Wanneer “kerk toe gaan” meer word as net ‘n erediens

👤 Wilmi Wheeler

Annemarie De Kock-Malan van La Rochelle-gemeente vertel dat daar op Sondag 18 Augustus iets besonders by hulle gebeur het. “Ons het daardie Sondag ‘n ‘lekker’ probleem gehad. Daar was meer mense wat uit die kerk gegaan het as wat in die oggenddiens gesit het!” Want op daardie dag het kerk toe gaan nie net beteken om fisies kerk toe te kom nie – dit het beteken om kerk te wees.

Elke jaar gedurende Julie en Augustus fokus La Rochelle-gemeente op getuieniswerk. Annemarie vertel dat dit ‘n tyd is waarin die gemeente weer bewus gemaak word van die sendelinge by wie hulle betrokke is, asook hoe hulle binne die gemeenskap die Here dien. “En so, op 18 Augustus, is ongeveer 200 mense vanuit die erediens uitgestuur na tien verskillende instansies in die gemeenskap om God se lewende aanbevelingsbriewe (soos Paulus in 2 Korintiërs 3 skryf) te wees!”

Elke groep het bederfpakkies saamgeneem, maar die doel was ten diepste om diegene na wie toe gegaan is, met die liefde van Jesus te bedien. Van kinders so jonk as ses jaar oud tot seniors van 86 het aan hierdie geleentheid deelgeneem. Dit was ‘n dag waar elkeen, ongeag hul ouderdom, ‘n kans gehad het om die lig van Christus na die wêreld te neem.

Die instansies wat besoek is, was Alta du Toit nasorgsentrum, die Kerk vir Haweloses, petroljoggies in die gemeenskap, Welverdiend aftreeoord, Huis Redelinghuys (versorgingstehuis), Huis Miles Bowker, MES Mannehuis, Bellville Brandweer, Lucky Lucy Foundation en MES Safe Space. “Dit was ‘n uiteenlopende groep plekke, elkeen met sy eie unieke behoeftes en uitdagings. Maar op daardie dag was hulle almal een in die liefde van God,” getuig Annemarie.

Wat hierdie uitstuurgeleentheid so besonders gemaak het, was nie net die bederfpakkies of die blote teenwoordigheid van die gemeentelede nie. Dit was die hart waarmee die mense gegaan het. Elkeen het gegaan met die doel om te dien, om die mense wat hulle besoek te bedien met die liefde en deernis van Christus. Dit was nie bloot ‘n daad van liefdadigheid nie; dit was ‘n daad van gehoorsaamheid aan die opdrag van Jesus om sy hande en voete te wees in die wêreld.

Terwyl die meeste gemeentelede op uitreike was, het diegene wat in die erediens agtergebly het, ook nie ledig gebly nie. Hulle het 70 pakkies met kos en eetgoed opgemaak vir MES Safe Space, ‘n gebaar van ondersteuning aan dié wat minder het. Dit was ‘n tyd van saamwees, van gee en van saamgroei in Christus. “Deur hierdie aksies het die gemeentelede nie net die goeie nuus gedeel nie, maar het hulle self ook gegroei in hulle geloof en toewyding aan God.”

Die gemeente getuig dat hierdie Hande en Voete-uitreik ‘n hoogtepunt is van La Rochelle se verjaarsdagviering. Die gemeente is hierdie jaar 50 jaar oud. “Dit was ‘n wonderlike voorreg om die hande en voete van Jesus te wees, om die wonderlike geskenk van die evangelie uit te deel aan diegene wat arm is aan die liefde van God,” vertel Annemarie.

In hierdie daad van omgee en diens, het die gemeente van La Rochelle ‘n nuwe betekenis aan “kerk toe gaan” gegee. Dit het gewys dat die ware krag van die kerk nie lê in die aantal mense wat binne die mure sit nie, maar in die hoeveelheid mense wat buite die mure uitstap en leef soos wat God van ons vra. So het hierdie uitstuurgeleentheid op 18 Augustus ‘n lewende bewys geword van hoe die Here deur ons werk en hoe ons, as sy kinders, sy lig in die wêreld kan bring.

“Ons dank die Here vir die geleentheid om sy liefde en die geskenk van die evangelie met ander te deel!” Skryf die gemeente in hulle bulletin. “Ons waardeer elkeen wat bygedra het, of dit nou deur deelname aan die uitreike was, deur bydraes te maak, as koördineerder op te tree, of deur vir ons uitreike te bid. Mag die Here die na-prediker wees van alles wat op elke uitreik gebeur en mag ons elkeen die vreugde ervaar van om God se liefde in aksie te sien.”

Uitreikprojekte soos hierdie bly ‘n herinnering dat die kerk nie net ‘n gebou is nie, maar ‘n beweging – ‘n beweging van mense wat vasberade is om God se liefde te leef en uit te dra, waar hulle ook al gaan.

kerk toe gaan La Rochelle
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: