Ronelda Visser: Die kerk se storie deur haar oë

👤 Wilmi Wheeler

Ses jaar gelede het ek by Kaapkerk ingestap as iemand in haar vroeë twintigs wat nog besig was om haar voete te vind. Vars in die Kaap. Vars in ‘n stad. Vars in ‘n wêreld wat vir my groot gevoel het.

Ek kom uit ‘n dorp waar die paaie meer stof as teer geken het. ‘n Dorp met stopstrate eerder as verkeersligte. Jy kon skaars verdwaal, want almal het almal geken en as jy te lank by ‘n winkel vertoef het, het iemand se tannie waarskynlik al vir jou ma laat weet sy het jou gesien.

En toe land ek hier. By Kaapkerk (toe praat ons nog eerder van die Sinode van Wes-Kaapland).

Ek onthou die onsekerheid, die imposter syndrome. Die vrae wat jongmense dikwels saambring na nuwe plekke: Gaan ek inpas? Gaan ek hierdie kan doen? Gaan mense my ernstig opneem?

En toe ontmoet ek my bestuurder, Ronelda Visser.

Dis ‘n gevaarlike ding om iemand te probeer beskryf wat vir ses jaar jou bestuurder én mentor was. Want jy weet jy skryf nie eintlik oor ‘n posisie nie. Jy skryf oor ‘n mens. Oor iemand wie se menswees stadig en amper ongemerk tussen gewone dae ingesypel het.

En nou sit ek in die vreemde posisie om met haar ‘n onderhoud te voer sodat ons haar kan groet.

Dis ‘n snaakse omdraai van rolle. Want gewoonlik is óns die mense met die vrae. Ons was die span wat uitgery het. Die mense wat stories gaan haal het.

En dalk is dit juis waar Ronelda se storie begin. Nie by Kaapkerk nie, maar lank voor dit.

Hoe Ronelda by Kaapkerk beland het

Op papier het Ronelda se loopbaan gelyk soos iemand wat maklik elders kon beland: In korporatiewe kommunikasie, toerisme, groot handelsmerke, media, gesondheid of gemeenskapsontwikkelingswerk. Sy het in ruimtes beweeg waar dinge vinnig, strategies en professioneel gebeur.

Maar roeping werk soms vreemd. Ronelda se lewe is geen uitsondering nie. Voor sy in 2019 hier begin het, was sy nie aktief op soek na ander werk nie. Tog stuur haar skoonsuster die vakature van kommunikasiebestuurder vir haar aan met drie groot vraagtekens. Ronelda ignoreer dit eers, maar daardie Sondag word dieselfde pos in die kerk afgekondig. Twee keer.

Amper asof God haar liggies aan die skouer tik.

Ek kan my voorstel hoe sy daardie posbeskrywing toe eers aandagtig gelees het. En ek dink sy het nie net ‘n werksgeleentheid raakgelees nie. Sy het die potensiaal raakgelees.

“Ek het gevoel hier is ’n plek waar ek ’n verskil kan maak,” vertel Ronelda. “Ek het geweet die kerk is meer as die negatiewe stories wat mense soms hoor.”

Dit is iets wat baie mense nie verstaan nie. Die NG Kerk se storie is groter as die reputasie wat menigte Sondagkoerante so duidelik probeer skets.

Ronelda sien kommunikasie as ’n roeping, nie net ’n pos nie

Sy het geweet die kerk is nie net debatte en strukture en moeilike nuusopskrifte nie. “Vir my was dit nooit net aankondigings of advertensies nie,” sê sy. “Dit moes gevoelstories wees. Stories wat wys wat in gemeentes leef.” Want sy het geweet van mense wat sop kook. Van mense in gemeentes wat vir mekaar opdaag. Van geloof wat prakties raak. En sy het gedink: Miskien kan goeie storievertelling help dat mense dit weer sien. En tog het sy uiteindelik by die sinode beland. Nie omdat dit die mees voor die hand liggende volgende tree was vir haar loopbaan nie, maar omdat sy geglo het hier is ’n storie wat anders vertel moet word.

“Die sinode kan maklik soos ’n administratiewe liggaam lyk,” vertel sy. “Van buite af kan dit maklik voel soos strukture, besluite, prosesse en vergaderings. Maar dit gaan eintlik oor mense.”

Dalk is dit waarom Ronelda so trots is op die manier waarop Kaapkerk se kommunikasie oor die jare verander het. Minder aankondigings en institusionele taal en meer stories, gesigte en getuienisse. ’n Kerk wat nie net in besluite en vergaderings sigbaar word nie, maar in mense wat leef, dien, sukkel, opdaag en hoop.

Kerkstories is getuienisse van God wat deur mense werk

Dis hoekom ons as span nie net agter skerms gebly het nie. Ons het ingeklim. Ons het gery. Na die Weskus. Die Suid-Kaap. Klein dorpe. Afgeleë gemeentes. Plekke waar mense soms voel hulle bestaan ver van die groter liggaam af. “Dit was een van die mees vervullende dele van die werk,” sê Ronelda. “Om in jou kar te klim, na gemeentes toe te ry en vir mense ’n platform te gee wat hulle andersins dalk nooit sou gehad het nie.”

En elke keer wanneer Ronelda praat oor die stories van die kerk wat ons vertel het, gebruik sy dieselfde woord: Voorreg. “Wanneer iemand voor jou kamera, mikrofoon of lens kom sit, vertrou hulle jou met iets van hulleself,” vertel sy. “Baie gesprekke begin eers versigtig, maar dan maak mense oop. En soms gaan jy vir een klein dingetjie, soos ’n foto, ’n trompet, ’n kort stukkie inligting en dan ontdek jy ’n mens met ’n ongelooflike getuienis.”

Ronelda stap weg met hoop vir die kerk

Wanneer jy vir byna sewe jaar soveel stories hoor, begin jy iets raaksien oor die toestand van geloofsgemeenskappe. So, ek het gewaag om haar te vra wat sy dink die toestand van die kerk in Suid-Afrika is.

“Die woord wat by my opkom, is resilience.” Sy vertel ook dat dit nie net vir haar van toepassing op gemeentes is nie, maar iets wat so ’n inherente deel is van Suid-Afrika. “Mense kry swaar, gemeentes kry swaar, predikante kry swaar en tog gee mense nie sommer op nie.”

Dit is vir haar so mooi dat gemeentes dikwels baie naby aan die nood om hulle leef. “Wanneer storms, vloede of krisisse kom, vra mense nie eerste wie jy is of hoekom jy daar is nie. Hulle vra: Hoe kry ons weer krag in die dorp, hoe help ons mense van ’n dak af, hoe herstel ons pype en paaie, hoe sorg ons dat niemand alleen agterbly nie?”

Dat gemeentewerk oorspoel na die breër gemeenskap toe, gee vir haar hoop vir die kerk.

Ronelda se gebed vir Kaapkerk en ons gemeentes

Toe ek haar aan die einde van die onderhoud vra wat haar gebed vir Kaapkerk is, was haar antwoord eenvoudig: “Wees kerk. Moenie vergeet hoekom julle bestaan nie. Hou aan om die roeping van die kerk raak te sien en te dra.”

En vir gemeentes: “Julle is nie alleen nie. Selfs wanneer ‘n gemeente klein is, ver voel of swaar kry, julle is deel van iets groter. Daar is ander wat saam bid, saam dra en saam hoop.”

En miskien is dit die mooiste nalatenskap van alles.

Dat ná sewe jaar, honderde stories en duisende kilometers, Ronelda steeds dieselfde ding glo waarmee sy begin het: Heel aan die einde gaan dit steeds oor mense.

“As ek net ’n klein bietjie daarmee te doen gehad het,” sê sy, “kan ek my kop neersit en rustig slaap.”

Die volgende hoofstuk in Kaapkerk se kommunikasiespan

So, wanneer ons afskeid neem van Ronelda, is dit nie met ‘n punt aan die einde van ‘n sin nie. Dit is eerder ’n komma. ’n Asemteug. ’n Oorgee van ’n storie wat verder vertel moet word.

En dit is waar ek, met baie dankbaarheid en ’n effense knop in die keel, weer in die prentjie inkom. Ses jaar gelede het ek by Ronelda geleer hoe om die kerk se stories raak te sien.

Nou kry ek die voorreg om as Kaapkerk se nuwe kommunikasiebestuurder hierdie werk verder te dra. Nie alleen nie, maar as deel van ’n groter familie van gelowiges. En met dieselfde oortuiging wat Ronelda by ons agterlaat: Die kerk se storie is steeds die moeite werd om te vertel, want heel aan die einde gaan dit oor mense en oor God wat steeds in en deur sy mense werk.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: