Stukkende gebou, stukkende mense, om ‘n heel tafel
👤 Wilmi Wheeler
In ‘n wêreld vol gebrokenheid, vind God maniere om sy liefde en genade op die mees onverwagse maniere en plekke te openbaar. Die gemeente van Bellville-Vallei het, ten spyte van die fisiese verval van hul kerkgebou, onlangs hierdie transformerende krag van God se genade eerstehands ervaar. Bellville-Vallei se kerkgebou is stukkend. Maar in ‘n tyd waar finansiële uitdagings en strukturele verval die toekoms van die gemeente dreig, het die Here sy teenwoordigheid op ‘n tasbare manier in hul midde bevestig – in die heelheid wat Hy bring te midde van hulle gebrokenheid.
Ds. Chris Wheeler, die predikant van NG Kerk Bellville-Vallei, deel met ons die kragtige getuienis en insigte wat ontstaan het te midde van hierdie gebrokenheid.
“Bellville-Vallei beleef soos baie ander klein gemeentes uitdagings. Ons gebou het deur die jare swaar gely onder ouderdom, die weer, vandalisme en diefstal. Eredienste in die wintermaande geskied onder die gedurige drup-klanke van water wat deur die dak lek, terwyl die reuk van muwwe matte en verrotte hout ons sintuie vul. Ons gebou is stukkend en dit voel soms asof ons saam daarmee vergaan.
Tog, te midde van die gebrokenheid van ons fisiese ruimte, het ons iets baie belangriker begin besef – ons gemeente is nie in bakstene en sement geleë nie, maar in die harte van ons mense.
Diensbaarheid was immers nog altyd die hartklop van ons gemeente; om ons hulpbronne en energie te bestee aan koninkrykswerk eerder as om op te hoop.
Dit is hierdie waarheid wat ‘n groep vroue in ons gemeente geïnspireer het om op te staan en verantwoordelikheid te neem om maniere te vind om ons gemeente te onderhou en die koninkryk van God uit te bou. Wat ons egter ontvang het, was baie meer as net finansiële ondersteuning. Ons was oorweldig deur die goedhartigheid en bereidwilligheid van mense om dit wat hulle het, in ‘n wêreld wat ook elke dag duurder raak, te deel sodat die gemeente kan bly voortbestaan. Hul liefde en ondersteuning het ons weer laat glo dat ons nie alleen is nie.
Om dankie te sê, het ons ‘n Sondag in Julie as feesdag benut om die Here se genade te vier gedurende hierdie uitdagende tyd. Dit was ’n Nagmaalsondag en ons het besluit om die nagmaal in die konsistorie te hou, rondom langtafels, met ’n groot feesmaal na die diens.
Ons moes deur die sy-vleuel loop om daar te kom, ‘n roete wat ons deur ‘n plek geneem het waar die plafon ingeval het weens vandalisme op die dak. Stukkende mense op reis deur ’n stukkend kerkgebou.
Die gemoedere was swaar, elke tree ‘n herinnering aan die fisiese gebrokenheid van ons gebou en die uitdagings wat ons in die gesig staar. Maar toe ons die konsistorie binnegaan, het iets wonderliks gebeur.
Daar, voor ons, was die prag van gedekte nagmaaltafels wat ons verwelkom. Heel. Mooi. Gereed. Sorgvuldig geplaas sodat dit die lekplekke in die konsistorie se dak vermy.
Stukkende mense om ‘n heel tafel
Ek neem my plek in agter die ‘hooftafel’ en terwyl ek so na almal kyk, gereed om die nagmaal te bedien, word ek herinner aan ‘n gesprek met ‘n kerkraadslid vroeër die jaar. Ons het besin oor ‘n pad vorentoe vir die gemeente en hy het dié opmerking gemaak: ‘Vallei is nie ‘n gebou nie. Vallei is mense.’ En in daardie oomblik val ‘n klompie dinge in plek en ek sien raak wat die man so paar maande terug so mooi saamgevat het. Bellville-Vallei is ‘n gemeente van mense – stukkende mense. Elkeen met ‘n paar gate in die plafon en mure wat gekraak het.
Wat tog, ten spyte daarvan, deur die genade van God, saam om ‘n heel nagmaaltafel kom sit en terugdink aan dit wat Jesus gedoen het. Sodat ons stadig maar seker deur die Gees heelgemaak kan word.
Ek staan daar, die ‘wounded healer’ soos Nouwen ons beskryf, en neem met baie vreugde my stoel in aan tafel saam met die ander stukkende mense en dank God vir genade op genade. En weet julle, toe het ons saamgeëet, -gedrink, -gelag en -gesels tot die laaste persoon huis toe is om te gaan rus. Dit het soos regte kerk gevoel.
Om gehoorsaam te bly aan ons roeping om diensbaar te wees, het inderdaad ‘n groter uitdaging geword. Elke dag bring nuwe beproewings mee en soms voel dit of die gewig van ons omstandighede ons geloof toets. Ook vir my, as dominee, is dit ‘n voortdurende stryd om hoop te vind te midde van kwynende bankbalanse en druppende water wat deur die dak lek.
Maar dit is in oomblikke soos hierdie met Bellville-Valleiers saam om die nagmaaltafel dat die Here se werk werklik sigbaar word, nie net in die groot gebare nie, maar in die klein, betekenisvolle ervarings wat ons as gemeente deel.
Vroeg Maandagoggend ontvang ek ‘n boodskap van een van die lidmate, wat die nagmaal die vorige dag op ‘n diepgaande manier beleef het. Hy bedank my vir die geleentheid en sy woorde het my hart aangeraak. Hy skryf: ‘Gister se nagmaal het vir my as gebroke mens, in my stukkende kerkgebou as teken kom staan, dat God ons nie sommer net sal oorlaat aan ons eie menswees nie. Dit is die wonderlike genade van God.’
Ja, ons dakke lek nogsteeds en die gat in die plafon is nog daar. Die matte stink en die hout raak al slegter, maar nogtans sal Bellville-Vallei jubel in die Here. Want ook vir ons is daar plek by sy heel tafel. Tot Hy ons kom haal om in ewigheid daar te sit saam Hom, gaan my gedagtes terug na die woorde van David Crowder in een van sy bekende liedere, Come as you are:
There’s hope for the hopeless
And all those who’ve strayed
Come sit at the table
Come taste the grace
There’s rest for the weary
Rest that endures
Earth has no sorrow
That heaven can’t cure.
God ontmoet ons presies waar ons is – gebroke, maar nie verlate nie.”