Die kerk is heilig, maar nie humorloos nie!
👤 Wilmi Wheeler
Daar is sekere dinge wat jy eenvoudig verwag wanneer jy op ’n Sondagoggend in die kerkbanke inskuif. ’n Lied of twee. ’n Gebed. ’n Preek wat jou dalk uitdaag, dalk troos. Wat jy nié verwag nie, is dat die dominee se PowerPoint skielik oorskakel na iets wat lyk soos die klimaks van ’n sci-fi fliek.
En tog, by Swartland Moedergemeente in Malmesbury, is dit presies wat onlangs tydens ‘n erediens gebeur het.
Een oomblik is die liturgie soos gewoon, maar toe begin Jacobus Maass sy preek… met chaos. Skielik hang daar ruimteskepe bo die kerktoring. Laserstrale sny deur die lug. Die gemeente is skielik die middelpunt van ’n intergalaktiese aanval. Vir ’n paar sekondes voel dit asof jy per ongeluk in die verkeerde gebou ingestap het.

Hierdie grafika, wat Jacobus gegenereer het met behulp van ChatGPT, is nie net vir skokwaarde nie. Dit vorm deel van sy preek: “Deesdae weet ons nie meer wat om te glo of wat om te vertrou nie,” vertel hy.
Maar die boodskap kom met ’n knipoog. ’n Verrassing. ’n Klein kraak in die verwagting dat alles in die kerk altyd ernstig moet wees. Want nog voordat die woorde ten volle by die mense in die kerkbanke kon land, het iets anders reeds gebeur: Mense het geglimlag. Skouers het gesak. Die atmosfeer binne die liturgiese ruimte het asem gekry.
En skielik skuif die toneel. Van aliens… na eerlikheid. Van verwarring… na Jesus wat ons leer hoe om te bid tydens die bergrede.
Moet ons dan nie altyd ernstig in die kerk wees nie?
Om die verrassing van so ’n oomblik regtig te verstaan, moet ’n mens dalk eers vra: Hoekom laat dit ons effe ongemaklik voel om in ’n kerk te mag lag? Êrens langs die pad het baie van ons die idee begin glo dat kerk en humor nie heeltemal mag meng nie.
As jy spesifiek na die geskiedenis van die NG Kerk kyk, is dit nie moeilik om te sien waar dit dalk begin het nie. Die erfenis van streng Calvinistiese invloede het ’n groot klem gelê op orde, dissipline en eerbied. Geloof was ernstig. Die lewe was ernstig. En die kerk was die plek waar daardie erns amper verdubbel het.
Daar was goeie redes daarvoor. Tye van onsekerheid, politieke spanning en sosiale verandering het gemaak dat die kerk dikwels ’n anker van stabiliteit moes wees. Iets wat nooit gewankel het nie en sodoende ligtelik opgeneem mag word nie.
Maar soms, in die proses om standvastig te wees, het iets stil-stil begin verdwyn: ligtheid.
Nie oppervlakkigheid nie, maar ligtheid. Die vermoë om te glimlag. Om met jouself te kan spot. Om te erken dat ons, ten spyte van ons teologie en tradisies, steeds mense is wat soms struikel, soms verkeerd hoor en soms lag op onvanpaste oomblikke.
En dalk het daardie verlies gemaak dat kerk vir baie mense begin voel het soos ’n plek waar jy eers moet regkom voordat jy kan inkom. Waar jy jou lag by die deur moet los saam met jou selfoon.
Maar dit lyk asof daar weer ‘n skuif aan die kom is met die nuwe generasie dominees wat die kansels betree.
Meer en meer gemeentes ontdek weer die krag van kreatiwiteit, stories en van oomblikke wat jou verras. Nie om die Boodskap te verdun nie, maar om dit juis nader aan mense te bring. Dit maak die Goeie Nuus meer tasbaar en onthoubaar.
Selfs al beteken dit dat ’n paar denkbeeldige aliens vir ’n paar sekondes oor die kerkgebou moet sweef.

Hoekom maak lag saak in die kerk?
Dis juis daarom dat ’n oomblik soos dié by Swartland Moedergemeente soveel trefkrag het. Nie net omdat dit snaaks is nie, maar omdat humor ’n unieke vermoë het om mense te bereik waar woorde soms nie kan nie.
Jacobus se preek het nie by die visuele grap gestop nie. Inteendeel, dit het vinnig beweeg na Jesus se bergrede en spesifiek na hoe Hy ons leer om te bid. En wat daar uitgestaan het, was verrassend eenvoudig, maar iets wat ons soveel keer vergeet: Ons hoef nie voor te gee nie.
In ’n wêreld waar ons konstant wonder wat eg is en wat nie, nooi gebed ons terug na iets eerliks. “In ’n wêreld vol van so baie valshede, kan ons net met ons eerlike self met die Here kom praat,” vertel Jacobus. “Met die woorde wat ons het. Die probleme wat ons het. Die gedagtes wat ons het… Ons kan net na die Here toe kom sonder enige voorgee, sonder om slim te probeer wees. Net soos ons is. Met al ons geluk, swaarkry, met alles wat goed gaan, selfs met al ons humor.”
Daar is iets bevrydends hierin: “Ons hoef nie vals by die Here te wees of by Hom voor te gee nie.”
En dalk is dit presies waar humor in die kerk sy plek vind. Dit help ons om die masker effens te laat sak. Om te onthou dat ons nie hier is om te presteer nie, maar om in verhouding te leef.
Vreugde is immers ook een van die vrugte van die Gees. Nie ’n byvoeging tot geloof nie, maar deel van sy kern. Tog behandel ons dit soms soos ’n bonus, iets wat eers kom nadat al die ernstige werk gedoen is.
Maar miskien werk dit ook andersom. En miskien is dit wat moderne gemeentes weer begin ontdek. Dat kreatiwiteit nie die vyand van die evangelie is nie, maar dikwels ’n bondgenoot. Dat ’n oomblik wat mense laat lag, ook die oomblik kan wees wat hulle laat luister.
’n Gemeente wat lag, leef
Die beeld van ’n kerkgebou onder aanval deur aliens gaan waarskynlik nie gou vergeet word nie. Dis die soort oomblik wat sal vassteek in mense se gedagtes en wat sonder twyfel oorvertel sal word. Wat dalk selfs iemand laat terugkom net om te sien wat volgende gebeur.
Maar meer as dit, dra dit ’n subtiele boodskap: Hierdie is ’n plek waar daar ruimte is vir menslikheid. Waar geloof nie net gedra word deur erns nie, maar ook deur vreugde.
Ons leef immers altyd in die nadraai van die opstanding. Nie net een Sondag van die jaar nie, maar elke dag daarna. En die opstanding is, op sy diepste vlak, ’n ontploffing van lewe. ’n Ommekeer van alles wat swaar en finaal gelyk het.
Miskien is dit juis wat gemeentes nodig het om te onthou: dat heiligheid en vreugde nie teenpole is nie. Dat ’n kerk nie minder eerbiedig is omdat daar gelag word nie, maar dalk juis meer getrou aan die lewe wat dit verkondig.


