Open Hearts: Van ‘n ui en ‘n aartappel tot 74 kinders
Mariëtte Odendaal
“Vandag funksioneer Open Hearts selfstandig en is ons ’n huishoudelike naam in ’n gemeenskap van sigbare verval en agteruitgang. Aangesien die instansie danksy die kerk ontstaan het, het dit ook, nes ons kerk, ’n baken van hoop geword.”
– Ds Petrus Gysman | Open Hearts ECD Centre, Graaff-Reinet

Soms begin ’n groot verskil met iets klein: ’n ui, ’n aartappel, twee sakkies kruideniersware en mense wat besluit om hul harte vir hul gemeenskap oop te maak. Van ’n klein begin met 18 kinders en vier personeellede in 2021 het Open Hearts gegroei tot ’n geregistreerde VKO-sentrum wat vandag 74 kinders onderrig. Dié verhaal van hierdie baken van hoop het egter reeds jare tevore begin – met ’n paar gemeentelede wat nie die nood in hul gemeenskap kon ignoreer nie.
Van ’n sopkombuis na oop harte
Die verhaal van Open Hearts het sy oorsprong in ’n sopkombuis; daar waar mense se harte begin oopgaan het om hul gemeenskap te dien.
Sedert ds Petrus Gysman se bevestiging as leraar van die VGKSA-gemeente Graaff-Reinet in 2008, het dit hom diep geraak om te sien hoe vroue met afvalskroot ’n geldjie by die skrootwerf probeer verdien. “Dit was asof hierdie degraderende manier om ’n inkomste te probeer verdien nie meer vreemd was nie, maar die norm in die gemeenskap geword het,” vertel hy.
Tydens sy kwartaallikse Bybelstudie met die gemeentevroue het hy hulle aangemoedig om saam te dink oor hoe hierdie vroue gehelp kon word. Baie van die vroue in die gemeente het egter self net van staatstoelaes geleef.
“Na vele gesprekke en gebede het ’n vrou uit ons groep eendag voorgestel dat diegene wat in staat is om ’n ui of aartappel of twee te skenk, dit moet bring sodat daar met ’n voedingsprojek begin kon word.”
Dit was ’n klein begin, maar een wat sou groei. Die sopkombuis is in 2014 begin en gemeentelede het stelselmatig daarby betrokke geraak. Later het die Vriende van die Sopkombuis ontstaan – mense wat produkte en geld vir die projek geskenk het.
Die inisiatief het gegroei totdat soms tot 200 mense, onder wie kinders, weekliks van kos voorsien is – meestal mense buite die kerk.
“Die wonderlike hiervan was dat dit terselfdertyd aan ons as gemeente die geleentheid gebied het om die evangelie in die gemeenskap gestalte te gee, omdat ons die mense vooraf met die Woord bedien het.”
Toe die Covid-19-pandemie uitbreek, moes die sopkombuis in Maart 2020 noodgedwonge sy deure sluit, maar die gemeente se harte het oop gebly.


Closed doors, Open Hearts!
“Daar is gou besef dat die armoede in ons land baie dieper is as wat die blote oog kon sien,” verduidelik ds Gysman.
“Op Dinsdag 31 Maart 2020 kom een van die diakens met twee sakkies kruideniersware en met trane in haar oë by die pastorie se voordeur en sê: ‘Dominee, gee dit asseblief vir die mense wat dit nou nodig het.’”
Hierdie oomblik sou ’n keerpunt word. Ds Gysman het onmiddellik ’n beroep op die kerkraad gedoen om die hulpverlening uit te brei. Nie-bederfbare produkte is ingesamel en, met die nodige toestemming van die plaaslike polisie tydens die Covid-19-inperking, aan behoeftige gesinne versprei.
Die ervaring het die gemeente laat besef dat hulle nie net nood moes verlig nie, maar ook langtermyn hoop moes help bou. Dit sou uiteindelik lei tot die stigting van Open Hearts.
Open Hearts
Die gedagte aan ’n VKO-sentrum het reeds voor die Covid-19-inperking begin vorm aanneem. Ds Gysman se vrou, Liezelle, was in 2017 besig met haar Grondslagfase-studies en moes ’n praktiese module by ’n kleuterskool doen waar babas versorg word. Daar was op daardie stadium nie van hierdie kinders ingeskryf by die bestaande kleuterskole nie.
Intussen het ds Gysman met ’n lidmaat, wat ’n maatskaplike werker by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling was, begin gesels oor die moontlikheid om ’n nie-winsgewende organisasie te stig. Die gemeente se ervaring met die sopkombuis en kospakkieprojekte het getoon dat baie instansies makliker ’n geregistreerde NPO as ’n kerk finansieel ondersteun.
“So het ek en die betrokke lidmaat begin werk aan ’n grondwet vir die NPO en dit Open Hearts genoem.”
Nadat die kerkraad die voorstel goedgekeur het, is die Open Hearts Foundation op 24 September 2020 – Erfenisdag – amptelik gestig. ’n Eerste bestuursraad is verkies en die registrasieproses het begin.
“Die Open Hearts Foundation Kleuterskool is op 1 Maart 2021 geopen met 18 kinders en vier personeellede.”
Die oorspronklike droom was om ’n sentrum vir babas te begin, maar die behoefte in die gemeenskap het anders gelyk. Kinders tussen een en vyf jaar het die sentrum begin bywoon, en die bediening het daarvolgens ontwikkel.
“My vrou, Liezelle, is toe gekies as waarnemende prinsipaal. Sy en drie gemeentevroue, naamlik die VKO-praktisyns Alice Meyer en Junita Job, asook die kok, Sjernette Van Rooyen, was die eerste personeellede.”
Die sentrum het daarna deur die nodige registrasieprosesse gegaan en is vandag ’n geregistreerde vroeëkinderontwikkelingsentrum binne die Sarah Baartman-distrik van die Departement van Basiese Onderwys.

Hulle het met byna niks begin
“Die program het op ’n baie onsekere noot afgeskop; niks was in plek om ’n sentrum te begin nie,” vertel ds Gysman.
Hulle het sonder geld begin. Ouers is gevra om elke dag vir hul kinders ’n broodjie in te pak. As dit nie moontlik was nie, moes die kinders met mekaar deel.
Die eerste maande was ’n geloofstap. Die personeel het sowat ses maande sonder vergoeding gewerk omdat die geringe skoolfooie slegs kos en skoonmaakmiddels kon dek. Tog het almal vasgehou aan die oortuiging dat ’n veilige, skoon en liefdevolle omgewing vir die kinders eerste moes kom.
“Ons eerste prioriteit was om vertroue by die ouers en die gemeenskap waarin die sentrum geleë is, te vestig.”
Die gemeentevroue se hulp was van onskatbare waarde. Hulle het kookware, ’n gasstoof en ’n yskas beskikbaar gestel, terwyl Petrus en Liezelle hul eie mikrogolfoond, matte en komberse ingebring het sodat die kinders gemaklik kon eet en rus.
Wat vandag soos ’n gevestigde sentrum lyk, het dus begin met gewone mense wat bereid was om items vanuit hul eie huishouding te skenk.
“Vandag funksioneer Open Hearts selfstandig en is ons ’n huishoudelike naam in ’n gemeenskap van sigbare verval en agteruitgang. Aangesien die instansie danksy die kerk ontstaan het, het dit ook, nes ons kerk, ’n baken van hoop geword.”
Uitdagings
Die groei van Open Hearts was egter nie sonder uitdagings nie. “Die feit dat hierdie sentrum die ruimte van die kerk in beslag geneem het, is nie deur almal met ope arms verwelkom nie,” verduidelik ds Gysman.
Die uitbreiding van Open Hearts het beteken dat bestaande kerkbedieninge soms ruimte moes afstaan. Dit het verstaanbare spanning veroorsaak tussen die behoeftes van die gemeente en dié van die nuwe sentrum.
“Vir bedieninge soos die Sondagskool wat die klasse weekliks gebruik het en die gemeentevroue wat die kombuis as stoorplek vir hulle kombuisware gebruik het, was dit om verstaanbare redes moeilik om hierdie toegewings te maak.
“Soms was daar sterk verskille hieroor, maar die Belydenis van Belhar leer ons hoe belangrik ’n gees van versoening en verdraagsaamheid is.”
Om hierdie verhouding gesond te hou, het die kerkraad ’n komitee aangewys wat die samewerking tussen die kerk se bedieninge en Open Hearts help bestuur.
“’n Ander uitdaging waarmee ons steeds sukkel, is diefstal en die afbreek van die omheining.”
Die veiligheid van die kinders bly ’n ernstige bekommernis. Die sentrum is tans sonder ’n betroubare omheining nadat die draad herhaaldelik gesteel en beskadig is, terwyl die beboste agterkant van die kerksaal verdere veiligheidsrisiko’s inhou. Die gemeente se woekerkomitee is tans besig om fondse vir ’n nuwe omheining in te samel.
Hoop wat die gemeenskap raak
Vandag is daar 74 kinders by Open Hearts geregistreer – ’n merkwaardige groei sedert die opening met net 18 kinders in 2021. Die sentrum bestaan uit vier klasse vir kinders tussen een en vyf jaar, elk met ’n onderwyser, asook ’n administratiewe werker en ’n kok.
“Dit is ook van groot waarde dat ouers wat deur emosionele trauma gaan hulle harte by Open Hearts kan kom oopmaak,” vertel ds Gysman.
Open Hearts is dus meer as ’n kleuterskool. Dit het ’n plek geword waar ouers ondersteuning, begrip en praktiese hulp ervaar. In sommige gevalle is ouers ook met deernis begelei wanneer dwelmmisbruik en ander uitdagings die welstand van hul kinders bedreig het.
“Die sentrum ontvang ook maandeliks pap en soya vanaf ’n maatskappy, Holanathi,” vertel ds Gysman.
Hierdie voedingsondersteuning help om die kinders se dieet aan te vul, en elke tweede week ontvang hulle pap en soya wat hulle huis toe kan neem.
Wat beteken Open Hearts vir ouers?
Uiteindelik word die waarde van Open Hearts die duidelikste gehoor in die stemme van die ouers.
Raquel Adams vertel: “My kind is veilig en leer Christelike beginsels hier. Sy is baie lief vir haar juffrou en ek kon nie ’n beter sentrum vir my kind kies nie.”
Lindie Jansen sê: “Die omgee en liefde wat my kind hier ontvang, laat my kind tuis voel. Sy is mal oor haar juffrou. Sy voel veilig en leer baie deur die aktiwiteite wat hier aangebied word.”
Alzaan Hitzeroth getuig: “Open Hearts beteken vir my hoop en omgee. Die personeel het medelye met ons as ouers se uitdagings, veral ten opsigte van ons minderbevoorregte ouers se omstandighede. Hier ervaar ons liefde, vrede en omgee.”
Feirooz Kruger vertel: “Die feit dat my kind hier kan wees, help dat ek ook tyd vir myself het. Dit help dat ek in vrede op my eie besigheid kan fokus.”
Miskien is dit juis die grootste getuienis van Open Hearts: dat ’n gemeente se eenvoudige besluit om nie sy hart vir die nood van die gemeenskap te sluit nie, vandag steeds vrug dra in die lewens van kinders en hul ouers. Waar ’n sopkombuis eens mense gevoed het, help Open Hearts nou om jong lewens met veiligheid, liefde, Christelike waardes en hoop te vorm.
Open Hearts is inderdaad nie bloot ’n VKO-sentrum nie, maar ’n baken van hoop wat wys wat moontlik is wanneer geloof in praktiese liefde gestalte kry.
Vir meer inligting kan ds Petrus Gysman by 082 588 1956 of pgysman10@gmail.com gekontak word.
Hierdie storie vorm deel van Sinani
Sinani is ’n storie-reeks van Diensgroep Diaconia wat gemeentes se verhale van diensbaarheid, barmhartigheid en saamleef dokumenteer en vier. Sinani beteken “Ons is met julle” en nooi die kerk om weg te beweeg van doen vir mense na leef saam met mense.
Deur hierdie verhale ontdek ons hoe diakonaat gestalte kry waar gemeentes langs mense staan, verhoudings bou en ook self deur dié ontmoetings verander word.


