“Op pad” – ‘n reeks wat gemeentegrense oorbrug

👤 DJ Muller

Wat gebeur wanneer gemeentes, oor verskillende dorpe en ringe heen, besluit om op dieselfde pad van prediking en geloofsvorming te stap? Die gesamentlike preekreeks wat vanjaar deur die ringe van Tulbagh en Worcester aangepak word, bied ’n inspirerende antwoord.

Die reeks, “Op pad”, fokus op God se beweging met mense reg deur die Bybel – ’n tema wat diep aanklank vind in verskillende kontekste. Gemeentes uit beide die NG en VG ring van Tulbagh neem al vir etlike jare aan hierdie inisiatief deel, maar vanjaar het hulle doelbewus hul arms wyer oopgemaak. Verskeie gemeentes uit die ring van Worcester het toe ingetree – ’n sterk aanduiding van groeiende samewerking en gemeenskap.

“Die gedagte is dat elke deelnemende gemeente op dieselfde Sondag met dieselfde tema werk,” verduidelik ds. Rudolph Scharneck van Rawsonville. “In die week daarna word gesprekke vir lidmate gereël na aanleiding van die preek. Ons voorsien ook gespreksmateriaal vir hierdie doel.”

Die reeks strek dus veel verder as net gesamentlike preekbeplanning. Dit sluit gesprekke in huise of kleingroepe in, en sluit vanjaar op 21 September af met ’n groot gesamentlike Nagmaalsdiens in Ceres – ’n simboliese en werklike viering van verbondenheid.

Samewerking wat eenheid bou

Vir die leraars wat hierby betrokke is, gaan dit nie net oor ’n praktiese reëlingsmodel nie, maar oor ’n dieper verbintenis. “Ons wil die eenheid onder verskillende gemeentes versterk – en dit beliggaam,” sê Rudolph. “Wanneer lidmate byvoorbeeld met vriende uit ander gemeentes gesels, kan almal saam praat oor dieselfde tema. So beleef hulle dat hulle deel is van ’n groter familie van gelowiges.”

Die inisiatief bou ook aan die kollegaskap tussen predikante. Deur saam temas te ontwikkel, preeksketse op te stel en kreatiewe idees uit te ruil, vorm daar ’n sterk gevoel van samewerking en gedeelde roeping. “Dis nie net predikante wat hulself isoleer in hul eie kantore nie – dis ’n span wat sáám nadink oor wat ons gemeentes nodig het om geestelik te groei.”

Hoe werk die beplanning?

Die proses begin vroeg in die jaar wanneer die ringsleraars tydens hul eerste byeenkoms saam oor ’n tema besluit. ’n Kleiner taakspan werk dan die subtemas en tekskeuses uit, wat later deur die hele groep goedgekeur word. Die temas word dus nie van buite voorgelê nie, maar vloei uit dit wat in die harte van die leraars leef – en wat hulle glo hul gemeentes op dié tydstip nodig het.

Wanneer die temas vasgelê is, begin die samewerking aan preekmateriaal. Een of twee predikante – dikwels nabygeleë kollegas – werk saam aan ’n preekskets en liturgiese voorstelle. Hierdie word tydens verdere byeenkomste verfyn, en uiteindelik geredigeer en bymekaargesit deur ds. Alex Clark, wat tans ringsvoorsitter is. Die finale pakket word aan alle deelnemende gemeentes uitgestuur.

Daarbenewens word aanvullende materiaal ontwikkel vir kleingroepgesprekke of gesinsgebruik. “Vanjaar beoog ons om ook luisteroordenkings vir gesinne uit te stuur – weekliks, en gebaseer op die tema van die Sondag,” sê Rudolph.

’n Getuienis van wat moontlik is

Die waarde van so ’n reeks lê nie net in die inhoud wat gedeel word nie, maar ook in die geestelike effek wat dit op lidmate het. Gemeentelede ervaar dat hulle deel is van iets groter – nie net van hul plaaslike gemeente nie, maar van die wyer liggaam van Christus. “Ons hoop dat lidmate sal ontdek hoe hul verbondenheid aan ’n groter kerkverband hul eie geloofslewe verryk,” sê Rudolph.

Vir predikante bied die reeks ’n gesonde ritme van wedersydse ondersteuning, teologiese verdieping en kreatiewe samewerking. “Elke jaar wys hierdie proses vir ons dat dit wél moontlik is om oor verskillende spiritualiteite en teologie heen saam te werk – op ’n betekenisvolle en vrugbare manier,” sê hy.

’n Model vir ander?

Die preekreeks “Op pad” staan as ’n uitnodiging aan ander gemeentes en ringe: Wat is moontlik as ons saamwerk? As ons vertrou dat die Gees ook deur kollektiewe gesprek, gebed en voorbereiding werk? Hierdie model herinner ons daaraan dat kerkwees nie net ’n plaaslike bediening is nie – maar ’n roeping tot ’n breër verbondenheid.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: