#100DorpeDialoog: Toe hoop weer asem skep in Gqeberha

👤 Wilmi Wheeler

In ’n tyd waar politieke geraas elke nuusflits oorheers, het iets stillers, iets dieper, in Maart 2025 in die St George’s Club in Gqeberha gebeur. By die 100ste #100DorpeDialoog het 65 gemeenskapsleiers nie net vergader nie. Hulle het weer begin glo.

Nie in die regering of partye nie. Nie in planne op papier nie. Maar in mekaar.

“Terwyl soveel politieke geraas die rondte doen, was hierdie weereens ‘n hoopvolle gesprek waar ons opnuut ‘n kykie kon kry in die ware psige van die meerderheid van Suid-Afrikaners,” sê Braam Hanekom, een van die inisieerders van die beweging, wat saam met Sam Dandala van die VGK die gesprek bygewoon het.

Die #100DorpeDialoog is nie net praat nie, maar luister en verbinding

Wat opvallend is van hierdie dialoog is nie net wat gesê is nie, maar hoe mense dit gesê het. “Ek kon nie die mense stilkry nie,” sê Braam met ’n glimlag wat amper ongeloof verraai. “Dit is asof hulle om daai tafels gesit het, asof die ganse toekoms van die stad van hierdie tafel af was.”

Hier is nie ’n kansel of ’n mikrofoon of ’n spul beleidsdokumente nie. Net tafels. Stoele. En mense wat vir ’n slag die ongemak van eerlike gesprekke kies bo die gemak van stilbly. Die temas was rou en werklik: werkloosheid, trauma, misdaad, jeug, plaaslike regering en bowenal verhoudings, vertroue en waardigheid.

“Die gesprekke oor trauma, die bou van vertroue, frustrasie met die plaaslike regering en die verandering van ons eie denke het my diep laat dink,” sê Braam. “Die konstruktiewe bydraes van veral jonger jongmense het hoopvol inspireer.”

Van pyn na moontlikhede

Hierdie is nie ’n eenmalige gesprek nie. Dis die 100ste in ’n reeks wat oor jare en vele dorpe strek. Maar hierdie een het anders gevoel.

“Ek moet sê, daar is progressie. Die entoesiasme was groter, die deelname beter,” vertel Braam. “Mense besef nou meer as ooit die waarde, die eksponensiële waarde, van sulke gesprekke – veral as ons dit kan institutionaliseer.”

Hy bedoel nie ’n nuwe komitee nie. Hy bedoel nie nog papierwerk nie. Hy bedoel ‘n netwerk. ’n Lewende gemeenskap wat hul dorpe, hul stede, hul stories wil terugvat.

Nie terugvat soos in grondgrype nie, maar soos in genees. Bou. Herwin.

“Ons moet terugvat,” het een van die jongmense gesê. “Ons moet ons menswaardigheid terugkry. Ons reg om in ’n florerende stad te leef.”

Toe mense mekaar sien, nie net hoor nie

Een van die mooiste oomblikke van die dag het om die tafels gebeur, waar mense wat anders lyk, anders glo, anders stem, mekaar in die oë gekyk het en vrae gevra het. Geantwoord het. Gedeel het.

“Dit verstom my elke keer,” vertel Braam, “wanneer ek mense vra: ‘Wie van julle het al werklik, saam met mense van ander etniese agtergronde, aan ’n tafel gesit en oor die toekoms van die land gepraat?’ Die meeste sê nee.”

Maar wanneer hulle dit werklik doen, gebeur iets. Nie ’n plan nie – ’n verandering.

“Wat daar gebeur,” sê hy, “is nie noodwendig iets wat jy dadelik op straat sal sien nie. Maar wat dit in mense se emosies doen… om vir hulle weer hoop te gee, om hulle anders te laat dink oor mekaar… dis kragtig. Hulle stap daar uit met ’n ander gesindheid.”

Van trauma na transformerende teenwoordigheid

Hierdie dialoog was nie die eerste in Gqeberha nie. Vyf jaar gelede het die eerste gesprek plaasgevind in die Marine Hotel. “Dit was belangrik, maar destyds het die krisis nog nie so intens gevoel nie,” sê Braam. “Nou is daar ’n ander dringendheid. Die onderwerpe is meer spesifiek. Mense weet waar ons groot moeilikheid lê.”

En tog: “Daar’s ook nuwe wonde. En die gesprek het begin om daardie goed te dra.”

Maar wat nou?

’n Bestuurspan is saamgestel. Daar is konkrete moontlikhede op die tafel. Maar die ware werk begin nou: om die energie wat daar aan daardie tafels ontstaan het, nie net ’n herinnering te maak nie, maar ’n beweging.

“Dit is nie ’n komitee wat nog werk uitdink nie,” sê Braam. “Dis ’n platform. ’n Netwerk wat bestaande inisiatiewe bemagtig, wat rolspelers verantwoordbaar hou.”

Miskien is dit presies wat Suid-Afrika nou nodig het. Nie nog ’n groot plan van bo af nie, maar klein tafels, regoor die land, waar mense bymekaar kom. Luister. Praat. Weer glo.

Soos Braam sê: “Want om ’n tafel, waar ons mekaar in die oë kyk en ons stories deel, bou ons ’n nuwe land – een baksteentjie op ’n slag.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: