Wanneer aanbidding dans: Die tamboeryne van Morgenster
👤 Diederick Basson
Wanneer ‘n mens die woord “tamboeryn” hoor, dink jy dalk aan ‘n laerskool-orkes, ‘n klasmusiekklas met slaginstrumente of dalk James Last en sy orkes. Die tamboeryn is ‘n eenvoudige instrument: ‘n sirkelvormige hout- of plastiekraam met metaalplaatjies wat geskud of geslaan kan word en basies deur enigiemand bespeel kan word.
Tog beklee die tamboeryn ‘n prominente plek in die Ou-Testamentiese kerkmusiekpraktyk. Dink maar aan Mirjam wat die tamboeryn opgeneem het om die vroue in hulle oorwinningslied te lei, of aan die talle verwysings in die Psalms waar die tamboeryn gebruik moet word in die lofbetuiging aan God. In hierdie terugblik op my besoek aan Morgenster word die tamboeryn ‘n metafoor van wat dit beteken wanneer aanbidding begin dans.


My eerste besoek aan Zimbabwe het plaasgevind van 13–17 November 2025. Die doel was die bywoning van die Eeufeesviering van die Murray Teologiese Kollege op Morgenster, een van die NG Kerk se oudste sendingstasies in Afrika, op Saterdag 15 November.
Ek is vergesel deur drs. Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland) en Nico Mostert (Vennote in Getuienis, Vrystaat). ‘n Groep Suid-Afrikaners, wat op verskeie maniere met Morgenster verbind is, het ook die geleentheid bygewoon.
Vroeg op ‘n stralende, warm Saterdagoggend arriveer ons by die Onderwyserskollege, waar ‘n feestelike atmosfeer heers. Netjies-gekleede plekaanwysers en mense met breë glimlagte ontvang ons. In die Administratiewe Gebou ontmoet ons leiersfigure van die Reformed Church of Zimbabwe en die Murray Teologiese Kollege waarna ‘n heerlike ontbyt van brood, rooiboontjies (“baked beans”), wors, lewer, gekookte eier (nog in die dop!) en ‘n beker tee bedien word.
Daarna beweeg almal buitentoe vir ‘n groepsfoto, waarna ‘n prosessie, onder begeleiding van trompoppies (“drummies”), na die Teologiese Kollege se hoofgebou stap. Op die stoep word ‘n gedenkplaat onthul en ons bring ook ‘n besoek aan een van die lesinglokale.




Terug by die Onderwyserskollege is die rooi tapyt letterlik vir ons uitgerol terwyl ons na ons sitplekke op die verhoog begelei word. Die opgeruimde musiek oor die luidsprekers, die kleurvolle uitrustings en gesellige stemme van die aanwesiges dra by tot die feestelike atmosfeer. Die verrigtinge, wat vanaf ongeveer 10:00 tot 14:15 duur, bestaan uit gebede en verskeie toesprake, o.a. met dr. Daniël de Wet as hoofspreker. Dit word afgewissel met samesang en musiekuitvoerings deur die Woodlands Praise Team, asook die koor en marimba-orkes van die Copota Skool vir Blindes. In skrille kontras met ons – by tye apatiese – manier van erediensbelewing, reageer die gehoor spontaan met instemmende uitroepe, sagte handeklap met kopvormige handpalms, vrolike ululasies en spontane applous.



Tydens die program word die tiende Argiefpublikasie, ‘n spesiale gedenkboek saamgestel deur dr. Isabel Murray, Until The Morningstar Arises, deur dr. Daniël de Wet en mev. Susan Murray, een van die hoofskrywers, asook eggenote van wyle ds. Henry Murray, ‘n vorige hoof van die Murray Teologiese Kollege, bekendgestel. Hierdie pragpublikasie, wat deur die Argief en Getuienisaksie befonds is, vertel die verhaal van die afgelope 100 jaar se geskiedenis van die Murray Teologiese Kollege.

Waar pas die tamboeryn in?
Adolf, ‘n nederige, ouerige man, is die tamboerynspeler wat saam met die koor en instrumentaliste die samesang begelei. Aanvanklik staan hy doodstil, gefokus, maar sodra die musiek begin, begin hy beweeg. Eers rustig, dan al hoe meer intens. Die tamboeryn word ritmies met verskillende hand- en armbewegings bespeel. Dan speel hy dit met sy handpalm, dan met sy elmboog, dan sy skouer en voorkop en uiteindelik word sy hele liggaam deel van die tamboerynbespeling in ‘n fyn, intuïtiewe dans.
Maar, dit is nie net Adolf nie: ongeveer 3 000 mense in die gehoor sing en dans ritmies saam. Oud én jonk word een in lof en aanbidding. Ek dink aan Psalm 149:3: “Laat hulle sy Naam prys met koordanse, laat hulle speel tot sy eer op tamboeryn en lier.”
Komende uit ‘n gereformeerde tradisie waar ons manier van sing nie noodwendig vereis dat ons ons hele liggaam in aanbidding gebruik nie, beleef ek op Morgenster iets wat my aangryp en diep ontroer: aanbidding wil beweeg, dit wil asemhaal, dit wil dans. In die woorde van Psalm 150:6: “Laat alles wat asemhaal [d.w.s. elke sel in jou liggaam wat van asem afhanklik is] die Here prys!”



Die beeld van die môrester in die Bybel, die helder ster wat die koms van ‘n nuwe dag aankondig, word gebruik as ‘n simbool van hoop, lig en die teenwoordigheid van Christus (“Ek is die helder Môrester”, Op. 22:16). Wanneer Christus die Môrester is wat ons donkerte breek, kan aanbidding nie net aangehoor word nie, maar word dit ‘n liggaamlike en geestelike ervaring. Met die ritme van ‘n eenvoudige tamboeryn beleef ek die wonder van aanbidding wat dans.


