Daar is ‘n leierskapskrisis in ons demokrasie

2024-06-25T10:38:14+02:00

Dit wil al hoe meer voorkom of daar ‘n leierskapskrisis in die westerse wêreld is. Die gespartel binne die Britse politiek het dit opnuut uitgewys.

Hoe is dit ook moontlik dat ‘n land soos Amerika, met sy meer as 300 miljoen inwoners, so sukkel om ‘n president te kry wat regtig die verbeelding aangryp en mense se emosies tot bedaring bring?

In die moderne Westerse samelewing lyk dit al hoe meer of daar ‘n ernstige leierskapskrisis aan die gang is. Hierdie krisis is nie net polities of ekonomies van aard nie, maar dit raak ook die kern van ons morele en geestelike waardes. As ons na die Bybel kyk vir leiding, kan ons waardevolle insigte kry oor wat ware leierskap behels en hoe ons as Christene hierdie uitdaging kan aanpak.

leierskapskrisis

Redes vir hierdie leierskapskrisis

Een van die grootste uitdagings vir hedendaagse leiers is die neiging tot gemak en selfbevrediging. Die Westerse samelewing het soekend geraak na materiële sukses en persoonlike vervulling, dikwels ten koste van etiese beginsels en geestelike gesondheid. Wanneer leiers hul morele kompas verloor, ly nie net hulle eie integriteit daaronder nie, maar ook die gemeenskap wat hulle dien.

Boonop het die samelewing te gemaklik geword en kwaliteit leierskap word nie in die kweekhuis van gemaksug gekweek nie. Die samelewing in geheel het sy morele kompas verloor en so oor tyd die morele DNS van miljoene mense verander. Ook van leiers. Die politieke strukture wat eens op ‘n tyd gewerk het, baar tans leiers wat nie noodwendig die breë samelewing na behore dien nie. Voeg hierby hoe sosiale media ‘n kragtige instrument geword het om die massas mee te manipuleer en jy sit met ‘n uitdaging. ‘n Leierskapskrisis is dan natuurlik die gevolg. 

Jane Chiroma skryf in African Public Theology (Agang S.B., red., 2020) dat demokrasie inderdaad nie net ‘n westerse konsep is nie. Die kgotla sisteem in Botswana, waar alle lede van die gemeenskap saampraat en dan in konsensus besluite neem, is ‘n goeie voorbeeld van Afrika-demokrasie. Die kernbetekenis van demokrasie is dan ook “mag aan die mense”.

Sisteme en strukture kan egter ook oud word en skeefgetrek word. Ek is bevrees dat demokrasie in Suid-Afrika onder andere beteken dat groot geld na tradisionele leiers vloei om so te verseker dat oningeligte massas aan ‘n sekere politieke party verbind word. Dit is ’n skeefgetrekte demokrasie.

Ons moet vir die leierskap van ons land bid

Intussen skryf Paulus lank gelede dat ons vir ons regeerders moet bid. ’n Oppervlakkige lees van die teks en ’n simplistiese, reglynige toepassing sonder kontekstuele begrip, kan ons soos met baie ander Bybeltekste op plekke laat beland waar ons verspot voorkom.

Ons moet vir ons regeerders bid. Die vraag is wat en hoe moet ons bid?

‘n Paar dinge is vanselfsprekend. Wysheid, morele integriteit en karakter kom eerste by my op. Maar daar is meer. Te midde van ons leierskapskrisis moet ons bid vir ware dienende leierskap wat eie belang agterweë laat. Maar onthou: mense is bereid om ’n ekstra myl te loop, te dien en verantwoordelikheid te aanvaar as daar ’n bepaalde trots en liefde in hul leef. Ek is bevrees dat dit oor dekades en om verskeie redes by baie verskillende mense in Suid-Afrika afgebreek is. Dan begin mense net vir hulself leef.

Ek glo dat die Gees van God my oë voortdurend kan open vir die skoonheid en kosbaarheid van die land en al sy mense waarin God my geplaas en geroep het. Dit motiveer my om in my klein kringetjie ‘n verskil te maak. Ons het nie net ’n goeie president nodig nie, maar miljoene individue wat met trots, liefde, hoop en geloof bereid is om waarlik te dien.

Geskryf deur Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Deel hierdie inhoud met jou mense!

Go to Top