Ons koning dra ‘n doringkroon

👤 Wilmi Wheeler

Wanneer laas het jy aan ‘n koning gedink? Nee, regtig. Behalwe vir die nuutste drama oor die Britse koninklikes, is koningskap mos nie juis iets wat jou elke nag wakker hou nie. Ons leef immers in ‘n tyd waar demokratiese leierskap koning gekraai het – en tog, hier kom die kerk en sê vir ons: “Sondag van Christus die Koning.”

Dit klink amper soos iets uit ‘n antieke era, soos kastele, ridders op perde en dramatiese en kleurvolle feeste. Maar hierdie Sondag is meer as net ‘n ou tradisie. Dis ‘n game changer.

Stel jou voor: ‘n Heerser wat nie op ‘n troon sit en bevele skree nie, maar eerder jou voete was. Dis radikaal. Dis onkonvensioneel. En dit vra ‘n groot vraag wat jou diep moet laat dink oor jouself: Wie regeer regtig oor jou lewe?

Sondag van Christus die Koning – waar kom hierdie Feessondag vandaan?

Die Sondag van Christus die Koning is glad nie so oud soos ander kerkfeeste nie. Dit is in 1925 ingestel deur Pous Pius XI. Hoekom? Dit was net na die Eerste Wêreldoorlog en die wêreld was in chaos gedompel – diktators het soos onkruid opgekom, nasies was verdeeld en mense het hul hoop geplaas in alles behalwe God. Dit was ‘n tyd waarin magslus en politieke obsessies die hoofrol gespeel het en Pius XI het gesien hoe geloof op die agtergrond verdwyn.

Sy antwoord? ‘n Feesdag wat sê: “Kom ons sit dinge weer reg.” Hy het verklaar dat Christus die ware Koning is – nie die Mussolini’s, die militêre leiers of selfs die ideologieë van daardie tyd nie. Christus is die Een wat regeer; nie met ‘n ystervuis nie, maar met deurboorde hande van liefde. Dit was sy manier om ‘n wêreld vol chaos terug te lei na die fondament van ware hoop.

Dis ‘n fees wat sê: Al lyk dinge deurmekaar, onthou – die ware Koning is steeds op sy troon.

Wat maak hierdie Koning anders?

Kom ons wees eerlik, koningskap klink vreemd in die moderne wêreld. Ons het veel meer presidente as konings en die meeste mense stel in elk geval glad nie belang in iemand wat oor hulle wil heers nie. Ons wil ons eie meesters wees – strong and independent – die konings van ons eie lewens. Maar Christus gooi hierdie idee heeltemal omver. Sy koningskap lyk niks soos dié van wêreldse leiers nie. Hy het nie ‘n magtige leër gehad nie, geen paleis en nie eers enige politieke alliansies nie. Inteendeel, Hy het oor vrede gepreek, geen vaste blyplek gehad nie en was ‘n vyand van mense met mag soos die Fariseërs en die Romeine.

Hy het op ‘n donkie gery en aan ‘n kruis gesterf.

In Johannes 18:36 sê Jesus dan self:
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”

En dít is die sleutel. Sy koninkryk werk nie op die reëls van die wêreld nie. Waar ons mag met krag assosieer, wys Hy vir ons dat ware gesag lê in liefde, diensbaarheid en opoffering.

Wat maak Christus se koningskap nog anders? Hy dwing jou nie om aan sy heerskappy te onderwerp nie. Hy staan nie met ‘n swaard in die hand en dreig: “Eer My, of anders!” nie. Gaan blaai maar deur die geskiedenisboeke – dit was maar die modus operandi van meeste van hulle… Nee, hierdie Koning vra vir jou hart – vrylik, sonder dwang. Hoe dan anders? Sy gesag lei nie tot slawerny nie, maar tot vryheid. Want Christus is nie ‘n magshonger tiran nie, maar ‘n liefdevolle Herder wat sy lewe gee vir sy kudde.

Wat beteken dit dat Christus ook jou Koning is?

Kom ons raak persoonlik: Wat beteken dit vir jou dat Christus Koning is?

Dis maklik om te sê: “Ja, ek glo Jesus is Koning.” Maar as ons eerlik is, bou ons almal aan ons eie klein trone. Dit sluit alles in wat jy as prioriteit bo Christus plaas.

Maar wanneer ons egter sê dat Christus Koning is, beteken dit dat ons ons eie troon neerlê. Dit beteken dat ons ons eie planne, vrese en selfs ons drome in sy hande plaas. Jesus sê in Lukas 9:23: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Hierdie oorgawe is nie altyd dramaties nie. Soms is dit klein, daaglikse keuses. Dit gebeur wanneer jy kies om eerder jou tong te byt as om iemand terug te beledig. Wanneer jy iemand vergewe wat jou seergemaak het. Wanneer jy tyd spandeer aan iemand in nood eerder as jou eie gemak. Wanneer jy ‘n vriend bel wat deur ‘n moeilike tyd gaan, al is jou eie dag oorweldigend. Jy bou nie meer aan jou eie koninkryk nie, maar werk saam met Hom om sy hemelse koninkryk hier op aarde sigbaar te maak.

Om Christus as Koning te erken, vra dat jy jou eie wil prysgee. Jy sê nie meer: “My manier of niks nie,” maar: “U wil geskied.”

Die wêreld is dalk deurmekaar, maar Christus regeer. En as jy Hom as Koning aanvaar, kan jy begin leef as deel van ‘n koninkryk wat nie aan tyd of grense gebonde is nie. Christus is Koning – gister, vandag en vir ewig.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: