Arme ek is oupa uil, maar God kyk steeds na my
👤 Piet Retief
Dit was eintlik nie ek wat daarmee begin het nie…
Dit was Sarizé, my vrou, wie die eerste keer my aandag gevestig het op die uile in die boom buite die Jubileum Saal by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington, in die boom net buite die vensters. Van toe af is dit ʼn kompetisie in die kleine oor wie die uile eerste kan sien, én die meeste van hulle kan sien. Ter wille van spasie gaan ek liewer nie hier sê wie gewoonlik hierdie kompetisie wen nie.
Verlede week tydens ons Moderamen vergadering, sit ek toevallig so dat ek deur die venster na die uile se huisie kan kyk, en ek sien een….nee, twee…nee, drie uile in die boom wat deurgaans op die tak sit ek vir ons loer, en hulle sit my toe aan die dink.
Ons almal weet natuurlik die waarde van die getal drie in die Bybel, so ek gaan nie te veel daaroor sê nie, behalwe dat dit kosbaar was hoeveel mense opgemerk het dat die drie uile spesiaal is, so asof hulle ons verwelkom in hulle/Hulle spasie en in hulle/Hulle tyd.
Aan die ander kant, weet ons dat uile nog altyd as wys gesien is. Ons het as kinders die vokale geleer met die rympie Arme Ek Is Oupa Uil. Baie volksverhale en legendes skets ook uile as slim, wys en skerp in die mooi sin van die woord. Uile is natuurlik ongelooflik goed aangepas in die natuur, en het van die skerpste ore in die diere- en voëlryk. ʼn Interessante feit is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal. Maar uile kan nie net goed hoor nie. Hulle reaksietyd is ook verstommend-ʼn kenmerk wat hulle uiters suksesvolle jagters maak.
Die drie uile het my verlede week aan die dink gesit. As ons as christene voortdurend besig is om sin te (probeer) maak van wat in die wêreld aangaan, moet ons dit wat ons beleef, sien en hoor hermeneuties probeer verstaan aan die hand van dit wat ons in die Bybel lees, en in ons stiltetyd by God hoor. Wat leer ons van God? Wat leer ons van die wêreld? Wat leer ons oor ons mede-reisigers op aarde? Wat leer ons oor onsself?
En dis toe juis hier waar my gedagtes op loop gaan. Dit het my opgeval dat die meeste mense almal op ʼn stadium deur die vensters na die uile gekyk het. Party het in tee- of etenstyd uit die Jubileum saal geloop en nader aan die boom probeer gaan om nóg foto’s te neem-let wel ek sê doelbewus nóg en nie beter/mooier nie, want wie is ons nou regtig om te sê iemand anders se foto is mooier of beter? Iemand anders se persepsie en ervaring van God en Sy Kerk is beter of mooier? En ek dink toe, is dit nie wat ons geloof ook van ons vra nie-veral terwyl ons in Lydenstyd is? Om op te staan, om ons lywe te beweeg om beter te kan sien, om beter te (probeer) verstaan nie? Dalk breek ons juis die ongemak in ons lywe wat deur lank stilsit veroorsaak word, wanneer ons opstaan en beweeg. Wanneer ons buk of op ons tone staan…
Die opstaan en beweeg is nie al nie-dalk het die uile ons ook gehelp om weer te onthou dat ons soms by die vensters moet uitkyk. Dat ons, by wyse van spreke, nie net buite die boks nie, maar ook buite die saal moet dink. Dat ons uitdagings en die wêreld waarin ons leef vanuit nuwe of ongewone posisies moet bekyk, net soos ʼn fotograaf dikwels vanuit die snaakste posisies die beste komposisie in ʼn foto vasvang. Ons is nie almal dieselfde nie, en ons gemeentes is nie altyd dieselfde nie. Ons ‘foto’ van God en Sy Kerk, en veral hoe Hy Sy Kerk in stand hou, verskil, maar twee dinge kan gelyk waar wees. My ‘foto’ en jou ‘foto’ verskil met betrekking tot onder andere fokus, komposisie en hoek, maar dit maak nie dat een van ons nie ʼn uil afgeneem het nie. Dit maak nie dat ons nie ʼn ‘foto’ van God en Sy kerk geneem het nie, doen dit?
ʼn Derde ding wat my opgeval het, was dat soos wat die ander twee uile deur die loop van die eerste dag elders skuilte gaan soek het teen die son se strale in die 40-grade plus se somershitte, die een uil heeltyd deur die venster ook na ons gekyk het. Ek wonder wat die uil gedink het. Ek wonder wat, as God so deur die venster na ons kyk, Hy sou gedink het? Wat sou Hy gedink het van alles wat ons ongelukkig maak, maar ook alles wat ons opgewonde maak? Wat sou Hy vir ons sê oor ons gesprekke, ons gebede en ons kerkwees-ook in die spesifieke vergadering? Sou God na ons kyk, en sê: “Arme Ek is Oupa Uil.” Of, dalk, net miskien, het Hy na ons gekyk en gesien hoedat ons, soos Ockert Meyer dit verwoord het, “…hunkerend en huiwerend soek na ʼn weg in die wêreld.”
As ek aan die uile met hulle wysheid dink, dan is ek dankbaar. Dankbaar om diensbaar te wees. Dankbaar dat ek soms my lyf in ongewone en ongemaklike spasies moet plaas om Sy Kerk te dien, om die Goeie Nuus te leéf. Dankbaar dat ons soms na buite kyk-buite dit wat nog altyd was, en voortdurend nuwe maniere ondersoek om Kerk te wees. Ek is nie skaam oor wat ons tydens ons vergadering gesê of gedoen het nie-selfs al het die uil ons voortdurend herinner dat ons in Sy tyd en met Sy Kerk besig is.
Soos die woorde van Flam 387 sing:
“Hier is U Kerk, U stel ons aan!
Ons is gekies-U gee ons U guns.
Laat U Gees oor ons elkeen kom!”


