Om grense oor te steek – versoen gemeenskappe
👤 Wilmi Wheeler
Waar begin die pad na versoening? Is dit dalk wanneer ons die moed vind om oor die grense te stap wat ons van mekaar skei, of wanneer ons die hande vat van mense wat ons nog nooit geken het nie? In ‘n wêreld vol mure en skeidings, is daar iets heilig aan die oorskryding van grense, iets wat ‘n diep spieëlbeeld van die evangelie weerkaats.
Jacques Strydom, leraar van NG Kerk Brackenfel-Wes, vertel verder van die samekoms tussen die Great Commission Network/NG Kerk Vennootskap wat op 16 Oktober 2024 plaasgevind het.
Elke jaar steek lidmate van ‘n paar gemeentes van Khayelitsha die sogenaamde ‘boereworsgordyn’ oor om in die voorstede van Kaapstad te gaan kuier. Soos pastoor Aaron Makili van Disciples of Christ altyd sê: ‘We came over the fence.’ Hierdie keer is hulle by Brackenfell-Wes Gemeente, wat tans die gasheer van die netwerk is.
Daar word geopen uit Lukas 10, ‘n teks waar die twee-en-sewentig volgelinge van Jesus twee-twee uitgestuur is om vrede te verkondig, genesing te bring en bereid moet wees om ander se gasvryheid te aanvaar – wat ook al voorgesit word. Hierdie teks eggo die hart van hierdie vennootskap tussen die Great Commission Network en NG Gemeentes. Dit getuig daarvan dat ons nie maar net enkelinge is nie, maar dat ons gemeenskappe sáám beter bereik kan word. Ons het almal iets om by te dra, selfs oor ons grense heen.
Die gemeentes is saam om oor die jaar te reflekteer en hul verhouding te vier. Hierdie verhouding kom in meeste gevalle al agt jaar saam en vind plaas in die vorm van “tweeling” pare wat bestaan uit ‘n NG Gemeente en ‘n Khayelitsha Gemeente. Makili, wat die stigter van die Great Commission Network is, vertel dat hulle droom is om dertig sulke tweelinge op te rig regoor Kaapstad. Hy vertel dat daar soms wedersyds kompromieë gaan moet wees en dat ons mekaar in ag moet neem – en vertel grappig oor die NG Gemeentes wat dit regkry om ‘n hele diens binne ‘n uur te hou.
Deur die loop van die jaar werk gemeentes op verskillende maniere aan hierdie verhouding. Ds. Heerden van Niekerk en die getuieniskommissie van die NG Gemeente Welgemoed is in gereelde skakeling met Makili. Hulle ondersteun onder andere hul sopkombuis en skenk soms kos en komberse wat deur Disciples of Christ verprei kan word. Makili vertel dat dit wonderlik was dat hul tieners saam met Welgemoed #Imagine kon bywoon en so saam in hul geloof kon groei.
Pastoor Msele van God’s Merciful Hands vertel dat NG Gemeente Kenridge hulle in hul diepste nood gehelp het. Tydens die vloede kon hulle help om lidmate se dakke te herstel en toe die kerk self deur die jaar skade gelei het, kon die gemeentes weereens saamwerk. Msele vertel dat hierdie verhouding hom staande hou in sy bediening.
Pastoor Linda van House of Hope het hierdie jaar ‘n erediens gelei by NG Gemeente Parow-Panorama. Op hierdie dag het die kerke se jeug ook lekker saamgekuier. Lidmate van Parow-Panorama gaan woon ook dienste in Khayelitsha by. Die groot bederf was ook toe van House of Hope se lidmate roosterkoeke vir Parow-Panorama se kosmark gemaak het en almal saam op hierdie dag kon kuier.
Truide Prekel van SynNovation en haar span het toe die vennootskappe help dink oor hoe ons selfs dieper verhoudings kan bou om verder die nood in ons gemeenskappe kan aanspreek. Hul werk fokus op innovasie en skeppende-idees, waarop daar op wense gefokus word. Uitdagings word ook deur hul oplossings beskryf. Tydens hierdie sessie skryf een van die jonger deelnemers onder andere “I wish Khayelitsha can be a crime free area so our twins can come freely.” Daar is verder saamgedroom oor gebedsaande; sport dae en jeuggeleenthede. SynNovation help die vennootskappe om hierdie idees saam te vat sodat daar konkreet gewerk kan word hieraan.
Natuurlik is die aand met ‘n ete en saamkuier afgesluit. Vele verhoudings is al om tafels gebou en versterk.”
As jy hierdeur bemoedig is en as gemeente aan hierdie netwerk wil deelneem, kan Jacques Strydom by jacquesstrydom@brackenfellwes.org.za geskakel word.