Skuurpapier en samesyn vind mekaar by Bellville-Vallei

👤 Wilmi Wheeler

Daar is ‘n sekere sjarme aan ‘n kerkgebou wat al ‘n paar dekades se stories op sy mure dra. Die effe dowwe vernis, die kraakgeluide van ‘n deur wat al duisende kere oop- en toegaan, die merke teen die mure van kinders wat op die verkeerde tyd en plek ‘n pen in die hande gekry het. Dit is soos karakterlyne op ‘n gesig – dit vertel ‘n storie.

Maar ‘n gebou wat mense se harte moet huisves, verdien dit om self met sorg behandel te word. En wie beter om dit te doen as die mense wat dit hul geloofshuis noem?

Dis hoekom Bellville-Vallei se gemeentelede besluit het om vir hulle kerkgebou ‘n bietjie liefde te wys – met skuurpapier, skropborsels en goeie geselskap. Hulle noem dit Hartekwas – want dit is presies wat dit was: ’n besef dat jy jou gemeente kan dien met meer as net ‘n sitplek op ‘n Sondag.

Bellville-Vallei

Bellville-Vallei ervaar koinonia tussen saagsels en skropborsels

Chris Wheeler, predikant van Bellville-Vallei, het iets beet as hy sê: “Jy leer ken medegelowiges op ‘n ander vlak as jy besig is om saagsels op hulle kop te mors.”

En dít is die ding. Daar was geen orrelmusiek in die agtergrond of ‘n amptelike preek vanaf ‘n kansel nie, maar die evangelie was daar. Dit was in die skaterlag toe iemand vir die hoeveelste keer seepwater in hulle gesig spat. Dit was in die geselsies wat spontaan ontstaan het tussen jonk en oud wat mekaar dalk nog net op ’n afstand gesien het.

Dit was in die klein oomblikke van koinonia – ‘n Griekse woord wat nie net “gemeenskap” hier beteken nie, maar ‘n geestelike verbondenheid aan mekaar. Die hoofdeur is nou mooi afgeskuur en heelgemaak. Die vertrekke ruik vars. Die agenda’s van kerkraadsvergaderings wat in die kas lê sedert 2004 is nou weggesit. Die kerkgebou self het ‘n opknapbeurt gekry, maar dit was duidelik: die eintlike bouwerk het in mense se harte plaasgevind.

“Ons weet God is nie so baie gepla oor hoe skoon of heel geboue is nie, maar ek hou daarvan om te dink dat Hy geglimlag het oor hoe jonk en oud in mekaar se stories kon deel terwyl hulle saamgewerk het aan ‘n gemeenskaplike doelwit,” vertel Chris verder.

Want dit is mos die regte bouwerk. Nie net in bakstene en balke nie, maar in harte en bande. Jy dink jy is besig om ‘n deur te skuur, maar eintlik skuur jy ‘n paar lae af tussen mense wat dalk nog nooit regtig met mekaar gepraat het nie. Jy dink jy is besig om ‘n vertrek skoon te maak, maar eintlik maak jy jou kop ook ‘n bietjie skoon. Jy dink jy kom net help, maar eintlik besef jy later: “Hierdie het ek self ook nodig gehad.”

En natuurlik was daar die onmisbare versnapperinge, bedien in die klassieke wit NG Kerk-bordjies wat al menige kerkbasaar oorleef het. Met moeg, verniste hande het die helpers gesit en stories uitgeruil – oor hoe dinge vroeër was, oor drome vir die gemeente se toekoms en oor wie se arms môre heel waarskynlik die seerste gaan wees.

Soos die dag tot ‘n einde gekom het, was daar iets besonders aan die gesig van moeg, maar tevrede mense wat hulself in hul kerk se skaduwee tuismaak.

En as ‘n skarnier of twee minder kraak op ‘n Sondagoggend? Wel, dan is dit net ‘n bonus.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: