Die moderamen wat nie met ’n agenda begin het nie

👤 Wilmi Wheeler

Die hitte slaan jou eerste.

Nog voor jy behoorlik uit jou motor klim, voel jy dit. Wellington se somer lê swaar oor alles, soos ’n warm kombers wat niemand afgeskud kry nie. Teen die tyd dat die oggend begin, wys iemand se foon al 38 grade. Selfs die skaduwee help nie regtig nie.

Binne in die gebou is dit koeler, maar net-net. Mense waai hulself met papiere koel. Waterbottels word gereeld volgemaak. Stoele skuif oor die vloer. Die gewone klein ritueel van ’n vergadering wat regmaak om te begin.

Op die tafel lê die agenda. Netjies gedruk. ’n Lys van sake wat wag. Die soort lys wat maklik ’n hele dag kan vul.

moderamen

Maar die vergadering begin nie daar nie.

Iemand lees ’n teks. Ek kan nie eers onthou wie eerste gepraat het nie. Net dat die kamer stadig stil geraak het.

Toe bid iemand.

Nie haastig nie. Nie die tipe gebed wat soms net ’n opening is sodat ons by die “regte werk” kan uitkom nie. ’n Egte gebed.

Daarna praat iemand anders. ’n Gedagte oor die teks. Nog iemand voeg iets by. Nog ’n gebed. Dan praat mense om die tafels met mekaar.

En so begin die oggend ontvou op ’n manier wat nie op die agenda was nie.

Minute gaan verby. Dan nog ’n paar.

Ek kyk op ’n stadium weer na die agenda wat voor my lê. Die eerste punt wag nog geduldig. Niemand het dit oopgemaak nie.

Wat my toe opgeval het, was waar die moderatuur sit. Nie voor, agter ’n tafel, soos bestuurders van die vergadering nie. Hulle sit tussen die mense. Hulle is deel van die kringe.

Nie bo die gesprek nie, maar deel daarvan.

Teen die tyd wat iemand uiteindelik weer na die agenda kyk, het meer as ’n uur en ’n half verbygegaan. Tog voel dit nie asof tyd gemors is nie.

Inteendeel… Iewers in die gesprek maak Marinus Theron ‘n opmerking, amper terloops: “Dit is vir ons belangrik om eers met die Here besig te wees voordat ons oor die sake van sy kerk praat.”

Dit klink amper vanselfsprekend wanneer jy dit hoor. Maar eintlik gaan dit teen ons instink.

moderamen

Ons leef mos anders.

Wanneer dinge besig raak, raak ons gebede korter. Wanneer die lysies lank raak, sny ons gewoonlik die stilword eerste. Ons bid vinniger, net om te kan sê ons hét gebid en dan spring ons aan die werk.

Dis nie noodwendig kwaadwillig nie. Dis net hoe mense funksioneer wanneer daar baie is om te doen.

Daarom was dit so gepas toe Marius Nel ‘n sêding van Martin Luther deel: “Ek het so baie om te doen vandag dat ek baie meer sal moet bid.”

Vir moderne ore klink dit amper verkeerd. As jy baie het om te doen, is daar mos nie tyd vir gebed nie.

Maar Luther het iets gesnap wat meeste van ons nog nie het nie. Gebed is nie die pouse tussen die werk nie, dit is deel van die werk. Of dalk kan ons dit nog verder vat: dit is die plek waar ons weer onthou Wie eintlik besig is.

Wanneer ’n groep mense by die moderamen saam stil word voor God, skuif die fokus. Die gesprek word minder oor strategie en meer oor onderskeiding. Minder oor wat óns moet regkry en meer oor waar God reeds besig is.

Dit verander die atmosfeer in ’n kamer.

Jy hoor dit in hoe mense praat. Jy sien dit in hoe mense luister. Selfs verskille klink anders wanneer almal eers saam voor God stil was.

En dalk is dit die ding wat my die meeste bygebly het van daardie twee warm dae in Wellington. Wat daar gebeur het, het nie gevoel soos die begin van ’n vergadering nie. Dit het gevoel soos ’n ontmoeting.

Net ’n klomp gelowiges wat stadig genoeg geraak het om saam te bid, te luister en te onthou dat die kerk nie eerste aan die beweeg is nie. God is.

En miskien lê daar iets belangrik daarin vir die kerk vandag. Ons kan maklik dink ons taak is om die kerk te bestuur. Om planne te maak. Om agendapunte een vir een af te merk.

Maar hierdie moderamenvergadering het ons kom herinner: Voordat ons oor God se kerk praat, moet ons eers met God self besig wees.

En soms beteken dit die agenda kan maar ’n uur en ’n half wag.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Amptekonferensie: Wat ons herbevestig en waaroor ons moet verder verbeel

  • Die kerk is heilig, maar nie humorloos nie!

  • Arme ek is oupa uil, maar God kyk steeds na my