Ontmoet Anandie, ’n dominee met ’n hart vir gemeentes

Wilmi Wheeler

Op ’n skoolverlaterskamp het Anandie Greyling onder ’n boom gaan sit en bid.

Teologie het tot dan toe nou en dan opgeduik in haar lewe. Meestal grappenderwys wanneer sy ’n derde keuse op ’n universiteitsaansoek moes invul, maar dit was nog nie iets wat sy ernstig as haar eie roeping beskou het nie.

Onder daardie boom het sy vir die Here gesê sy is jammer dat sy nog nooit oor haar beroep gebid het nie. Sy sou ophou om so windgat vir almal te vertel wat sy eendag gaan word en eerder begin vra hoe die Here haar wil gebruik.

Selfs al is dit Teologie.

Ná die kamp het sy vir oom Freddie Schoeman, wat later haar mentor sou word, gesê: “Ek dink ek moet teologie swot.”

Dit was nie ’n dramatiese roepingsverhaal waarin ’n lig uit die hemel op haar kom skyn en elke antwoord skielik helder geword het nie. Eerder ’n jongmens wat begin vermoed het dat God se plan dalk anders lyk as die een wat sy so selfversekerd vir haarself uitgedink het.

Jare later bring daardie gebed haar na ’n nuwe hoofstuk. As Kaapkerk se nuwe PSD: Gemeentebegeleiding.

Dit is ’n pos wat inherent oor gemeentes gaan. Oor gemeentes se mense, stories, seerkry, moontlikhede en die vraag waar God reeds in hul plaaslike konteks besig is.

Dit is werk wat sterk by Anandie se eie hart aansluit, want haar liefde lê by gemeentes.

Maar nie by die idee van ’n perfekte gemeente of ’n model wat oral dieselfde moet lyk nie. Haar liefde lê by die geloofsfamilie. Mense wat soms met uiteenlopende idees in dieselfde vertrek opdaag, mekaar moet leer vertrou en saam moet onderskei wat getrouheid in hul konteks vra.

Anandie Greyling

Die pad wat gelei het na Gemeentebegeleiding

Anandie het in klein dorpies in Mpumalanga grootgeword en praat met warmte oor Waterval-Boven, waar sy en die ander kinders die dorp op fietse vol gery het. In graad 11 het sy vir haar man, Arno, op ’n kerkkamp ontmoet. Hulle het die volgende jaar begin uitgaan en later saam in Pretoria gaan studeer.

Ná haar studies het sy haar gemeentejaar by Lyttelton-Oos, vandag Voetspore Gemeenskapskerk, voltooi en terselfdertyd by Doringkloof-gemeente begin werk. Sy is die volgende jaar as predikant daar bevestig.

Doringkloof het ook ’n klein, multikulturele geloofsgemeenskap gehad waar sy, soos sy dit self stel, “teen ’n stinkspoed” geleer het hoe om leiers en bedieninge te ontwikkel.

Dit was ook daar waar ’n lidmaat haar iets geleer het wat steeds die kern vorm van haar verstaan van die kerk lê.

Die vrou het gereeld gevra waar sekere mense is. “Waar is so-en-so? Ek het hom of haar lanklaas gesien.”

Anandie het aanvanklik gedink sy probeer op ’n subtiele manier vir haar huisbesoekwerk uitdink. Nog iemand om te bel. Nog ’n naam om by die dominee se lys te voeg.

Maar later kom sy agter hierdie vrou het ’n besondere gawe van gasvryheid gehad en ’n ingesteldheid teenoor dié wat nie daar was nie.

“But I want to contact them,” het sy gesê. “I want them to know we miss them.”

Dit het vir Anandie iets geleer oor wat dit beteken om gemeente te wees. Mense moet nie net weet dat daar vir hulle ’n plek op ’n lidmaatregister of in ’n kerkbank is nie. Hulle moet weet dat hul teenwoordigheid saak maak. Dat lidmate mekaar kan versorg en agterkom wanneer iemand nie daar is nie. Dat hulle behoort.

Dalk verduidelik dié oomblik beter as enige posbeskrywing waarom Gemeentebegeleiding so sterk met haar geresoneer het.

Sy wil nie van buite af by ’n gemeente aankom met ’n klaargemaakte antwoord of ’n standaardplan nie. Sy wil eers luister. Hoor wat in ’n bepaalde geloofsfamilie leef. Raaksien wat seergekry het, waar daar hoop is, wie se stem dalk nog nie gehoor is nie en watter gawes reeds tussen die mense teenwoordig is.

Dan wil sy help om patrone raak te sien, die regte mense en hulpbronne bymekaar te bring en saam te vra: Wat is die volgende betekenisvolle tree?

Die woord in die posadvertensie wat haar getref het, was “proaktief.”

Anandie droom daarvan dat gemeentes nie eers hoef te wag totdat daar ’n krisis is voordat iemand langs hulle kom staan nie. Dat hulle hul oë sal inoefen om raak te sien waar God besig is, die Godstories in hul eie gemeenskappe sal vier en met geloofsmoed nuwe moontlikhede sal ondersoek.

Vir gemeentes wat reeds deur ’n moeilike oorgang of krisis gaan, het sy ook ’n hart. Sy hou daarvan om saam te luister en vrae te vra wat mense kan help om self geloofsonderskeidend duideliker te sien.

Sy het beslis opinies, erken sy. Maar sy glo nie goeie begeleiding beteken dat een persoon met die regte antwoord in die vertrek instap nie. Dit beteken eerder dat mense saam leer om biddend te luister.

Anandie wil saam met gemeentes luister en onderskei

Die woord “saam” verskyn oor en oor wanneer Anandie oor die kerk praat.

By Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie het sy beleef wat moontlik word wanneer dié woord meer as net mooi kerklike taal is.

Een van haar gunstelingherinneringe daar is ’n Pinkstersondag waarop mense uit vyf gemeentes en verskillende denominasies saam deur die buurt gestap en gebid het. Hulle het mekaar leer ken en ontdek dat hulle almal die Here se wil vir dieselfde dorp soek.

Dit was ook by Pierre van Ryneveld waar sy met ’n fokus op strategiese vertaling gewerk het (die proses om dit wat ’n gemeente saam onderskei, in konkrete keuses en optrede te vertaal). Hier het sy gesien hoe mense met uiteenlopende idees eenheid kon vind deur saam te soek en te luister.

Vir haar eindig ’n goeie proses nie wanneer die vergadering verby is nie. Dit help ’n span om anders te dink en saam op te tree. Dan volg die vertaalwerk: Wat beteken dit wat ons onderskei het vir die kerkraad, die jeugbediening, die erediens of die buurt?

Tog is ’n goeie proses vir Anandie nooit ’n einddoel op sigself nie. Die waarde daarvan word sigbaar in wat daarna tussen mense begin gebeur.

Wanneer sy praat oor die oomblikke wat haar laat dink: Dít is waarom ek geroep is, is dit nie noodwendig die groot strategiese prosesse wat eerste by haar opkom nie.

Dit is ’n kind wat tydens ’n doop of doopherinnering in ’n erediens oor hulle eie doop begin uitvra. Soms ontdek kinders dat hulle nog nooit gedoop is nie en gesprekke met die ouers volg. Meer as een kind het uiteindelik vir haar kom vra: “Mag ek ook gedoop word?”

“Ja, natuurlik,” antwoord sy. “Kom ons gesels.”

Dit is ook seniors wat aanbied om kos vir ’n vakansieprogram te maak. Mense wat een muur wil verf en uiteindelik die hele gebou aanpak. Iemand wat ander nooi om papiere in die buurt op te tel en sien hoe ’n gemeenskapsprojek daaruit groei.

Mense wat ontdek dat hulle nie net in die gemeente sit nie, maar deel is daarvan. Dat hul gawes, tyd en teenwoordigheid iets beteken.

“Dit is alles!” sê Anandie.

Die mens agter die pos van PSD: Gemeentebegeleiding

Dit was vanuit hierdie ervarings van gemeentewees dat ’n nuwe en onverwagse moontlikheid op haar pad gekom het.

Haar skuif na die Kaap was nie deel van ’n jarelange plan nie. Maar toe sy die posadvertensie met Arno deel, het hy haar aangemoedig om te waag. Hy kon sy nuwe stads- en streekbeplanningsbesigheid ook hierdie kant bou. So het ’n onverwagse moontlikheid die volgende tree geword.

Maar ’n mens leer ’n nuwe kollega nie net deur haar loopbaan, roeping en kerkvisie ken nie. Haar nuwe kollegas sal waarskynlik vinnig ’n paar ander dinge oor haar agterkom.

Sy luister graag na musiek terwyl sy werk en was effens bekommerd dat niemand tydens haar onderhoud gevra het watter musiek dit is nie. Die antwoord is geremixte musiek en mashups.

Sy het darem oorfone, stel sy haar nuwe kollegas gerus.

Haar go-to-Liedboeklied is Lied 266, “Ons Vader wat in die hemel woon”.

En mense sal dalk verbaas wees om te hoor dat sy mal is oor beestong met soetmosterd. Sy eet nie afval nie, beklemtoon sy, maar ’n mens sal haar maklik met ’n hele beestong vir haarself vang.

Dit is klein, speelse brokkies. Maar dit help ons onthou dat Kaapkerk nie bloot ’n nuwe postitel of naam op ’n organogram verwelkom nie.

Ons verwelkom ’n mens.

’n Dominee wie se roepingspad onder ’n boom begin het met die gebed dat God haar sal wys hoe sy gebruik kan word. ’n Leier wat groot waarde aan goeie prosesse heg, maar steeds opgewonde raak wanneer ’n kind vra: “Mag ek ook gedoop word?” Iemand wat lief is vir die kerk, maar juis daarom nie glo dat een mens met al die regte antwoorde in die vertrek kan instap nie.

Dalk is dit die lyn wat deur haar verhaal loop: haar begeerte dat mense sal weet hulle is nie onsigbaar nie. Dat hul stemme, gawes en teenwoordigheid saak maak. Dat iemand sal opmerk wanneer hulle nie daar is nie.

En dalk is dit ook die werk wat nou voor haar lê: om langs gemeentes te kom staan en hulle te help raaksien waar God reeds besig is, watter gawes reeds tussen hulle leef en wie dalk begin glo het dat niemand hul afwesigheid sal opmerk nie.

Want ’n gesonde geloofsfamilie is nie net een wat plek maak wanneer mense opdaag nie. Dit is een wat raaksien wanneer iemand nie daar is nie. Wat vra waar hulle is. Wat uitreik, nie omdat nog ’n naam van ’n lys afgemerk moet word nie, maar omdat hulle wil sê:

Jou teenwoordigheid maak saak.

Jy behoort.

Ons is saam geroep.

Welkom, Anandie. Mag ons saam met jou leer om dit al hoe beter vir mekaar te sê.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: