan. Hulle leer, skryf, probeer, onthou, vergeet, begin weer, raak gespanne, kry moed, verloor moed en druk deur omdat daar nog net “een vraestel oor” is. En dan nóg een. En dan nóg een.

Wanneer alles uiteindelik rustig raak, begin hulle liggame soms eers vertel wat hulle monde nie kon verwoord nie.

Dit is nie noodwendig luiheid nie. Dit is nie altyd ’n slegte houding nie. Dit is dikwels ’n kind se hele sisteem wat ná weke van spanning probeer afskakel. En in daardie afskakel lê daar vir ouers ’n baie belangrike, heilige taak: Om nie dadelik nóg druk by te sit nie, maar om ’n veilige ruimte vir herstel te word.

eksamen, moeg, kinders

Rus moet nie ’n prys wees vir goeie punte nie

Ons leef in ’n wêreld waar rus maklik soos ’n beloning begin voel. Jy mag rus as jy klaar is. Jy mag ontspan as jy goed gevaar het. Jy mag asem skep as die rapport wys jy het dit “verdien.”

Maar dit is nie hoe God oor rus praat nie.

Van die begin af is rus deel van God se skeppingsritme. In Genesis rus God op die sewende dag. Nie omdat God uitgeput was nie, maar omdat rus deel is van ’n goeie, heel lewe. Rus is nie ’n noodplan vir wanneer alles uitmekaar val nie. Dit is deel van hoe God mense gemaak het om te leef.

Die Sabbat herinner God se volk later hieraan: Julle is nie meer slawe nie. Julle waarde lê nie in hoeveel julle kan produseer, bewys of presteer nie. Julle behoort aan God. Daarom mag julle rus.

Dit is ’n boodskap wat kinders ná ’n eksamen baie nodig het om te hoor. Jy is nie jou Wiskunde-punt nie. Jy is nie jou Afrikaans-vraestel nie. Jy is nie die een fout wat jy ná die tyd in jou kop bly oor en oor regmaak nie. Jy is God se kind. Geliefd vóór die uitslae kom. Geliefd ná die uitslae kom. Geliefd as dit goed gegaan het. Geliefd as dit nie gegaan het soos jy gehoop het nie.

Een van die mooiste voorbeelde hiervan kry ons in 1 Konings 19, waar Elia ná ’n intense tyd totaal uitgeput onder ’n besembos gaan lê. Hy is bang, moeg, mismoedig en klaar. Sy siel is op “battery low” en daar is nie ’n laaier in sig nie.

En God se eerste reaksie is merkwaardig sag.

God gee nie vir Elia ’n lang toespraak oor deursettingsvermoë nie. Hy sê nie: “Komaan, ander profete het dit moeiliker” nie. Hy gee vir hom kos. En slaap. En dan weer kos. En weer rus.

Eers later kom die diep gesprek. Maar eerste kom die brood, die water en die slaap.

Daar is groot wysheid daarin vir ouers. Soms is die geestelikste ding wat jy vir jou kind ná eksamen kan doen, nie om die volgende lewensles te gee nie. Dit is om ’n roosterbroodjie te maak. Om hulle te laat slaap. Om nie elke stilte te probeer ontleed nie. Om te sê: “Ek sien jy is moeg. Jy hoef nie nou alles te verduidelik nie.”

Jesus self nooi sy dissipels in Markus 6: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek en rus ’n bietjie.” Hy sê dit nadat hulle besig was, gedien het, gegee het, gewerk het. Hy sien nie net wat hulle gedoen het nie. Hy sien wat dit aan hulle gedoen het.

Jou huis kan ’n plek van herstel word

Ná eksamen is daar dikwels ’n versoeking om dadelik die vakansie vol te pak. ’n Mens voel amper skuldig as daar oop dae op die kalender is. Daar moet planne wees, uitstappies, aktiwiteite, kuier, kamp, sport, iets produktiefs, iets opvoedkundigs, iets wat nie net behels dat iemand in slaapklere voor die yskas staan en sê: “Daar’s niks om te eet nie.”

Maar kinders het soms eers leegheid nodig. Nie ’n leë, verlate soort leegheid nie, maar ’n genadige oop ruimte waar hulle weer mens kan word. ’n Paar dae sonder groot verwagtinge. ’n Paar oggende waar niemand hulle meet nie. In plaas van om elke emosie dadelik reg te maak, kan jy eenvoudig teenwoordig bly. Sit langs jou kind. Stap saam. Maak kos. Kyk saam iets lig. Bid. Lag oor iets kleins. Laat die huis weer ’n plek word waar hulle nie hoef te presteer om welkom te wees nie.

Psalm 23 gee vir ons ’n pragtige beeld hiervan: “Hy laat my neerlê in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” God dryf nie sy mense na rus toe soos iemand wat agter skape aanjaag met ’n fluitjie en ’n rooster nie. Hy lei hulle. Hy bring hulle. Hy herstel hulle siel.

Daar is ook iets belangrik in hoe Jesus kinders ontvang. Hy seën hulle voordat hulle iets kan bewys. Hy vra nie vir hulle punte nie. Hy vra nie wat hulle planne vir volgende kwartaal is nie. Hy ontvang hulle, raak hulle aan en wys vir die grootmense rondom Hom dat kinders nie in die pad van die koninkryk staan nie, hulle wys iets daarvan.

Natuurlik moet ouers ook wys wees. As ’n kind se angs, hartseer, woede, onttrekking of liggaamlike simptome lank aanhou, vererger of jou bekommerd maak, is dit goed om hulp te vra. ’n Dokter, berader, terapeut of predikant kan deel wees van God se sorg. Geloof beteken nie dat ons waarskuwingstekens ignoreer nie. Dit beteken ons hoef dit nie alleen te dra nie.

Maar vir baie kinders begin herstel by eenvoudige, alledaagse genade: slaap sonder skuldgevoel. Kos sonder ’n preek. Stilte sonder ondervraging. ’n Ouer wat raaksien. ’n Huis waar hulle nie nóg ’n toets hoef te slaag nie.

Die eksamen is dalk verby, maar jou kind is dalk nog besig om terug te kom na hom- of haarself. Gee tyd. Gee ruimte. Gee taal vir wat hulle dalk nog nie kan sê nie.

En herinner hulle, op maniere wat hulle kan voel: Jy is nie net hier welkom wanneer jy sterk, slim, vrolik of suksesvol is nie. Jy is welkom wanneer jy moeg is. Jy is welkom wanneer jy broos is. Jy is welkom wanneer jou lyf en hart nog besig is om asem te kry.

Want dít is ook evangelie: Dat God ons nie net ontmoet in ons beste oomblikke nie, maar ook onder die besembos, op die bank, in die stil dae ná die groot druk. Met brood, water, rus en ’n liefde wat nie punte tel nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: