‘n Week van diepte, stilte en verbeelding in Clanwilliam

👤 Jacques Greyling

  1. Agtergrond en doel

Die vyfdaagse retraite vir predikante van die Ring van Clanwilliam, vanaf 9 tot 13 November te Strandfontein, het ten doel gehad om ’n ruimte te skep waar geestelike verdieping, vernuwing en refleksie oor bediening kon plaasvind rondom die teologiese waarheid van die deelname van die leraar aan die bediening van Jesus. Die retraite is begelei deur Adriaan Haasbroek met tien predikante saam op hierdie reis.

Die leraar se rol as mistagoog, d.w.s sy/haar rol om mense in die teenwoordigheid en ervaring van God se teenwoordigheid te begelei was die fokus van die retraite.

As praktiese oefening het elke deelnemer in hierdie retraite die geleentheid gekry het om self ’n spiritualiteitsessie te lei. Dit het die tradisionele rolverdeling tussen “leier” en “deelnemer” deurbreek. Dit het ‘n deelnemende leerproses geskep waarin elke predikant aktief bygedra het tot die geestelike reis van die groep. Daardeur is kreatiwiteit aangewakker en verbeelding losgemaak van deelnemers.

  1. Tema en fokus

Daar was individuele gespreksessies tussen die fasiliteerder en deelnemers, sowel as sowat ses fokusgroep gesprekke. Die fokus en tema van die groepsessies het verband gehou met die mistieke eenheid met Christus, dissipelskap of die praktyk van begeleiding om God se teenwoordigheid te beleef (mistagogie). Veel klem is gelê op die doop as die vertrekpunt van die leraar se roeping, en die verdieping deur die nagmaal. Die lewende Christus wat in die doop en nagmaal Homself aan ons gee, is die Een wat jou reeds by die doopvont roep om predikant te wees.

Die spiritualiteit sessies het kreatiewe elemente ingesluit soos stilte, simbole, musiek, kuns en gesprek wat die tradisionele liturgiese raamwerk verbreed het en deelnemers se kreatiwiteit aangewakker het.

Hierdie benadering het die deelnemers genooi om nie net oor spiritualiteit te praat nie, maar dit ook te ervaar en te verbeeld.

Clanwilliam

3. Waarnemings en ervarings

  • Deelnemersbetrokkenheid: Die vlak van deelname en eerlike refleksie was hoog. Predikante het die vrymoedigheid ervaar om kwesbaar te wees, persoonlike geloofservarings te deel en vanuit hul eie styl leiding te gee.
  • Kreatiwiteit en Vernuwing: Deurdat elkeen ’n sessie moes ontwerp, het nuwe vorme van liturgiese verbeelding na vore gekom, van stilte-liturgeë tot simboliese handelinge, vrye gebede en kreatiewe en verbeeldingsoefeninge.
  • Leer in Gemeenskap: Die afwisseling tussen leierskap en deelname het ’n gevoel van vertroue, leerbaarheid en wedersydse leer bevorder.
  • Diepte van Stilte: Deelnemers het die waarde van rus, goeie kos, veilige mense, stilte en kontemplasie beleef as bron van prediking en liturgie.
  1. Waarde vir die ontwikkeling van predikante se persoonlike spiritualiteit en hul liturgiese verbeelding

Hierdie vorm van retraite het ’n merkbare impak op die ontwikkeling van predikante se persoonlike spiritualiteit, liturgiese en pastorale verbeelding, die verdieping van ons bewus-wees van ons mistieke eenheid met Christus deur die doop en nagmaal en die gevolglike bediening as deelnemers aan die voortgesette bediening van die lewende Here. Die deelnemers aan hierdie retraite kon opnuut die unieke ontdek van predikant-wees, as spirituele begeleiers wat in alles heenwys na Christus.

  • Verfrissing van denke: Die oefening om self ’n spiritualiteitsessie te ontwerp, het predikante geleentheid gebied om buite die gewone raamwerk van eredienste te dink en nuwe rituele te verken.
  • Integrasie van belewenis en teologie: Deur die ervaring van stilte, kuns, simboliek en liggaamsbewustheid, het predikante gehelp om nuwe maniere te ontdek om geloofservaring in die bediening te beliggaam.
  • In die skoene van die gemeente: Die ervaring het ook die predikante herinner dat elke gemeentelid ’n deelnemer aan die bediening is en nie net ’n toeskouer nie. Hulle kon ‘n toeskouer en deelnemer ervaring hê.
  • Verbeeldingsvorming: Die sessies het die deelnemers se vermoë versterk om liturgie te sien as ’n kreatiewe ruimte waar God se teenwoordigheid ervaar en verbeeld word, eerder as ’n stel voorskrifte wat uitgevoer moet word.

“Die paar dae was van onskatbare waarde. Ek het lank daarna uitgesien. Om so in mekaar se lewens en bediening te deel, versterk ‘n mens en gee nuwe perspektief op ons eie lewe en die bediening van ander in dieselfde omstandighede. Die kapel-oomblikke was besonders, juis omdat elkeen op sy unieke manier die geleentheid gehad het om te begelei en dit het juis die persoonlike ervaring van die deelnemers blootgelê. Die saamkuier, lieflike omgewing, goeie kos het bygedra tot hernude energie so aan die einde van die jaar. As dit ‘n jaarlikse instelling is, sal ek dit jaarliks bywoon, selfs al sou ons daartoe moes bydra”.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: