Palmsondag: Kyk, jou Koning kom na jou toe, net waar jy is

👤 Wilmi Wheeler

“Kyk, jou Koning kom na jou toe. Hy is sagmoedig en ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.” – Matteus 21:5

Ek weet nie van jou nie, maar ek verwag darem ’n bietjie meer dramatiese flair van ’n koning. ’n Wit perd miskien. ’n Goue waentjie. Trompetgeskal. En darem ’n entourage wat weet hoe om ’n opwagting te maak. Ons verstaan immers koningskap vandag as ’n titeldraer met ’n vol CV. ’n Instagram-waardige lewe. Iemand wat wen, wat weet, wat hul naam in marmer laat kerf.

Maar dan kom Jesus, Palmsondag in, stadig oor die klippe van die pad na Jerusalem met stof op sy sandale en op die rug van ’n donkie. En dis nie eers sy eie donkie nie, maar ’n geleende een.

Dit voel amper soos die Bybelse weergawe van iemand wat by ’n gala opdaag met ’n UberGo en ’n tweedehandse pak. En tog, die mense stroom saam en hulle juig. Hulle gooi palmtakke en klere op die grond, maak vir Hom ’n pad soos vir ’n koninklike optog. “Hosanna!” roep hulle. Want iewers, dalk sonder om dit mooi te kan verwoord, besef hulle: Hier is iemand… anders.

En dis wat Palmsondag so spesiaal maak: die bewuswording dat God nie ver en vreesaanjaend is nie. Hy is nie net groot nie, maar ook naby. Nie net heilig nie, maar ook benaderbaar.

Palmsondag is nie die triomfantelike klimaks van die evangelie nie. Dit is eerder die stille begin van die grootste ommekeer. Dis Jesus wat opdaag waar niemand Hom verwag het nie en op maniere wat niemand sou kies vir ’n koning nie. En dis dalk presies die punt.

’n Donkie is nie indrukwekkend nie, maar wel ‘n betroubare dier. Dis ’n pakdier – iets wat las dra. En dit die tipe koning wat ons regtig nodig het: nie een wat parade hou nie, maar een wat saam met jou dra. Wat las dra. Wat opdaag in die gewone.

Dis ’n vreemde maar wonderlike waarheid: God kom nie net in die heilige ruimtes nie. Hy kom in die ongemaklike ook. In jou tuin waar jy met ’n koppie tee sit en wonder of jy genoeg is. In die hospitaalkamer waar dit voel asof jou liggaam jou verraai. Wanneer jy jou kinders by die skool aflaai en jy wonder of jy ‘n goeie ouer is. Of in ‘n Zoom-vergadering waar jy uitsigloos voel.

Hy wag nie vir die ideale weer of die regte gebed of die perfekte atmosfeer nie. Hy ontmoet jou waar jy is. In die middel van jou seisoen, jou chaos, jou swakheid. Ons dien immers ‘n Koning wat nie net die wêreld red nie, maar ook jou roetine deurbreek. Wat nie net die geskiedenis verander nie, maar ook jou oggend.

Hy kom na jou toe. Nie eendag. Nie “as jy reg is” nie. Maar nou. Vandag. In sandale. Op ’n donkie. Met ’n liefde wat nie bang is vir jou gebrokenheid nie.

Die fyn ironie van Palmsondag

Ek hou van die ironie van Palmsondag. Dat die skare wat roep “Hosanna!” later ook stil was toe die kruis opgelig word. Ek hou daarvan omdat dit eerlik is. Want dis ons. Ons geloof is nie altyd konsekwent nie. Ons lojaliteit is wisselvallig, gevang tussen hoop en vrees, liefde en selfbehoud. Maar dan, in die middel van daardie gebroke koor, bly een ding dieselfde: God se teenwoordigheid.

Dis juis dít wat Palmsondag so besonder maak – dat Jesus nie wag vir volmaakte geloof nie. Palmsondag sê: selfs al verstaan jy nie alles nie, selfs al hou jou lewe nie verband met die liturgiese kalender nie, selfs al voel jy nie soos ‘n goeie gelowige nie. Jou Koning kom na jou toe.

Hy kom sonder swaarde, sonder skielike donderslae. Net sandale op klippe. ‘n Donkie onder Hom. En ‘n liefde wat nie bang is vir jou gebroke wêreld nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: