Barmhartigheid is dieper as dade, dit is ‘n lewenswyse
👤 Wilmi Wheeler
Barmhartigheid. Dit is ‘n woord wat ons dikwels hoor in preke, wanneer ons self Bybel lees of wanneer ons te doen het met liefdagigheidswerk. Maar hoe dikwels dink ons werklik na oor wat dit beteken? Barmhartigheid is nie net ‘n enkele daad van goedhartigheid of ‘n eenmalige gebaar nie. Dit is ‘n lewenswyse, ‘n manier van wees wat die ons hele wese omvat en deur al ons handelinge, woorde en gedagtes tasbaar moet word.
Dit is immers wat Jesus van ons vra.
Diaconia, die sinode se Diens van Barmhartigheid
Diaconia, ‘n eenheidsbediening van die NG Kerk Sinode van Wes-Kaapland en die VG Kerk Kaapland, staan as Diens van Barmhartigheid aan die voorpunt van hierdie roeping. Hulle werk saam met 54 ringsverteenwoordigers om gemeentes se diakonale inisiatiewe te ondersteun en uit te brei.
In die lig van die kerk se roeping tot dienswerk, word ‘n reeks streeks-byeenkomste gehou waar Diaconia personeel, ringsverteenwoordigers en Badisa programbestuurders bymekaarkom. Hierdie byeenkomste het ten doel om grondvlakverhale te hoor, netwerke te bou en kritiese inligting deur te gee. Dit is ‘n gesamentlike poging om die diakonale hande en voete van die kerk uit te brei en te versterk.
Die opening van elke streeksbyeenkom is aan die hand van ‘n poëtiese Skrifgedeelte wat getuig van die barmhartige God wat aanspoor tot omvattende en praktiese dienswerk, Deuteronomium 24 vers 17 tot 22.
‘n Akroniem wat dikwels gebruik word om hierdie Skrifgedeelte toe te lig, is DIENS. Dit verteenwoordig die veelkantige boodskap van hierdie teks.
D = Dankbaar
Ons word twee keer in hierdie Skrifgedeelte herinner aan die gevangenisskap en verlossing van die Israeliete uit Egipte. Dit is ‘n oproep om nie te vergeet nie, maar om vanuit ‘n diep dankbaarheid te leef. Hierdie dankbaarheid word prakties bewys deur ons diens aan ander.
I = Imperatief
Die opdrag om barmhartig te wees, word tweemaal in hierdie Skrifgedeelte gegee. Dit is nie ‘n opsionele saak wat slegs deur die goedhartiges onder ons vervul moet word nie. Nee, die opdrag om barmhartig te wees en diens aan ons naaste te lewer, kom van die Here self. Dit is ‘n goddelike imperatief en as volgelinge van Christus moet ons gehoorsaam wees aan hierdie oproep.
E = Eensames
Aan wie moet ons barmhartigheid bewys? Hierdie Skrifgedeelte is baie duidelik: aan die eensames, die randfigure, die noodlydendes, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees. Dit is dié mense wat aan die periferie van die samelewing staan, wat dikwels verwaarloos of vergeet word. Ons word opgeroep om na hulle uit te reik en barmhartigheid in aksie te bewys.
N = Nood
Nood kom in verskillende vorme: regte, klere, voedsel ensovoorts. Dit is ons plig om hierdie nood direk aan te spreek en praktiese hulp te bied waar nodig. Deur dit te doen, lewer ons nie net materiële ondersteuning nie, maar dra ons ook by tot die bou van ‘n samelewing waar liefde en geregtigheid seëvier.
S = Seën
Saam met die opdrag om te dien, kom ‘n belofte van seën. Die Here belowe dat wanneer ons in gehoorsaamheid en barmhartigheid lewe, ons sy seën sal ervaar. Hierdie seën is nie net vir onsself bedoel nie, maar moet verder uitgedra word na die mense wat ons dien.
Van Gogh se Rooi Wingerd en die Diens van Barmhartigheid
Om hierdie beginsels van barmhartigheid verder te illustreer, plaas vir ‘n oomblik Vincent van Gogh se Rooi Wingerd langs hierdie Skrifgedeelte (Deuteronomium 24:17-22). Hierdie predikantseun (wat self ambisies vir die predikantsbediening gekoester het) was ‘n randfiguur teen wie menige onreg gepleeg is. Van Gogh het in hierdie skildery ‘n toneel uitgebeeld waar werkers swoeg in die wingerd terwyl die son sak.
Die eerste wat mens se oog vang, is die helder geel son wat die toneel verlig. Maar soos jy jou blik laat dwaal, word jy afgelei na die donkerder onderkant van die skildery waar die werkers steeds hard aan die werk is. Die son is aan’t sak, die dag is byna verby, maar die uitputtende hande-arbeid duur voort.
Hierdie toneel bring ons by die vraag: Word die regte van die werknemers gerespekteer? Word daar hulle behoeftes en ideale in ag geneem? Word trossies in genade agtergelaat wanneer die wingerd afgeoes word? Is God’s regverdige barmhartigheid ook hier?
Diaconia (as Diens van Barmhartigheid) se rol in gemeentes
Diens van barmhartigheid behoort nie net tot individuele goeie dade beperk te wees nie, maar moet ‘n omvattende benadering hê wat die hele gemeenskap betrek. Diaconia speel ‘n sleutelrol hierin deur gemeentes en ringe by te staan in liefdesdiens, maatskaplike dienste, profetiese stem, gemeenskapsontwikkeling en ekologiese diakonaat.
As kerk is ons geroep om nie net na onsself te kyk nie, maar om die hande en voete van Christus in die wêreld te wees. Diaconia help om hierdie roeping prakties uit te leef deur ondersteuning en begeleiding aan gemeentes en ringsverteenwoordigers te bied. Saam kan ons ‘n verskil maak in die lewens van diegene wat die meeste barmhartigheid nodig het.
Mag ons almal met hierdie gesindheid voortgaan om die Here se werk te doen, wetende dat ons diens nie net ‘n opdrag is nie, maar ook ‘n seën vir diegene wat dit ontvang en vir ons wat dit gee.
Vir meer inligting:
PSD: Diaconia
Ds. Barnard Steyn
barnard@kaapkerk.co.za