Bob Dylan, Taylor Swift en ‘n donkie stap by ‘n kerk in…
Wilmi Wheeler
Wat het Bob Dylan, Taylor Swift en Bileam se donkie met mekaar in gemeen?
Dis nie ’n vraag wat ek ooit gedink het ek ná ’n teologiese konferensie sou vra nie. En tog het ek ná twee dae se gesprekke oor die lewe, musiek en teologie van Bob Dylan (met ’n Swift twist) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit met een gedagte huis toe gegaan: Dalk is ons soms so seker van watter stemme die moeite werd is om na te luister, dat ons nie meer hoor wat ander vir ons probeer sê nie.
Ek moet erken, die kombinasie van Dylan en Swift is op sigself nogal vreemd. Aan die een kant die Nobelpryswenner met sy kenmerkende stem, protesliedere en lirieke wat al dekades lank mense laat nadink. Aan die ander kant die popster wie se liedjies, uitverkoopte konserte en friendship bracelets ’n hele generasie aan die sing het. Vir sommige is Dylan ’n profeet en Swift bloot ’n popster. Vir ander is dit dalk presies andersom.
En dis juis waar die gesprek interessant raak.

Tydens die konferensie het verskillende mense vertel wat hierdie kunstenaars se musiek vir hulle beteken. Vir een is Dylan se liedjies die klankbaan van sy lewe. Vir ’n ander het sy musiek ’n aktivistiese bewussyn wakker gemaak. Iemand vertel hoe Swift se Shake It Off haar help om ná ’n moeilike hospitaalbesoek weer asem te skep. Nog iemand hoor in Mr. Tambourine Man ’n uitnodiging om vir ’n oomblik weg te breek van ’n wêreld wat soms oorweldigend swaar voel.
Dieselfde musiek. Verskillende mense. Verskillende ervarings. Verskillende waarhede wat hulle daarin raakhoor.
Wat my opgeval het, was nie net wat mense oor die musiek gesê het nie, maar hoe hulle daarna geluister het. Met nuuskierigheid. Met openheid. Met die bereidheid om iets te hoor wat hulle dalk nie verwag het nie.
En ek het gewonder: Hoe dikwels doen ons dit regtig?
Ons het almal ons eie voorkeure, oortuigings en vooroordele. Ons weet waarvan ons hou en waarvan nie. Ons weet watter mense ons vertrou, watter stemme vir ons gesag dra en watter ons liewer ignoreer. Soms hoef iemand skaars hulle mond oop te maak voordat ons reeds besluit het of ons gaan luister.
Dalk is dit hoekom die verhaal van Bileam se donkie in Numeri 22 waarmee Alex Clarke geopen het, so treffend is.
Bileam is die profeet. Hy is veronderstel om die een te wees wat God se stem herken. Tog is dit sy donkie wat die engel van die Here op die pad raaksien. Nie een keer nie, maar drie keer. Terwyl Bileam kwaad word en die dier slaan, probeer die donkie hom eintlik van gevaar red. Eers wanneer die Here die donkie se bek oopmaak, begin Bileam besef dat daar iets is wat hy self nie raaksien nie.

Hoe ironies. Die profeet is blind vir wat reg voor hom gebeur, terwyl die donkie beter sien.
Ek wonder hoeveel keer ons nie ook soos Bileam is nie. So oortuig dat ons weet hoe God praat, deur wie Hy praat en waar ons Hom behoort te hoor, dat ons die onverwagse stem langs die pad miskyk.
Daar is ’n bekende gedagte wat met Augustinus verbind word: Alle waarheid is God se waarheid. Dit beteken natuurlik nie dat alles wat iemand sê of sing noodwendig waar is nie. Maar dit herinner ons dat waarheid nie ons eiendom is nie. Ons besit dit nie bloot omdat ons binne die kerk staan of die regte woorde gebruik nie.
En dalk moet ons daarom versigtiger wees om te besluit wie iets het om ons te leer.



Dylan se The Times They Are A-Changin’ het in ’n tyd van groot sosiale verandering mense uitgedaag om raak te sien dat die wêreld rondom hulle besig is om te verander. Taylor Swift se You Need to Calm Down vra op haar eie manier vrae oor verdraagsaamheid, veroordeling en die manier waarop ons met mekaar omgaan.
Ons hoef nie met elke woord saam te stem om te erken dat daar vrae in hierdie musiek skuil wat die moeite werd is om te hoor nie.
Dalk is dit ook iets wat kunstenaars besonder goed regkry. Hulle gee woorde aan gevoelens wat ander mense nog sukkel om te verwoord. Hulle vang iets van die tydsgees vas. Hulle wys op seer, verlange, onreg, hoop en die diep menslike behoefte om raakgesien en aanvaar te word.
En soms hoor hulle iets wat ons in die kerk nog nie mooi gehoor het nie.
Inné van Zyl dink byvoorbeeld aan Swift se You’re On Your Own, Kid en die gemeenskap wat rondom haar musiek ontstaan het. Die friendship bracelets wat konsertgangers uitruil, is volgens haar dalk op die oog af net ’n prettige tradisie. Maar daaragter lê iets wat ons as kerk tog behoort te herken: die behoefte om te behoort, om raakgesien te word en om te weet jy is nie alleen nie.

Dit laat my wonder of ons soms so besig is om die wêreld buite die kerk se mure te beoordeel, dat ons vergeet om te luister na die verlange wat daarin weerklink.
Want om te luister beteken nie om kritiekloos saam te stem nie. Dit vra juis onderskeiding. Om te vra: Wat is hier waar? Wat is hier goed? Wat daag my uit? Wat strook met die evangelie, en wat nie? En dalk die moeilikste vraag van almal: Is daar iets wat ek nog nie raakgesien het nie?
Dit geld natuurlik nie net vir bekende musikante nie.
Dit geld vir die jongmens wie se musiek ons nie verstaan nie. Vir iemand met ’n ander geloofsoortuiging. Vir die persoon wie se lewenservaring radikaal van ons s’n verskil. Vir iemand met wie ons sterk verskil. Selfs vir die stem wat ons ongemaklik maak omdat dit iets bevraagteken waaraan ons nog altyd vasgehou het.
Miskien is die grootste uitdaging nie dat ons nie kan hoor nie, maar dat ons te maklik besluit wie die moeite werd is om na te luister.
Ek het na die konferensie gegaan om meer oor Bob Dylan en Taylor Swift te leer. Ek het huis toe gekom met ’n vraag oor myself.
Na wie luister ek nie?
Watter stemme skryf ek te maklik af? Watter mense het ek reeds in my gedagtes gekategoriseer as iemand wat niks het om my te leer nie? En wat sou gebeur as ek vir ’n slag minder haastig was om te antwoord en meer bereid was om te hoor?
Dalk begin ware luister juis daar. Nie wanneer ons ons oortuigings prysgee nie, maar wanneer ons nederig genoeg raak om te erken dat ons nie alles weet nie. Wanneer ons nuuskierig genoeg bly om verras te word. En wanneer ons die Heilige Gees vertrou om ons ook buite ons bekende verwysingsraamwerke tot nuwe insig te bring.
Want as God ’n donkie kon gebruik om ’n profeet se oë oop te maak, wie is ons om vooraf te besluit deur watter stemme ons iets kan leer?
Dalk is dit tyd dat ons ons eie volume ’n bietjie afdraai.
En luister.



