Morgenster Eeufees: Waar bome fluister en voete dans
👤 Daniel de Wet
Soms stap jy ’n plek binne en jy weet sommer: God werk al lank hier.
Morgenster in Zimbabwe is presies so ’n plek. Toe ons op 15 November 2025 onder die groot, sagte skadu’s van die bome by die 100-jaarviering van Murray Teologiese Kollege staan, was dit duidelik: hierdie is nie net ’n eeufees nie, dit is ’n heilige ontmoeting.
Nog voordat die program begin of die eerste toespraak weerklink, kom die mense. Hulle sing. Hulle dans. Nie uit gewoonte nie, maar uit vreugde — vreugde oor ’n lig wat al ’n eeu lank helder brand. Lank voor enige amptelike woord gepraat word, vul hulle die ruimte met beweging, klank en gemeenskap, en herinner almal daar aan: hier is iets wat groter as ’n program, groter as ’n fees. Hier straal die lig van God se getrouheid.


Die verhaal van Murray Teologiese Kollege begin nie in 1925 nie. Die wortels lê verder terug in 1891, toe ds. A.A. Louw, as sendeling gestuur is deur Stellenbosch Moedergemeente. Toe nog, was dit ondenkbaar wat hierdie plek eendag sou word: ’n teologiese tuiste, ’n smeltkroes van leierskap, waar die Gees oor geslagte mense vorm.
Die 1970’s het gekom met geweld en vrees. Baie instellings het stil geword. Hul deure gesluit. Maar Murray Teologiese Kollege het voortgegaan.
Lesings gegee. Gebid. Gewag. Geglo.
Selfs toe die dae swaar was.
Selfs toe gevaar naby was.
Die jaar 1977 bring ’n beslissende oomblik toe die NG Kerk die bestuur en eiendom aan die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ) oordra. Die lig het tuisgekom. Vandag dra honderde predikante en gemeenskapsleiers daardie lig verder. In Zimbabwe. Oor grense heen. Singende mense. Dansende voete.
Tydens die groetewoord namens die NG Kerk in Suid-Afrika het dit duidelik geword dat hierdie plek nie net deel is van ’n sendinggeskiedenis nie, maar van God se voortgaande verhaal — die lamp wat bly brand.
…. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. 2 Petrus 1:19b
Dit is eintlik Murray Teologiese kollege se hele verhaal in een sin:
- Die lamp – God se Woord wat rigting gee.
- Die donker plek – die wêreld waarin hierdie kollege moet dien: dikwel vol spanning, pyn en onsekerheid.
- Die môrester – Christus, wat die dag laat aanbreek.
Familie oor grense – Ons Geformeerde susterskerk in Zimbabwe

Wat opvallend was tydens ons besoek, is hoe klein die wêreld word wanneer jy familie sien. Nie senders en ontvangers nie. Nie Noord en Suid nie. Net mense wat aan God en aan mekaar behoort.
Die boodskap is eenvoudig:
Ons het mekaar nodig.
Vir geregtigheid.
Vir barmhartigheid.
Vir wandel met God.





