Vrouemaand: “Ek het ‘n naam!”
👤 Wilmi Wheeler
Augustus is Vrouemaand—’n maand waarin ons die ongelooflike krag, deursettingsvermoë en dapperheid van vroue vier. Hierdie tyd van die jaar herinner ons aan die vele vroue wat, dikwels stilweg, ‘n blywende impak op die geskiedenis en samelewing gemaak het. Hul bydraes word dikwels nie erken nie en hul name soms nooit eens genoem nie. Tog het hul invloed diep spore gelaat wat steeds voelbaar is.
Dit is met hierdie gedagte dat die Gendergeregtigheid Taakspan vir Vrouemaand ‘n Bybelstudiereeks saamgestel het wat fokus op die vroue in die Bybel wie se name ons nie ken nie
Op 9 Augustus 1956 het 20 000 Suid Afrikaanse vroue, van alle kulture, na die Uniegebou in Pretoria gestap om protes teen die ‘pas wette’ aan te teken. Die ‘pas’ was ‘n identifikasie dokument wat Suid-Afrikaners wat as ‘n ander kleur as wit geklassifiseerd was, se vryheid van beweging ingeperk het. Die vroue het ‘n petisie aan eerste minister J.G. Strijdom se kantoor oorhandig met meer as 100 000 handtekeninge.
Hierdie verhaal spreek boekdele oor die waagmoed en dapperheid van vroue in ons land. Hierdie vroue het die geskiedenis van ons land verander, sodat die land ‘n beter plek vir almal kan raak, en tog weet ons nie eers wat hierdie vroue se name was nie.
Terwyl ons hierdie Vrouemaand die braafheid en prestasies van vroue in ons land vier, besef ons dat in die verlede en steeds nou, hulle braafheid en prestasies deur skeefgetrekte persepsies en gendervooroordeel oorskadu, onderdruk en afgemaak word as minderwaardig.
Ons het nog ‘n ver pad om te gaan as dit kom by geregtigheid en gelykheid vir almal. So kom ons hou die tema op die tafel, kom ons bly in gesprek oor moeilike kwessies en kom ons hou aan om ons plek in te neem in spasies waar mense ons eerder sou wou stil maak.
Reis saam deur vier Bybelstudies oor naamlose vroue in die Bybel wat ons herinner aan ons waarde, al ken niemand eers ons naam nie.
Meer oor hierdie Vrouemaand-reeks
Van al die persone waarvan ons in die Bybel lees, is minder as 15% vroue. En as ons van hierdie vroue lees, word hulle name bitter min gebruik.
Daar is ongeveer 600 vroue in die Bybel van wie ons lees waarvan ons nie hulle name ken nie. Tog, al ken ons nie hulle name nie, is hulle storie steeds belangrik, want in die eerste plek word hulle genoem en in die tweede plek het hulle aksies ‘n rimpeleffek wat lei tot ‘n groter verstaan van wie God is. Dit is so maklik om hierdie vroue mis te kyk, gering te ag, of eenvoud oor hulle te lees, maar sy maak saak en haar verhaal maak saak.
Wanneer ons dit miskyk, is ons lewens armer, al besef ons dit nie eers nie. Dit laat ons ook dink aan hoeveel vroue wie se stories ons vandag ook miskyk, gering ag of eenvoudig oor dit lees.
Volgens SAPS statistieke word daar daagliks gemiddeld sewe vroue in Suid-Afrika vermoor. Hierdie reeks is ‘n huldeblyk aan die vroue wie se name ons nuusberigte vul.
Dit is ook ‘n huldeblyk aan vroue van wie ons nie hoor nie – die gesiglose, naamlose vroue wie se stories onvertel sal bly.
Ons dink hierdie maand aan vroue wat opstaan vir menswaardigheid, geregtigheid en billikheid vir almal en so hulle plek inneem, hulle self laat geld en hulle roeping uitleef.
Ons dink ook aan die vroue wat ontneem word om hulle plek in te neem.
Sy het ‘n naam en sy maak saak.
#sayhername

Naamloos, maar nie verwagtingloos
Lukas 11:27-28 2
Die verhaal van die vrou in die skare wat ons help dink oor die verwagtinge wat die lewe op ons plaas oor familie.
Ons is verhoudingswesens, en dit kom veral tot uitdrukking in ons familielewe. God het ons so gemaak en dit is goed! Veral die lojaliteite teenoor ons ouers en kinders laat ons dikwels glo: bloed is dikker as water. Die verwagting dat familie die bron van geluk en standvastigheid is, is ‘n realiteit. Hoewel vroue se rol in die samelewing darem deesdae voorsiening maak vir ‘n verskeidenheid doelwitte en vaardighede, bly moederskap naby aan ons hart.
In hierdie verhaal verstaan ons oombliklik wanneer hierdie anonieme vrou uitroep: Dit moet darem wonderlik wees om jou ma te wees! Jesus se antwoord laat ons dieper dink oor Hom, die boodskap wat Hy bring en hoe ons ons lewens daarvolgens inrig, ook ten opsigte van familie en ouerskap.
Naamloos, maar nie sorgeloos
Rigters 11:1-9, 29-40
In Rigters 11 lees ons die storie van ‘n jong meise wat as gevolg van haar pa se aksies nooit haar bucket list sou kon uitleef nie. Oor haar skryf Antjie Krog die bekende gedig getiteld Dogter van Jefta:
Here by Abel-Kerámim Here by Mispa in Gilead Here God van Jefta hier is my liggaam!
Hier is my vlies – veilig soos ‘n retina en heel soos ‘n groen granaatjie.
Hier is my maag – ‘n koue kaggel wat gelate sal waak oor die maandelikse vloei.
Hier is my borste – twee bloeiende druppels wat nooit met liefde gesuurdeeg sal word nie.
Hier is my hande liewe Here sterk en gewillig soos my hart Van nou af is ek ‘n bruid bevrug deur Gees,
van nou is ek vroedvrou vir ‘n volk van nou af verwag ek U.
Naamloos, maar nie stemloos
1 Konings 3:16-28
Die verhaal van die twee vroue wat voor koning Salomo baklei het oor ‘n kind, wat ons help dink oor hoe ons opstaan vir geregtigheid.
Dit is amper tweede natuur om iemand te beoordeel op 1. hoe hulle lyk of 2. watter werk hulle doen. Dink maar net by jouself hoe vinnig maak jy gevolgtrekkings van iemand, al probeer jy nie, deur bloot te kyk na hulle. Wat sou jy doen as twee prostitute (sekswerkers) na jou toe kom vir raad? Sou jy objektief kon luister? Sou jy glo wat hulle sê?
Naamloos, maar nie nutteloos
2 Konings 5:1-14
Die verhaal van die jong slavin in Naäman se huis wie se raad sy lewe gered het.
Soos ‘n regte sepie hou mense van verhale met kontraste, ironie, onverwagse draaie en onwaarskynlike helde. Wanneer ons besig is met God se storie sien ons hoe hierdie dikwels die verloop van die verhaal is. God werk in en deur ons, en deur die “geringstes” onder ons, selfs in ruimtes waar ons “naamloos” voel.
Sluit aan by die Vrouemaand WhatsApp-gemeenskappe
Die taakspan nooi ook almal wat belangstel om vir langer as Vrouemaand dieper en verder te dink oor gendergeregtigheid, om aan te sluit by die Gendergeregtigheid Leergemeenskap op WhatsApp.
Indien jy slegs die Vrouemaand dagstukkies wil ontvang, is jy baie welkom om by die Vrouemaand WhatsApp-groep aan te sluit.