Die Sondag toe Jesus by ons erediens ingebreek het
👤 Chris Wheeler
Daar is Sondae wat jy as dominee nooit sal vergeet nie. Sondae wat jou hele verstaan van kerk, van liturgie, van Jesus self oopbreek. Nie omdat die musiek besonders mooi was nie of omdat die kerkbanke vol gesit het nie, maar omdat iets gebeur wat jou asem wegslaan. Só ’n Sondag was op 24 Augustus 2025 in Bellville Vallei.
Ek deel graag ’n kort getuienis oor hierdie erediens. Soos gewoonlik het ons ’n paar minute ná nege begin. Ek gee gewoonlik vir die gemeenskap van gelowiges ’n bietjie ruimte om gemaklik hul plek te vind en om by hulle medegelowiges in te loer. Die tema vir die dag was: Die kernbesigheid van die kerk, aan die hand van Matteus 25:31-46. Die boodskap was eenvoudig: Die kernbesigheid van die kerk is om die evangelie te verkondig. Met meer as net woorde, maar met dade van omgee.
Ek het net begin gesels oor die teks, toe iets onverwags gebeur. Een van ons lidmate doen iets wat sy nooit doen nie. Sy spring skielik op. Haar gesig ernstig. Sy stap haastig in die rigting van die sy-ingang van die kerkgebou, die kloktoringdeur. Ek was effe onkant gevang, my ritme gebreek.
Toe besef ek waarom. Sy kom stadig terug… en langs haar, Jean.
’n Bekende gesig. Vir ons almal. Jean is ‘n man wat dikwels om die kerkgebou rondhang. Soms slaap hy daar, soms mors hy, soms gebruik hy ons dreine as ’n toilet. Hy is altyd effens verdwaal in sy eie wêreld. En nou het hy tydens die erediens probeer inbreek.
Ek wens ek kon sê my eerste reaksie was rustiger, maar dit was nie. Onmiddellik het my bloed begin kook. My eerste gedagte: Jean, jy ken my! Ons het al saam koffie gedrink en ek het na jou storie geluister, jou probeer help. Nou sal jy wraggies probeer inbreek!
Die lidmaat het hom ingenooi, maar hy sit toe net buite die ingang. Ek het hom nader geroep en gevra om eerder in die voorste bank te kom sit. Deels omdat ek hom wou dophou. Grotendeels omdat ek wou hê hy moet verstaan: hy kan volgende keer by die voordeur instap as hy wil kom aanbid. Hy is welkom.
Ek het asemgeskep, myself probeer herfokus. Ek lees weer Matteus 25, maar hierdie keer is daar iets anders. Die teks wou nie meer net “teks” wees nie. Die gebou het anders gevoel, anders geruik. Die gemak van ons genoegsaamheid is skielik gekonfronteer met iemand wat niks het nie.
Wat Jesus gesê het in Matteus 25:40
Die woorde van Matteus 25:40 weergalm in die kerkgebou:
“Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Die Here praat met my, net daar en dan, terwyl ek besig is om te preek. Skielik besef ek: Jean het nie die diens onderbreek nie. Hy was die diens.
Na die diens het lidmate seker gemaak Jean het nuwe skoene, iets warms vir sy lyf en iets vir sy keel. Hy is op ’n liefdevolle manier herinner: jy hoef nie weer in te breek op ‘n Sondag nie. Jy kan by die hoofdeur inkom, saam met ons.
Een lidmaat, wat my gewoonlik ná ’n erediens ’n lang WhatsApp stuur met indrukke van die preek, het daardie dag net kortliks geskryf:
“My liewe ds. Chris, die preek sou nie dieselfde impak gemaak het as Jean nie probeer inbreek het nie.”
Terwyl ek hierdie skryf, onthou ek weer die aanhaling van Bonhoeffer wat voor die diens op die skerm vertoon was:
“Die kerk is net kerk as dit vir ander bestaan.”
Op 24 Augustus het die woorde waar geword. Nie net in ’n preek nie, maar in ’n oomblik van ongemak, van ontydige ontwrigting en van heilige inmenging.


