Vishoek vier 170 jaar van genade!
👤 Ronelda Visser
Martin Barnard van Vishoek vertel dat die gemeente in diepe dankbaarheid voor die Here buig, omdat Hy hulle gelei het tot die viering van hulle 170ste bestaansjaar. Hy skryf:
Dit is ‘n wonderwerk van genade wat op 9 Desember 1855 begin het toe die gemeente van Wynberg afgestig het. NG Vishoek het aanvanklik eers bekendgestaan as NG Simonstad, later NG Simonstad-Kalkbaai en uiteindelik NG Gemeente Vishoek. Dit is van meet af aan gebore uit ’n honger na God se Woord en ‘n begeerte om Hom met oorgawe te dien. Ook die latere afstigting in 1974 van die tweede NG Gemeente Simonstad getuig van God se voortdurende werk en leiding in die gemeenskap van gelowiges.
Ons glo dat hierdie jaar van feesviering ‘n eerbetoon is aan die Lewende God wat sy kerk bou, bewaar en toerus deur die eeue heen. Daarom het ons op 11 Mei die feestelike herdenkingsjaar afgeskop deur terug te keer na die eerste loflied wat op 9 Desember 1855 in die heel eerste erediens gesing is. As gemeente het ons, in gehoorsaamheid en eerbied, hierdie lied in oorspronklike Hollands gesing — Gezang 2:
Den hoogen God alleen zij eer!
Elk kniel’ voor Hem aanbiddend neer!
Elk moet Hem dank bewijzen!
Met hierdie woorde het ons opnuut verklaar: Aan God alleen kom die eer toe. Sy Naam is groot in ons midde!
Ons het tydens hierdie diens ook die feeslogo bekendgestel — ’n simbool van wat God gedoen het, doen, en steeds sal doen onder en deur sy mense in Vishoek. Daarom ons slagspreuk: Geanker in die verlede, seilend na die toekoms.
Een van die besondere hoogtepunte van hierdie jaar was die gesamentlike Hemelvaartdiens saam met kerke van regoor die Vishoekvallei en omstreke. Die kerkgebou was gevul tot oorlopens toe en selfs die ekstra stoele was nie genoeg nie! Wat ’n seën om as die liggaam van Christus saam te aanbid en Hom die lof te bring!
Elke liturgiese moment is deur ’n ander denominasie aangebied. Ons is die enigste Afrikaanse kerk in die vallei en so was ons saam met al die “Pastors, Reverends, Fathers, Prophets” en dies meer – ‘n kragtige getuienis van ons eenheid in Christus Jesus.

Ons het saam uit die Woord van God gelees, diep geroer deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Ons harte het gejubel, ons siele was opnuut ontwaak. In gebedsgroepe het ons saam voor God gekniel en aan die nagmaalstafel het ons as broers en susters brood en wyn gedeel.
Tydens die Hemelvaartdiens het hierdie verskeie denominasies vir NG Vishoek handgeskrewe gelukwensinge oorhandig — kosbare getuienisse van die impak wat hierdie gemeente deur die jare in die Vishoekvallei en omliggende gemeenskappe gehad het. Ons gee aan God die eer vir elke voetspoor van invloed.
En toe het die Here ons uitgestuur: om ligdraers en verskilmakers te wees in hierdie wêreld. Só leef die kerk — in eenheid, in vreugde, in gehoorsaamheid aan die roepstem van God. As gemeente is ons opgewonde om regdeur hierdie jaar verskeie geestelike, sosiale en gemeenskapsgeleenthede aan te bied waar God se groot dade gevier en sy Naam verhoog word.
Ons omgeegroepe het ook deel van die feesvieringe afgeskop op unieke wyse: deur ‘n proe-aand aan te bied waar disse uit lande soos Maleisië, Thailand, Amerika en Indië voorberei is. Ons vier hiermee die invloed wat ander lande op die Kaapse kookkuns gehad het en steeds het. Ons het omtrent gesmul! Ons sien uit na die volgende twee aande se proe-sessies waar ons nog agt lande se kos-invloed gaan beleef.
Ons kreatiewe en toegewyde feeskomitee, saam met ons kerkraad, beplan nog 23 spesiale geleenthede regdeur die jaar. Hierdie vieringe kulmineer in die groot feesdiens op 7 Desember gevolg deur ’n gesamentlike ete — ‘n gemeenskap van gelowiges saam aan tafel, in die Naam van Jesus Christus.
Ons verklaar dit vrymoedig: elke tree, elke dag, elke geslag — dit is die Here wat ons gedra het. Sy genade het nie opgehou nie, en sy trou is van geslag tot geslag.
SOLI DEO GLORIA — Aan God alleen kom al die eer toe!”

