Pannekoek en koffie lei geloofsgesprekke in

DJ Muller

Vrydag, 24 Julie 2026, het die ring van Tulbagh – VGK en NGK saam – ‘n uitreikgeleentheid op Prince Alfred Hamlet aangebied: warm pannekoeke en ‘n koppie koffie vir die gemeenskap, reg langs die Spar. Dit is ‘n plek waar almal in elk geval verbykom – vir Vrydagmiddag-inkopies, ná ‘n draai by die kliniek oor die pad, of terwyl hulle wag vir ‘n saamry-geleentheid huis toe. Op die sypaadjie het ‘n mens ‘n ware deursnee van ons land gesien: kleuters tot bejaardes, alle tale en rasse, almal op een plek. Vir sommige was die pannekoek en koffie ‘n onverwagse bederf; vir ander die eerste, of selfs die laaste, ding wat hulle daardie dag sou eet.

Jonette Cronje, mamma van twee en jeugwerker by NGK Goudini op Rawsonville was een van die groep wat uitgereik het. Sy vertel my dat dit gou duidelik geword dat sy nie sommer net “besig is met die lewe” nie – die lewe was eerder besig met haar. Sy oefen om aanpasbaar te wees en met oop hande te leef: hande wat kan gee en deel van wat sy het, maar ook nie vashou en terughou van God nie. Vir haar is ons meer as net ons beroepe, ons rol in die gesin, of ons ouderdom. God ontmoet haar daagliks op kreatiewe maniere, en hou haar deur geloof styf teen Hom vas, sodat sy in elke oomblik kan beweeg en Sy koninkryk kan bou. Om met die jeug te werk, sê sy, is niks minder as ‘n voorreg nie – sy droom en beplan biddend aan ‘n Sondag waar hulle ‘n ontmoeting met God kan hê.

Ek het ek haar gevra om oor die res van die dag se ervarings met my te deel.

Wat het jou verras oor die mense met wie jy te doen gekry het?

“Sodra jy iemand nader en kom “klop” vir toegang tot ‘n gesprek, is daar eers ongemak en ‘n mate van agterdogtigheid. In ‘n oomblik moet iemand besluit of hulle gaan sê: “Nee dankie, ek stel nie belang nie,” nog voordat hulle weet wat aangebied word. Of hulle kom tot stilstand, maak oogkontak met ‘n vreemdeling, en is oop vir ‘n gesprek.

Die eerste reaksie wanneer ek vir iemand ‘n pannekoek en koffie aangebied het, was: “Wat kos dit?” Die realiteit van ons wêreld is dat alles iets kos, en ons betaal nie net met geld nie. Die eerste kontak met ‘n vreemdeling is dan een van kwesbaarheid, eerder as vrolikheid en openheid.

Die tweede reaksie is dan: “Hoekom doen julle dit? Waarvoor is dit?” Alles wat ons elke dag doen en sê, het seker ‘n motief. Tog is daar ook ‘n kopkrap-oomblik vir: “Jy is ‘n mens, ek is ‘n mens, en ek wil iets liggies, lekker en uit liefde met jou deel.”

Ek het drie koppies koffie en pannekoeke gevat en by ‘n ouma op ‘n trappie gaan sit, en ‘n ander genooi om nader te skuif en deel te wees van ons partytjie. Dit is die erkenning van ‘n veilige ruimte met ‘n vreemdeling wat geen agenda het nie, waar harte gedeel kan word. Ons kon gesels oor hulle dag, oor die pyne en kwale wat hulle daardie dag na die kliniek gebring het, en ook oor die verlies van ‘n buurman wat die Woensdag oorlede is.

Die ouma wat nader geskuif het, het aan die einde gedeel dat sy kom sit het met ‘n hoofpyn, en eintlik vir my wou vra om geld sodat sy ‘n pynpil by die Spar kon gaan koop. Tydens die gesprek het sy egter besef dat God haar eerder wou kom voed met kos en ‘n vrolike gesprek. Dan, in ‘n oomblik, draai die hele gesprek om: waar ek gekom het om hulle te seën, seën hulle vir my! Mense verras my altyd, en die twee ouma’s het beslis ‘n vingerafdruk op my agtergelaat.”

Wat het jy oor God ervaar?

“Wanneer daar iets uitgedeel word, vat dit nie lank voordat nog mense nader kom nie – veral sodra dit bekend word dat dit kos is, en verniet. Strategies het ek ‘n hoek gekies waar ‘n ouer man gestaan het. Gaan groet, en vir hom ‘n pannekoek aangebied. Terwyl ons gesels, kom nog ‘n vriend nader. Ek verskoon myself en gaan haal nog twee. Gesels. Verskoon en gaan haal nog. Daar sit-staan ons toe in ‘n groep van vyf en gesels oor die lewe.

Die een man is ‘n bokwagter. Dit was ongelooflik om te hoor hoe hy werk, en van sy jare se ondervinding met wag hou en werk met bokke. Hy het twee honde: die een is opgelei om die hekke oop en toe te maak, en die ander om die bokke te jaag. Daarby ry hy ook nog op ‘n perd, met ‘n verkyker byderhand. Terwyl hy dit deel, het ek ‘n ander perspektief oor my plek in Psalm 23 gekry. God is ons Herder; ek is soms die skaap, maar ander kere is ek die opgeleide hond wat saam en in gehoorsaamheid met God, die Wagter, werk. Ek ken elke fluit, ek verstaan my instruksies, en ek bly by Hom in Sy huis waar Hy vir my sorg. Dit is uit hierdie besondere band dat Hy my kan stuur om Sy bokke in die berge te gaan haal en te bring waar hulle ook vir die nag kan rus.

Die bokwagter kan ook van ‘n afstand af sien as die bokke te min is, of as daar iewers iets uit plek uit is. Dit is dan wanneer hy en sy perd, Jess, ook die klipperige berg op gaan. Hy weet wanneer daar ‘n rooikat was, of wanneer een beseer of siek is. Ek het ook die vallei anders verstaan deur sy perspektief. God weet wanneer daar gevaar is, ‘n roofdier wat my lewe bedreig. Hy bly nie weg nie; Hy kom nader na my toe, tot in die gevaar in. Sy oë is altyd op my.”

Wat het jy van jouself ontdek?

“Ek is gebore en het grootgeword in ‘n Christelike huis en familie. Op hierdie dag, op ‘n sypaadjie, het ek iets verstaan van hoe dit voel wanneer iemand vir die eerste keer van Jesus hoor.

Ek het ook nog nooit iemand ontmoet wat nie weet wat ‘n pannekoek is nie – selfs nie oor taal- en rasgrense heen nie. Almal weet wat dit is.

Ek het ses mense ontmoet wat nog nooit van ‘n pannekoek gehoor het nie. Voor hulle staan toe ‘n baie entoesiastiese persoon wat iets warms om te eet uithou, en dan ook nog verwag dat jy dit sommer moet eet! Dit verg heelwat deursettingsvermoë om iemand te oortuig om iets vreemds te vat, en dan nog in jou mond te sit ook.

Is dit nie maar hoe dit is wanneer ‘n mens vir iemand van Jesus vertel nie? Dit is ‘n vreemde en nuwe idee. Dit is verniet en kos jou niks. Daar is geen agenda nie. Dit is vir jou ‘n risiko, maar eintlik is dit vryheid.

Wanneer hulle dit vir die eerste keer probeer het, het hulle eers net ‘n bietjie suiker op hul tong geproe. Daarna het hulle ‘n klein stukkie afgeknyp en daaraan geproe. Toe hulle oortuig was dat dit lekker kan wees, het hulle eers ‘n hap gevat. Ander kere moes ek eers iemand kry wat hul huistaal kan praat, sodat hulle saam met hulle ‘n stukkie kon eet en oor die smaak kon getuig. Die stappe wat by al ses afsonderlik gebeur het, was so natuurlik.

My getuienis, en ook hoe ek oor dissipelskap dink, het Vrydag verander. Hoe deel ek Jesus elke dag met ander, en wie nooi ek by die gesprek in? Ek hoop om elke dag so te leef, nie net tydens ‘n uitreik nie.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: