Diaconia: Waar gasvryheid die taal van die kerk word

👤 Wilmi Wheeler

Ná die Diaconia-konferensie het ons gesels met iemand wat nie net die skip van hierdie diensgroep op koers hou nie, maar ook die hart van barmhartigheid goed ken. Nicola Visser dra meer as een hoed: sy is ’n boffin in administrasie, ‘n predikantsvrou en iemand met ’n agtergrond in maatskaplike werk.

En jy hoor dit in alles wat sy sê. Barmhartigheid is nie sommer net iets waaroor sy teoreties besin nie. Dit is haar lewe. Sy het al haar hande vuilgemaak. Sy weet wat dit is om barmhartigheid nie net te beplan nie, maar te lééf. “Gasvryheid is my love language,” sê sy met ’n glimlag. En volgens haar is dit ook die taal wat die kerk weer moet leer praat.

“Ons is almal deel van God se liggaam.”

Die goue lyn by die Diaconia-konferensie was die nagmaal, die saamwees. “Ons het saam om die tafels gesit, saam brood gebreek en geluister na mekaar. Ons het weereens besef dat ons almal deel is van God se liggaam.”

Diaconia is die diensgroep van die Wes-Kaapse sinode wat fokus op die kerk se barmhartigheidsroeping. Dit gaan nie net oor sop-en-brood nie. Dis nie net “gee vir die armes” nie. Dit is veel meer. Diaconia se nuwe fokusareas wys dit duidelik. Ses pilare waarop hulle hul werk bou:

  1. Pastorale sorg – Want mense het meer as kos nodig. Hulle het hoop nodig, troos, iemand wat luister.
  2. Ekologie – Want ons kan nie van barmhartigheid praat en die aarde waarop ons almal leef vernietig nie.
  3. Profetiese stem – Om onreg uit te wys. Om te sê: “So kan ons nie aanhou nie.”
  4. Liefdadigheid – Ja, daar is steeds ’n plek vir gee. Maar dit moet nie daar eindig nie.
  5. Gemeenskapsontwikkeling – Dis waar die hart van die saak lê. Bou sáám.
  6. Maatskaplike dienste – Die professionele steunpilare wat mense help regop bly as hulle nie meer self kan nie.

Nicola vertel dit help nie die kerk bly net praat van “gee vir armes” asof dit altyd ’n eenrigtingstraat is nie. Die tyd het gekom om te sê: ons wil nie net goed gee vir mense nie, ons wil sáám met mense bou.

“Barmhartigheid is nie moeilik nie,” vertel sy verder. “Ons moet net begin gee, ja, maar nie in ’n charity-manier nie. Ons moet gemeenskappe toerus en bemagtig.”

Hier is waar verhoudings ter sprake kom. Verhoudings is nie opsioneel nie, dis die fondament. “Ons moet verstaan dat barmhartigheid begin by luister. By teenwoordigheid.”

Wat sê predikante self?

Voor die konferensie het Diaconia ‘n Google Form aan predikante gestuur om uit te vind watter werkswinkel hulle wil bywoon. Nicola sê die antwoorde was in baie opsigte hoopvol. Baie predikante voel dalk dat hulle nie in staat is om ál die probleme te hanteer wat by hulle deur afgelaai word nie. Hulle voel dalk hul het nie genoeg kennis of kapasiteit om met trauma, armoede, verslawing en maatskaplike komplekse probleme te werk nie.

Maar – en dis ’n belangrike maar – hulle wil leer. Hulle wil bemagtiging word. Hulle wil hande vat. Hulle wil weet: “Hoe maak ons nou?” En dit is presies waar Diaconia wil intree. Nie om die werk vir predikante te doen nie, maar om hulle toe te rus sodat húlle gemeenskappe kan bedien. Sodat hulle met hoop en moed, met vaardigheid en wysheid, weer in die wêreld kan instap.

Diens is dissipelskap

Wat Nicola uitstraal, is nie net ’n passie vir Diaconia se administrasie nie. Sy glo gasvryheid is wat dit beteken om kerk te wees. Om mense raak te sien. Om te luister. Om nie weg te kyk as iemand ly nie. En dit is nie altyd maklik nie. Sy erken dat sy eers later in haar lewe agtergekom het presies hoe belangrik verhoudings in barmhartigheid is. “Jy kan nie ingaan, iets doen en wegloop en verwag dat dit volhoubaar moet wees as jy nie verhoudings het met die mense nie. Want dit gaan oor vertroue. Onthou, jy gaan in as ‘n gas in iemand anders se gemeenskap. Jy behandel hulle met vetroue en hulle behandel jou met vertroue. En dan staan jy by jou woord – jy doen wat jy sê.”

Sy wéét dat mense nie net van barmhartigheid hoor in ’n preek oor Lukas 10:25-37 nie – hulle voel dit in hoe jy hulle hanteer. In hoe jy hulle ontvang. In hoe jy opdaag, keer op keer.

“Ek het hoop vir die kerk,” sê Nicola aan die einde van ons gesprek. En dis nie ’n vrome cliché nie. Jy glo haar. Sy het hoop omdat sy mense gesien het wat wíl help. Omdat sy weet daar is predikante wat, ten spyte van hulle eie moegheid, steeds opdaag. Gemeentes wat oop is vir nuwe maniere van diens. En gemeenskappe wat nie net ontvangers wil wees nie, maar medewerkers in die bouwerk van God se koninkryk.

“Hierdie hoop broei al vir ’n tydjie binne my. Want ek sien persoonlik hoe mense groei. Ek voel ons luister meer vir mekaar. Ons luister ook vir die Here. En hierdie konferensie bevestig dit net vir my – ons kan dit saamdoen!”

Sy lag wanneer sy erken: “Ek het nie rêrig getraín om ’n onderhoud te doen nie – ek wou dit nie eintlik eers doen nie. Maar ek besef ook: ek het ’n stem. En dalk moet mense dit hoor.”

Want hierdie is nie die soort kerk wat stil in ’n hoekie sit en bid dat dinge beter gaan nie. Diaconia droom van ’n kerk wat opstaan, wat opdaag, wat hande vat en wat bereid is om hulle hande vuil te maak. ’n Kerk wat verstaan dat barmhartigheid nie net iets is wat ons aan ander bewys nie. Dis iets wat ons sáám leef. ’n Kerk wat weet dat diens nie opsioneel is nie. Dis dissipelskap.

En as jy ooit wonder of daar nog hoop is, gaan gesels met Nicola Visser. Sy sal jou herinner.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: