Wanneer gemeentes hande vat oor kontinente heen
👤 Ronelda Visser
Die Kix Kleuterskool in Malingunde, Malawi was vir meer as ’n dekade ’n veilige hawe vir jong kinders. Wat in 2008 as ’n vroeëontwikkelingsprojek begin het, het vinnig ’n noodsaaklike deel van die gemeenskap geword. Spesifiek ’n plek waar kinders se eerste treë in leer en sosiale ontwikkeling met liefde en toegeneentheid begelei is. Maar ná die verhoging van die Kamuzu-dam se walle in 2018 het die skool stadig onder die waterlyn verdwyn. Vir jare moes onderwysers rondtrek en kreatief oorleef om onderrig steeds moontlik te maak. Hierdie brose situasie het nie net die skool geraak nie, maar die hele gemeenskap wat op hierdie veilige ruimte staatgemaak het.
Nou staan twee gemeentes, NG Kerk Bellville-Wes en Bellie & Speymouth in Skotland, saam om die skool weer op te bou. Onder leiding van oud-kollegas Willie Badenhorst en Eduard Enslin word daar gedroom om ’n volhoubare skool met klaskamers, toilette, kombuis en kantoor teen 2026 tot stand te bring.

Gemeentes in Bellville en Scotland steek saam hande uit
Willie Badenhorst en Eduard Enslin was vir vyf jaar kollegas in Alberton-Wes en het jaarliks saam met hulle gemeente na Malawi uitgereik. Willie is nou by Bellville-Wes in die Kaap, terwyl Eduard by die Bellie & Speymouth Parish Church of Scotland betrokke is. Jare later vat die twee kollegas weer hande saam met hulle gemeentes om die kleuterskool in Malingunde by te staan.
Willie vertel dat AnnaMarie de Klerk in 2008 in die klein dorpie van Malingunde, suid van Lilongwe, ’n vroeëkindontwikkelingsprojek saam met Kinderkrans (deesdae KiX) en Getuienisaksie begin het. Die KixKleuterskool is vir jare lank deur talle gemeentes landswyd ondersteun. Vir baie kinders was dit die enigste plek waar hulle gestruktureerde leer, voedsame etes en liefdevolle begeleiding ontvang het.
Sedert die damwal verhoog is, het die skool egter stadig letterlik verdwyn. Die Malawiese regering se planne om dit te herbou het nooit gerealiseer nie en die onderwysers moes van bome tot leë vertrekke rondskuifel om die dag se onderrig moontlik te maak. Die gemeenskap het aangehou glo, maar die nood het net groter geword.
Toe het die twee gemeentes besef dat hulle saam ’n verskil kan maak. Die herbouplan word oor ’n paar jaar in fases aangepak, maar die eerste mikpunt is om die basiese infrastruktuur beskikbaar te kry.

“Ons eerste mikpunt is om drie klaskamers, ’n kantoor, kombuis en toilette teen 16 Julie 2026 gereed te hê,” verduidelik Willie. “Ons vra dat gemeentes voorbidding doen vir hierdie projek en dat die Here se wil sal seëvier. Ons kort tans nog bykans R500 000 om hierdie droom waar te maak en finansiële bydraes is welkom.”
Hy voeg by dat daar ook praktiese hulp nodig is: “Ons kort mense om saam te reis tydens ons uitreik van 4–26 Julie volgende jaar, asook vervoer vir ongeveer 12 Skotte wat die reis gaan meemaak.”
Vanuit Skotland deel Eduard dieper konteks oor hoekom hierdie projek sy hart so aanraak. “My huidige gemeente is naby die klein dorpie Clatt, die geboorteplek van Andrew Murray senior, wie se bediening diep spore in die NG Kerk en dwarsdeur Afrika gelaat het. Wat begin het as ’n verkenning van die Murray-erfenis in ons omgewing, het gelei tot die droom om nie net die historiese bande tussen Skotland en Suid-Afrika te vier nie, maar om saam ’n verskil te maak waar dit vandag dringend nodig is.
Ons gemeente voel ’n roeping om ons hande en ons beursies in te span om die gemeenskap van Malingunde te ondersteun, op die plek waar die Murray’s se voetspore ook vandag nog sigbaar is. Ons nooi Suid-Afrikaanse gemeentes uit om saam met ons deel te word van hierdie hoopvolle, lewensveranderende reis.”


Waar die KixKleuterskool eens aan oorstromings oorgegee was, begin nou ’n nuwe verhaal ontvou, een van vasbyt, samewerking en geloof wat grense oorsteek. Hier word nie net ’n skool herbou nie; hier word waardigheid herstel en ’n generasie kinders se toekoms word weer ongekwalifiseerd vasgehou.
Dit is die soort projek wat herinner aan wat kerk kan wees wanneer roeping prakties word: hande wat bou, harte wat gee en gemeenskappe wat saam sterker staan.
Skenkings kan gemaak word aan:
NG Kerk Bellville-Wes
FNB tjekrekening
62072098512
Tak: 210655
Verwysing: Malawi
Vir verdere navrae kontak Willie Badenhorst: 082 550 9923.



