1700-vieringe van Nicaea
👤 Ronelda Visser
Daar was vandeesweek etlike geleenthede om die 1700-jaar bestaan van die Belydenis van Nicaea te herdenk.
In Stellenbosch het bykans 400 tieners Sondag bymekaar gekom en saamgesels oor wat ons glo en bely. Die ontdekking dat daar nog belydenisskrifte bestaan, het gemaak dat hulle dit as ’n lewendige godsdiens ervaar het. Hulle kon ook in verskillende ruimtes iets daarvan beliggaam. Dit het ook hulle verbeeldings aangegryp om te sien hoe hulle geloof in hulle daaglikse lewens saakmaak.
Wilmi Wheeler het ’n tienergroep van haar gemeente begelei en die opwinding van die dag vasgelê. Kyk ook na DJ Muller se video oor die dag se aktiwiteite.
Maandag was die begin van die Receiving Nicaea-konferensie. Professor Reggie Nel het die amptelike opening waargeneem. Die fokus van die konferensie was om te reflekteer oor hoe ons hierdie deurslaggewende ontmoeting in die Christelike geskiedenis ontvang, interpreteer en hoe om dit te beleef.
Dr. Marnus Havenga en professor Robert Vosloo het die tema van die konferensie Beethoven, the Blues and Receiving Nicaea Today bekendgestel. Marnus kyk na Willie Jennings se beskrywing van musiek as ’n Godgegewe metgesel vir teologie. Jennings reken dat musiek ons kan help om na te dink oor die logika van die teologieë wat ons konstrueer, bely en beliggaam.

Dit het Havenga geïnspireer om die ‘ontvangs’ van Nicaea nie met teologie nie, maar musiek in te lei deur te kyk na die bekroonde musikant en akteur Jon Batiste. Batiste het op 11-jarige ouderdom in New Orleans geleer om klavier te speel onder leiding van musiekonderwyseres Ms. Shirley. Hy is blootgestel aan verskillende musiekgenres onder andere klassieke musiek, jazz, blues en gospel. Dis egter sy onlangse bekendstelling van die vollengte album getiteld Beethoven Blues wat Havenga se aandag getrek het en relevant gemaak het by die herdenking van ‘n 1700 jaar oue geloofsbelydenis. Volgens Havenga het Batiste se album gespruit uit die intensionele luister na Beethoven se musiek en werke wat ’n onlosmaakbare deel van hom geword het. Batiste maak erns met hierdie werk deur nie eerstens iets by te voeg tot Beethoven se werk nie, maar deur te luister na wat reeds bestaan. Havenga beskryf Batiste se album as ’n daad van ontvangs en ’n poging om Beethoven se musiek te ontvang en in gesprek daaroor te tree as ’n lewende tradisie. Hy vra dat konferensiegangers Nicaea op dieselfde manier na Nicaea moet kyk en ontvang.
Vosloo volg op deur te noem dat baie van Beethoven se werke as “classics” beskryf kan word. Hy haal aan uit David Tracy se The Analogical Imagination: “My thesis is that what we mean in naming certain texts, events, images, rituals, symbols and persons ‘classics’ is that we recognize nothing less that the disclosure of a reality we cannot but name truth … a moment of ‘recognition’ which surprises, provokes, challenges, shocks and eventually transforms us; an experience that upsets conventional opinions and expands the sense of the possible … Their memory haunts us. The actual effects in our lives endure and await ever new appropriations, constantly new interpretations.”
Vosloo noem dat die Belydenis van Nicaea in dieselfde lig gesien kan word – dat dit 1700 jaar lank reeds talle interpretasies, liturgiese en etiese uitvoerings weerstaan het. Die feit dat ons as deel van ’n groter ekumeniese liggaam dit herdenk, weerspieël die vermoë om steeds daardie ‘moment of recognition’ te herroep.
Vosloo spreek die hoop uit dat daar oor die blywende dae van die konferensie nie weggeskram moet word van konflik in interpretasie of ’n hermeneutiek van (suspicion) verdag nie, maar dat dit in gedagte gehou moet word dat persone wat met die Raad van Nicaea geassosieer word ook op verskillende maniere onthou word. Dit moet ook besef word dat vir sommige mense die Belydenis van Niceae nie iets is om te onthou nie, maar wel om te vergeet. Daar bly ook moeilike vrae wat gevra moet word – onder andere of ons iets kan vertrou wat deur ’n groep van slegs mans besluit is? “Ons moet ook onthou dat ten spyte van die feit dat Nicaea gereeld gesien word as die eerste ekumeniese sinode, vandag se herdenking en viering daarvan deur kerke gedoen word wat in ’n gepolariseerde en toenemend polariserende wêreld bestaan.

Die ontvangs van Niceae is nie net herhaling nie. Ons kan dit ook ontvang as ’n wonderlike geskenk en dit aangee aan ander met die hoop dat hulle dit sonder berou in ontvangs kan neem.”
Ten slotte haal Vosloo aan uit ’n boek van Dirkie Smit: “And with this the church through the ages agree: In this Jesus we have to do with God self. In Him we see the face of the living God … In his Light we see the Light … In his incarnation we discover that we are safe, that we belong to him … that we don’t have to save ourselves, but that we are freed to love and hope.”


