Verandering begin by jou, maar eindig nie daar nie

Mariëtte Odendaal

Ons praat maklik oor verandering. Ons almal begeer gelukkiger gesinne, veiliger gemeenskappe, hoopvoller jongmense en ’n samelewing waarin mense mekaar sal respekteer en ondersteun. Maar waar begin sulke verandering?

Die antwoord van It Starts With Me (ISWM), wat deur Adéle Grosse ontwikkel is, is eenvoudig en terselfdertyd uitdagend: Groter verandering begin by persoonlike verantwoordelikheid. Nie by iemand anders nie, maar by my. Nie eers by die regering, die skool, die kerk of die gemeenskap nie. Verandering begin wanneer een mens bereid is om na binne te kyk, verantwoordelikheid te aanvaar en te vra: Wat kan ék doen?

Dit is die eenvoudige, maar kragtige uitgangspunt waarop die ISWM metodologie sedert 2003 gebou is. Die doel is nie om mense van ’n program afhanklik te maak nie, maar om iets binne hulle wakker te maak: die vermoë om te dink, hul eie waarde raak te sien, hul stem te vind, met ander te deel wat hulle geleer het en uiteindelik tot aksie oor te gaan.

Verandering, it starts with me

Wanneer die boodskap persoonlik word

Vir ds. Cecile Murray-Louw is It Starts With Me nie net iets wat sy aan ander leer nie; dit is deel van haar eie lewensverhaal. Ná die dood van haar man in 2015 moes sy die uitdaging aanpak om hul vier kinders alleen groot te maak. Sy het self geworstel met die vraag hoe sy verantwoordelike kinders sou grootmaak en hoe sy haar gesin deur ’n onsekere tyd sou dra.

Dit was toe dat sy haar weer tot die beginsels van ISWM gewend het. Sy het ontdek dat verandering nie altyd begin wanneer omstandighede verander nie; soms begin dit wanneer ons eie perspektief verander.

Daardie ervaring het later deel geword van haar roeping om ander ouers te bemagtig. Vandag is sy ’n gesertifiseerde fasiliteerder vir die program en bied sy onder andere die Responsible Parenting-program aan. Dit is maar een van die opleidingsprogramme wat sy aanbied. Daar is ook Responsible Father, Caregiver, Educator, Young Women, Young Men, Child en Teen.

Die program is mettertyd vir alle ouderdoms- en teikengroepe aangepas – van maatskaplike werkers en onderwysers tot mans wat uit die gevangenis kom voordat hulle met hul gesinne herenig word. Daar is ook Lewensvaardigheidsweergawes vir laer- en hoërskoolleerders wat oor twaalf weke aangebied word.

Cecile vertel dat sy, nadat sy self die program deurloop het, só geïnspireerd was dat dit haar ouerskapsbenadering radikaal verander het. Omdat dit vir haar so ’n groot hulp was, het sy besluit om die metodologie ook aan ander bekend te stel.

Van een mens na ’n hele gesin

Met die Responsible Parent-sessies wat sy in 2025 vir die uMasizakhe-gemeenskap van Graaff-Reinet by die Nomzamo Kleuterskool aangebied het, het sy verduidelik hoe persoonlike verandering na die gesin kan uitbrei. Ouers word toegerus met praktiese vaardighede om gesinsverhoudings te versterk, beter te kommunikeer en kinders positief te ondersteun. Dit het ’n merkbare positiewe impak in die klaskamer, en skole en onderwysers word indirek ondersteun.

’n Groot doelwit van die driejaar Graaff-Reinet-projek is om ’n ouer-ondersteuningsgroep in elkeen van die 11 skole waarmee ISWM ’n vennootskap het, te stig. Ouers met vrae en uitdagings ontmoet maandeliks om ondersteuning en vaardighede te ontvang, en op hierdie manier word onderwysliggame se hande versterk.

Ouers word gehelp om nie dissipline en waardes na die skool te “outsource” nie, maar om self intervensie te doen in hul gesinne. Cecile leer: You are the expert in your own home. Niemand ken jou kind, sy storie en behoeftes so goed soos jy nie – en jy het die toerusting om jou gesin se toekoms positief te transformeer.

Wanneer ’n ouer se selfwaarde herstel, verander die atmosfeer in ’n huis. Wanneer kommunikasie verander, verander verhoudings – ook by die skool. En wanneer ’n kind weer veiligheid, ondersteuning en hoop ervaar, reageer hy of sy anders op die wêreld. Ouerskap is dus veel meer as die grootmaak van individuele kinders; dit is ’n belegging in die toekoms van ’n gemeenskap.

Die kragtige petrolstasie-metafoor word reeds op dag een van die vyfdag-program bekendgestel: kinders het ’n veilige plek van belonging nodig. As hul liefdestenk nie by die huis volgemaak word nie, gaan soek hulle brandstof op verkeerde plekke – in die strate, verkeerde vriende, dwelms of verhoudings. Die kind is die karretjie; die ouer is die vulstasie. Ouers word ook geleer om hul eie tenk vol te hou sodat hulle die krag het om te gee.

Wanneer mense die boodskap hulle eie maak

Die grootste bewys van sukses kom wanneer ’n program nie meer net deur fasiliteerders gedra word nie, maar wanneer deelnemers self begin beweeg.

Sedert die ISWM-bekendstelling in Graaff-Reinet in 2024 het meer as 600 mense al die program voltooi. In 2025 en 2026 is 40 hulp-fasiliteerders opgelei, en nog 44 ouer-ondersteuningsgroepkoördineerders is vanjaar opgelei.

Volgende jaar gaan 20 mense sertifiseer as fasiliteerders om die program in skole, kerke en gemeenskappe aan te bied. Die versoeke stroom in – van skole, kinderhuise, maatskaplike werkers en omliggende dorpe. Met beperkte fondse en net een fasiliteerder kan Cecile egter nie alles alleen doen nie; daarom is borge en besighede nodig om in gemeenskapstransformasie te belê.

Die groot verskil van ISWM is dat die gemeenskap self eienaarskap neem – die sukses hang nie af van ’n eksterne fasiliteerder nie.

In 2026 het die It Starts With Me Gemeenskapstransformasie-vennootskap in Graaff-Reinet presies dit bewys. Mense het self verantwoordelikheid begin neem. Hulle het ’n eie Vrouedag-viering aangebied, trainee-fasiliteerders, ouers, alumni en leerders betrek, en die verhaal van die 1956 Vroue-optog gedeel om ’n nuwe geslag te inspireer.

Nadat ISWM-spanlede in skole begin ondersteuning bied het en bewus geraak het van die behoefte, het hulle in samewerking met Solomon’s Chaplaincy, ’n basiese trauma-ondersteuningswerkswinkel vir 23 spanlede in Augustus aangebied,

Wanneer nood ontstaan en mense inspring

Die impak van die program is sigbaar in die manier waarop die plaaslike span nood aanspreek:

  • ’n Jong pa wat op die rand van selfdood was, kon onmiddellik ondersteuning ontvang – van Cecile, van die span op die grond, en van professionele hulpverleners.
  • Ouers wat met dwelm- of gedragsprobleme by hul kinders worstel, of wat onder huishoudelike geweld ly, ontvang hulp wanneer nodig.
  • Waar moontlik word berading gereël en sessies geborg.

Die span mobiliseer ook ouers in skole om praktiese nood te verlig: hulle kook kos wanneer kombuispersoneel afwesig is, help met klas-supervisie, en bied selfs die ISWM-program in detensie aan vir kinders met ernstige gedragsuitdagings.

Elke maand reël hulle ’n gemeenskapsgeleentheid vir alumni-ouers uit Asherville, Kroonvale en uMasizakhe – van uitstappies na Camdeboo Nasionale Park tot ’n Vrouedagviering. In Oktober hou hulle ’n High Tea vir CANSA, waarvoor borge benodig word, en in Desember ’n groot Kersfeesviering. ’n Plaaslike kerk en klanktegnikus stel hul fasiliteite gratis beskikbaar, en waar nodig word mense per taxi vervoer.

Die span woon gereeld ouervergaderings by skole by om die program bekend te stel. Deelname kos niks – want die doel is om die gemeenskap te bemagtig, nie om erkenning te soek nie. Anders as politieke organisasies met agendas, fokus ISWM uitsluitlik op waar nood is en hoe hulle kan inspring. Almal werk vrywillig, met ’n opregte hart vir hul gemeenskap.

Die stokkie is nou in ons hande

Die geskiedenis van die vroue van 1956 herinner ons daaraan dat die stokkie steeds van hand tot hand aangegee moet word. Tydens die 2026 Vrouedag-herdenking in Graaff-Reinet het die plaaslike koördineerder, Belinda Swartz-Botha, vroue aangemoedig om dié stokkie op te tel – om die moed van die vroue van 1956 in hul eie huise, skole en gemeenskappe voort te dra.

Elke geslag ontvang iets van die vorige geslag: ’n verantwoordelikheid, ’n geleentheid, ’n stem, ’n stokkie om verder te dra.

Die ware krag lê in die vermenigvuldiging

Die grootste krag van ISWM is dat dit nie by die individu eindig nie. Die droom is nie ’n gemeenskap waar almal dieselfde program voltooi het nie; dit is ’n gemeenskap waarin mense begin dink, groei, verantwoordelikheid neem en ander saam met hulle ophef.

Een mens ontdek sy waarde en begin anders met ’n kind praat. Die kind ervaar die verskil. ’n Ouer deel die insigte met ’n ander ouer. Só begin verandering uitkring – van een mens na ’n gesin, van ’n gesin na ’n ander gesin, en uiteindelik na die hele gemeenskap.

Hierin lê ook ’n uitdaging vir die kerk: gemeenskapsverandering begin nie net met programme nie, maar met mense wat bereid is om hul roeping uit te leef waar God hulle geplaas het. ISWM is ook beskikbaar as geestelike program met ’n Christelike lens vir kerke – nooi hulle gerus.

Wanneer ’n fasiliteerder iemand anders toerus, ’n groep saamwerk en ’n skool betrek word, begin hoop groei. Mense begin beweeg. ’n Gemeenskap begin verander – nie deur groot gebare nie, maar deur mense wat bereid is om dit wat hulle ontvang het, verder te dra.

En waar begin dit vir my?

Nie: “Wanneer gaan iemand iets doen?” of “Hoekom verander ander nie?”, maar: “Wat begin by my?”

Dit is die geheim van ware transformasie: dit begin by my persoonlik, maar is nooit bedoel om net by my te bly nie. It Starts With Me is ’n uitnodiging om te glo dat ek ’n verskil kan maak – en om die moed te hê om daardie verskil met ander te deel.

Die stokkie is in ons hande. Die eerste tree is ons s’n. Kom ons begin.

Vir meer inligting kan ds Cecile Murray-Louw by iswmconnect@gmail.com gekontak word.

sinani

Hierdie storie vorm deel van Sinani

Sinani is ’n storie-reeks van Diensgroep Diaconia wat gemeentes se verhale van diensbaarheid, barmhartigheid en saamleef dokumenteer en vier. Sinani beteken “Ons is met julle” en nooi die kerk om weg te beweeg van doen vir mense na leef saam met mense.

Deur hierdie verhale ontdek ons hoe diakonaat gestalte kry waar gemeentes langs mense staan, verhoudings bou en ook self deur dié ontmoetings verander word.

Vind meer uit oor Sinani hier.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: