“Boundless Compassion” – Waar begin ‘n mens soek?
👤 DJ Muller
Ek het onlangs die voorreg gehad om ‘n geleentheid in die St. George’s-katedraal in Kaapstad by te woon waar mense van ‘n wye verskeidenheid gelowe byeengekom het. Die onderwerp was “Boundless Compassion”. Ek sien nie ander geloofstradisies as ‘n bedreiging vir my eie geloof nie, maar die ervaring was tog effens vreemd. Miskien was dit die feit dat die woorde “Assalamu alaikum” in ‘n Christelike kerk gehoor is, of die reuk van rook terwyl ‘n tradisionele Xhosa-geneesheer haar voorvaders verwelkom het. Op ‘n stadium het ek gewonder hoe die Anglikaanse kerk dit reggekry het om gasheer vir ‘n geleentheid soos hierdie te speel. Het hulle geweet waarvoor hulle hulself inlaat? Is dit enigsins toelaatbaar om op die rooi tapyt in ‘n bakkie vuur te maak? Wie het toestemming gegee?

Maar as jy verby die geloofseie groete en rituele kyk, hoor jy by elke spreker dieselfde behoefte: compassion. Grensloos. Ek hoor dat elke geloofstradisie daadwerklik streef na meer hiervan en maniere soek om dit nóg meer ‘n realiteit te maak. Dan dink ek weer aan die mat. Sien ek iets soos hierdie gebeur in ‘n NG-kerk? Waar is die brandblussers?
Dié geleentheid is aangebied deur die Cape Town Interfaith Initiative (CTII). Dit is gestig in 2000 na die Parliament of World Religions, en is ‘n dinamiese beweging wat poog om vrede, genesing en sosiale vooruitgang te bevorder in Kaapstad se godsdiens-diverse samelewing. Die CTII glo dat intergeloof nie net ‘n ideaal is nie, maar ‘n manier van saamleef met ander mense — ‘n praktyk van waardigheid, samehorigheid en hoop. Deur veilige ruimtes vir eerlike dialoog te skep en intergeloofsbetrokkenheid aan te moedig, werk CTII plaaslik en provinsiaal om vertroue te bou, trauma te hanteer en diversiteit te vier. Hulle missie is om juis in ‘n wêreld van verdeeldheid en lyding radikale compassion te bevorder.

Teen die agtergrond van ‘n reuse kruis in die agterkant van die katedraal staan ‘n jong Xhosa-meisie op en deel hoe sy oor compassion dink. Ek wonder nog wat dit is wat sy gebrand het in daardie bakkie. Dit was ‘n soeterige reuk. Was dit dagga? Ek voel nie snaaks nie, so seker nie. “I was repeatedly abused when I was younger,” sê sy. Ek vergeet van die brand en die rook. Ek sukkel egter om haar te sien van waar ek sit, so ek kyk maar na die kruis en luister na haar stem. Sy vertel hoe sy “bodies of pain” met haar saamdra. Hierdie pyn is direk veroorsaak deur haar mishandelaar. “Compassion is to engage my own bodies of pain, look into them and through them to see my abuser. Then I ask myself: Maybe he also has similar bodies of pain he carries with him, and that his actions towards me is born from within these bodies of pain.” Vir die eerste keer maak die onderwerp van die aand vir my sin. Nou weet ek ook hoekom ek hier is. Aan die einde van haar toespraak klap die mense lank hande. My oë bly vasgenael op die kruis daar ver. Ek wonder toe hoeveel mense wat nou vir haar hande klap, sien ook die kruis? Weet hulle dat dit waarna ons almal soek en waaroor ons vanaand hier praat, vervolmaak is aan die kruis?
Ek let weer op die argitektuur van die katedraal en besef dat hierdie “Christelike gebou” ons almal in hierdie oomblik huisves, maak nie saak wie ons is nie. Universele liefde vir elke mens op aarde. Alhoewel almal sekerlik oplet na die kruis, sien min die kruis vir dit waaraan dit ons werklik herinner.
Boundless compassion begin by God Drie-Enig. Sy compassion is ruim genoeg vir elke mens op aarde. En daar aan die kruis het Hy ook deur Sy eie pyn na my gekyk en gesê: “Hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Dit was lekker om saam met mense van verskillende kulture en gelowe “na compassion te soek”, en die wêreld sal al hoe meer na compassion smag – gelukkig weet kinders van die Here waar om te begin soek.




