Die dag toe rooi komberse harte toegedraai het

👤 Wilmi Wheeler

Soms, wanneer jy dit die minste verwag, steek iets van God se teenwoordigheid uit in ’n gewone oomblik. So vertel ds. Hennie du Pisanie van Kuilsivier-Suid: “Soms is daar ‘n verrassing wat sy kop uitsteek tydens ‘n Sondagoggend diens.” Terwyl Hennie soos gewoonlik die siekes aankondig, gebeur daar iets onverwags.

Die kerkdeur swaai oop en dertig jong rugbyspelers, natgereën en koud, kom ingestap. “Jammer ons is laat!” roep die afrigter met ’n breë glimlag. “Ons is ‘n toerspan van die Baai en het gewonder waar ons kerk kan bywoon … nou is ons hier!”

En so gaan sit hulle toe.

“Ons is ’n pelgrimgemeente,” vertel Hennie. “’n Tuiste waar reisigers kan stilhou en asem skep, weer hoop kan vind en moed kry vir die reis wat voorlê. Maar toe die 30 pelgrims onverwags die kerk binne stap, wonder ek in my binneste hoe hierdiejong hoërskool rugbyspelers, vreemdelinge, iets van pelgrim-wees huis toe kan vat. Hulle lyk koud. My brein werk vinnig. Het ons genoeg koffie? Is daar koekies? Gaan die boodskap van vanoggend hulle bereik?”

Die teks dié oggend kom uit Lukas 9, waar Jesus sê: “Jakkalse het gate, en voëls neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n plek om sy kop neer te lê nie.”

Dit is ’n eerlike uitnodiging: Dis nie altyd maklik om saam met Jesus te reis nie. Dit vra van jou om los te laat, om op die onbekende aan te beweeg. Dis ‘n pad sonder waarborge van veiligheid en gemak. Dis ‘n pelgrimsreis wat dikwels in die onbekende plaasvind.

Hennie vertel van nog iets onverwags wat tydens die dankoffertyd gebeur het. Tannie Kitta bring vir hom ‘n briefie. “Dominee, ek dink ons moet vir elkeen van die seuns ‘n rooi kombers gee,” staan daarop geskrywe. “Instinktief weet ek van wie die profetiese boodskap kom.”

Want dit is nie sommer net enige kombers nie, dit is die rooi komberse wat die gemeente pas begin uitdeel het as deel van hul Winterhoop-projek. En die simboliek daaragter is kragtig: die rooi kombers is ’n teken van Jesus se liefde, ’n uitnodiging om iemand toe te draai wat koue en isolasie ervaar.

Wat volg, is ’n beweging van liefde. Lidmate kom vorentoe, vat kombers na kombers en vou dit sagkens om elke 16-jarige seun se skouers. Sommige kyk verbaas, ander stil. Maar almal word ingesluit. ’n Woordlose gebed, toegedraai in warm rooi.

Na die diens kuier almal saam oor koffie en brownies. Die seuns sit nog met die komberse om hul lywe. Nie uit koue alleen nie, maar dalk ook omdat hulle iets daarvan voel: “So asof Jesus se liefde warm in hulle harte brand en ons aan mekaar bind.”

Hulle het as vreemdelinge opgedaag. Maar hulle vertrek as geseënde pelgrims. Met rooi komberse in hulle sporttasse, en dalk, vir ewig, in hulle herinnering, reis hulle verder met iets tasbaars om vas te hou, ’n klein teken van ’n groter Waarheid.

Dis ’n storie wat herinner: geloof gebeur nie net in preke nie. Dit leef in luister, reageer en in rooi komberse. In oomblikke van gasvryheid, in spontane dade van liefde, gebeur die Koninkryk van God.

Soos Hennie dit verwoord:

“Dalk sal hulle hierdie oomblik in die toekoms herroep, dat iewers in die Kaap, mense was wat genoeg omgegee het om hulle te ontvang en in Jesus liefde toegedraai het.”

Kuilsrivier-Suid, rooi komberse
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Amptekonferensie: Wat ons herbevestig en waaroor ons moet verder verbeel

  • Die kerk is heilig, maar nie humorloos nie!

  • Arme ek is oupa uil, maar God kyk steeds na my