Om die 18de kameel te vind: Leierskap as moontlik-maker

👤 DJ Muller

Daar is ’n storie van ’n man wat in ’n besige winkelsentrum stap met ’n tweejarige seuntjie in ’n stootwaentjie. Die kind is woelig en moeilik, maar die pa herhaal aanhoudend met ’n kalm stem: “Dis nie so erg nie, Billy. Dit sal okay wees, Billy. Jy gaan dit maak, Billy.” ’n Vrou wat dit sien, prys die man omdat hy so mooi met klein Billy praat, waarop hy antwoord: “Mevrou, my seuntjie se naam is Patrick. Ek is Billy”.

Hierdie rubriek is ’n refleksie op die aanbieding van Johan van der Merwe tydens die moderamen van 10-11 Maart 2026. Johan is uniek toegerus om oor die raakvlak tussen kerk en die moderne wêreld te praat. Hy is ’n deeltydse leraar by die Stellenbosch Moedergemeente met ’n PhD in sistematiese teologie (fokus op die etiek van liturgie en lewe), maar ook ’n besigheidsnavorser met ’n MBA. Tans is hy voltyds werksaam by Prilexus AI as ’n data- en kunsmatige intelligensie-strateeg. Sy unieke invalshoek kombineer die diepte van die teologie met die vinnige veranderinge van die tegnologiese wêreld en hy daag ons uit om die communio sanctorum (die gemeenskap van die heiliges) te herverbeel as die communio possibilium – die gemeenskap van die moontlik-makers.

Die wêreld van “WTF 2025”

Ons leef in ’n tyd waar alles oornag skynbaar verander het. Johan verwys na die webwerf “WTF Happened 2025” om te illustreer hoe vinnig tegnologie en die samelewing skuif. Dit voel asof ons op 31 Desember 2025 gaan slaap het en in ’n onherkenbare 2026 wakker geword het. In so ’n wêreld is die eerste taak van ’n leier om soos “Billy” kalm te bly. Maar kalmte alleen is nie genoeg nie; ons het leiers nodig wat nie net die storms trotseer nie, maar wat nuwe paaie oopmaak.

Die 18de kameel en die krag van moontlikheid

Die kern van Johan se boodskap lê in die storie van die 17 kamele. ’n Vader laat in sy testament 17 kamele na wat tussen drie seuns verdeel moet word: die een kry die helfte, die ander ’n derde en die laaste ’n negende. Die wiskunde werk nie uit nie en die seuns sit vas in konflik. Dan kom ’n wyse vrou en voeg haar eie kameel – die 18de kameel – by die groep. Skielik klop die somme, die verdeling word gemaak en sy kry haar kameel terug.

Die 18de kameel is dit wat ’n situasie wat vasgeloop het, weer losmaak. In leierskap is daar pessimiste wat net hindernisse sien en optimiste wat soms in “toxic positivity” verval deur struikelblokke te ignoreer. Die possibilis, of moontlik-maker, erken die realiteit van die pyn en onsekerheid, maar soek aktief na daardie “18de kameel” om die onmoontlike moontlik te maak.

Die gereedskapkis van die moontlik-maker

Johan leen by die onderhandelaar William Ury ’n raamwerk vir hierdie nuwe styl van leierskap, wat uit drie bene bestaan:

  1. Die Balkon (The Balcony): Wanneer dinge skeefloop, is ons eerste reaksie dikwels angs of aanval. Die moontlik-maker stap egter na die balkon toe om van bo af na die situasie te kyk. In plaas van die paniekbevange “Wat gaan hier aan?”, vra die gelowige leier op die balkon: “Wat is God besig om in hierdie situasie te doen?” Dit is ’n plek van onderskeiding waar jy jou reaksie opskort om beter te verstaan.
  2. Die Brug (The Bridge): ’n Leier moet ’n brug wees wat nie net na mense se “posisies” kyk nie, maar na hul diepste behoeftes. Om ’n brug te wees is egter nie gemaklik nie; mense loop oor ’n brug en jy word dikwels deur albei kante verdink. Tog is dit die enigste manier om mense te help om mekaar werklik te verstaan.
  3. Die Derde Kant (The Third Side): Dit behels om die gemeenskap en beïnvloeders te mobiliseer sodat probleme nie net gevegte tussen twee partye bly nie, maar dat die hele “swerm” help om oplossings te vind.

Hoop as ’n aktiewe keuse

Leierskap beteken nie dat jy nooit bang is nie. Johan beklemtoon dat goeie leiers vrede gemaak het met angs as ’n konstante metgesel. Die geheim is dat hul hoop groter is as hul angs.

Hy gebruik die beeld van ’n sirkusarties op die swaai: Daar is ’n vreesaanjaende oomblik in die lug waar jy die een swaai gelos het, maar die volgende een nog nie gevang het nie. Peterson noem dit ’n moment van “extraordinary alliance”. In daardie onsekerheid is jou sintuie opgeskerp; jy is gefokus en lewendig. Onsekerheid is nie die vyand nie, maar ’n geleentheid vir groei.

Moontlikheid versus waarskynlikheid

As ’n KI-strateeg wys Johan op ’n kritieke verskil: KI werk met waarskynlikhede (probabilities), gebaseer op data uit die verlede. Maar mense, as die Imago Dei (beeld van God), werk met moontlikhede (possibilities). Ons kan die nuwe raaksien en in die lewe roep, selfs al sê die data dit is onwaarskynlik.

Ware leierskap in hierdie tyd is nie dwingend (coercive) nie, maar gesaghebbend (authoritative). Dit is leierskap wat sê: “Kom saam met my”. Die gesag lê nie in die posisie van die leier nie, maar in die visie van waarheen ons op pad is – ’n eskatologiese prentjie van God se wêreld.

Die musiek van die toekoms

Johan sluit sy refleksie af met George Frederic Watts se skildery, Hope. Dit toon ’n vrou op ’n aardbol met ’n lier waarvan al die snare gebreek is, behalwe een. Sy is vooroor gebuig, nie uit depressie nie, maar omdat sy fyn luister na die musiek van daardie een oorblywende snaar.

Moontlik-makers is mense wat die vermoë het om die musiek van die toekoms te hoor te midde van die geraas van gebreekte snare. Hulle is leiers wat kies vir inkarnasie (om werklik teenwoordig te wees in die pyn van hul gemeenskap) en innovasie (om nuwe, verbeeldingryke maniere te vind om daardie pyn aan te spreek).

In ’n Suid-Afrikaanse konteks waar ons dikwels voel ons bou brûe na nêrens, is Johan se uitnodiging aan die moderamen helder: Moenie net ’n slagoffer van verandering wees nie. Word ’n moontlik-maker. Bly kalm, staan op die balkon, en luister fyn na die musiek van hoop wat God reeds besig is om te speel. Want soos Filippus vir Nataniël gesê het: “Kom kyk”. Daar is altyd ’n 18de kameel wat wag om gevind te word.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: