Wanneer jou bene moeg is, hardloop met jou hart
👤 Christi Thirion
“Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het.” – Hebreërs 10:36 (NLV)
Hierdie tyd van die jaar is endurance sport (langafstand-sport in goeie Afrikaans) volop in die Kaap. Dit was onlangs die Kaapstad Marathon vir hardlopers en Wine to Whales vir bergfietsryers. Soos ek hier sit en skryf weet ek van mense wat hul fietse op hul karre gelaai het om aan die Mosselbaai Ysterman te gaan deelneem, terwyl die Double Century fietsren en die Ultra Trail Cape Town ook om die draai is.
Die mooi Afrikaanse vertaling vir endurance is volhard. Ek het al per geleentheid vir jongmense wat ek afrig vir middelafstande gesê dat daar ʼn punt in die wedloop aanbreek wanneer dit voel of jou lyf jou oortuig dat dit onmoontlik vir jou bene is om teen daardie pas te kan aanhou en klaarmaak. Dit is waar vir enige endurance sport. Wanneer jy daardie punt bereik moet jy volhard – hardloop met jou hart.
Fisiologies is dit onmoontlik om met jou hart te hardloop, hoewel jou hart baie belangrik is in die proses. Dit beteken dat jou vermoë om aan te hou uit ʼn ander bron kom as jou liggaam se vermoë of jou vermoë om jou poging rasioneel met jou brein te bestuur. Om met ʼn vol hart te hardloop beteken dat jy hardloop vir meer as jouself in daardie oomblik – vir ʼn hoërskool-atleet is dit jou skooltrots en jou spanmaats. Vir ʼn Olimpiese atleet is dit die reputasie gekoppel aan die medalje. Vir die Springbokspan in die Wêreldbeker was dit vir gewone Suid-Afrikaners. Vir die Jan Alleman deelnemer aan endurance sport is dit vir familie, of karakter of ‘n verdienstelike saak.
Hierdie tyd van die jaar voel die meeste van ons waarskynlik ook soos ʼn atleet. Ons liggame voel of dit nie meer kan byhou nie. Sommige van ons loop al langer met daardie gevoel en dis dalk al die tema van jou lewe. Ons het nie meer “bene” vir dit wat oor is nie.
Nou moet jy volhar(t)d. Nou moet jy klaarmaak met jou hart.
Wanneer die Hebreër-skrywer oor volharding skryf, gaan dit oor geloof: die vaste vertroue in dit wat ons nie sien nie; die volledige oorgawe aan God. Aan die een kant vir jouself en die beloning van ‘n ewige lewe saam met God, maar aan die ander kant ter wille van ander. Die lewe van geloof gaan oor betekenis wat verder strek as bloot oorleef of te doen wat verwag word. Die Hebreër-skrywer verduidelik dat ons ʼn vol hart het as gevolg van alles wat God reeds gedoen het, want geloof kyk terug na wat God vir ons gegee en gedoen het in Jesus Christus (en die geloofshelde, Hebr. 11).
Maar geloof laat ons ook hoop. Hoop gee vir ons ʼn vol hart, want ons weet dat God al beloftes nagekom het en daarom kan ons vertrou dat God se ander beloftes ook waar sal word in die toekoms. Ons weet dat die swaarkry en seer wat ons nou beleef nie die laaste sê sal hê nie, maar die vreugde en die beloning van die eindstreep (Hebr. 11:1-2, 13)!
Tussen geloof en hoop is liefde. Die liefde van God, deur Jesus, gee vir ons ʼn vol hart. Jesus staan by ons in ons swaarkry en seer en in besonder wanneer ons voel ons nie meer kan nie. Jesus herinner ons aan alles wat hy sy dissipels geleer het. Jesus herinner ons aan die versoekings en stryd wat hy moes deurgaan. Jesus herinner ons aan sy lyding, sy dood en bo alles aan sy opstanding. Soos Jesus by ons staan, kan ons by ander staan, hulle liefhê en aanmoedig (Hebr. 10:24-25, 33-34).
Wat waar is van Jesus, is waar van ons – God belowe dit. Daarom leef ons met ʼn vol hart. Daarom kan ons volhard.
Laat ons ons dan “…hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees…” – Hebreërs 12:1-2 (Die Boodskap)
Ds. Christi Thririon is ‘n predikant by Kenridge-gemeente.