Die NG Kerkargief se stories is nie vol stof nie!
👤 Wilmi Wheeler
Daar’s ’n sekere beeld wat in jou kop opkom as iemand die woord “argief” sê. Waarskynlik ’n donker vertrek vol stof, bokse, papiere so oud hulle begin al geel raak en ’n streng tannie met ’n bolla en ‘n bril vas aan ’n kettinkie. Dalk kom die reuk van motbolletjies ook by jou op. Maar o, hoe verkeerd is ons!
Die NG Kerkargief is nie ’n stoffige graf vir dokumente nie. Alles behalwe! Dit is ’n lewendige hartklop van stories, name en gebeure wat oor eeue heen ons geloofsgemeenskap gevorm het. Dis ook nie net ou kerkraadsvergaderings se notules en doopregisters nie. Dis mense. Dis jou ouma se trane op haar trousertifikaat, jou oupa se handskrif in ’n notuleboek, die eerste sendingaksies se verslae, die briewe tydens oorlog en droogte. Dit is lewens in ink vasgevang.
Magda Christians, van die VGK Zionskerk in die Paarl, het dit eerstehands beleef. Haar gemeente het onlangs die argief besoek en sy vertel hoe verstom sy was oor die skatte wat daar lê. “Mens dink nie daaraan hoeveel werk gedoen word om ons kerk, en eintlik ook ons land, se geskiedenis in een gebou saam te hou nie,” sê sy. “Ek hoop dit bly vir altyd daar vir ons nageslag. Vir my is dit belangrik dat ons ons geskiedenis bewaar.”
En sy’s reg. Want ons dink soms dat geskiedenis vanself bewaar word. Maar dit doen nie. Iemand moet die foto’s reguit plak, die name sorteer, die dokumente beskerm teen tyd, wind en weer. Daar sit mense, regte mense, met ’n liefde vir stories, en sorg dat wanneer jy eendag wil weet wie die eerste leraar in jou gemeente was, of watter vrouens in 1953 die eerste sopkombuis begin het, jy ’n antwoord kan kry.



Ek weet wat jy dink: “Ja, maar dis seker vrek vervelig.” Nie eers ‘n bietjie nie. ’n Argiefbesoek is soos ’n tydmasjien sonder dat jy die gevaar loop om in ’n ander era vas te sit! Jy klim in en stap uit tussen name en gebeure wat jou gemeente en jou land gevorm het. Skielik is jy nie meer net in 2025 nie. Jy’s saam in die kerkbanke van 1898, jy hoor die klok lui vir die eerste Pinksterdiens, jy sien hoe ’n kerkraad sukkel met die vraag of hulle nou werklik elektrisiteit moet inbring of eerder by gasligte moet hou.
En die beste deel? Enige gemeente is welkom om die argief te besoek. Daar’s geen geheime wagwoorde of eksklusiewe lidmaatskap nie. Bel net vir Diederick en reel ’n toer. Trek gemaklike skoene aan, want jy gaan wil rondloop. Jy gaan wil vra, lees, kyk en moontlik lag oor die stylvolle snorre en hoede op die ou foto’s.
Dis maklik om te dink ons geloof is net die hier en nou: Sondae, eredienste, vrywilligers, sopkombuise, WhatsApp-groepe. Maar die argief herinner dat ons deel is van ‘n baie groter, veel ouer en voller storie.
So, volgende keer as iemand vir jou sê “ons moet na die argief toe gaan”, moenie kreun nie. Sien dit as ’n avontuur, ’n reis deur tyd, ’n stukkie geselskap met die mense wat die pad voor jou geloop het. Want in die stil rakke van die NG Kerkargief wag daar stemme… en hulle is alles behalwe stil.


